Dae lank het 'n storm die kus van dié gewilde toeristemekka gekarnuffel.

En toe die wind en die see eindelik ophou tier, maak die mense van Kreta 'n vonds wat hulle behoorlik laar ril en kopkrap. Want so 'n lelike gedierte het niemand nog ooit gesien nie. 

Die vet, haarlose dier lyk soos 'n klein seekoei, het sommiges gegis. Ander het bespiegel dis dalk 'n vreemde soort rob, hond, skaap, of selfs 'n mengsel van al hierdie diere.  Maar nee . . . 

Wat dit ook al is, met so iets het selfs die vissers van Kreta nog ooit te doen gehad nie. Hulle is immers deeglik bekend met die lewende skatte en buie van die Mediterreense See. Maar nie eens die ryke mitologie van hierdie deel van die aardbol verwys na so 'n gedierte nie.

grillerige gedierte
Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

In foto's van die gedierte wat tussen die rommel lê wat deur die storm op die strand by Hersonissos uitgespoeg is, lyk dit leweloos. Ook maar goed, het sommige toeskouers waarskynlik heimlik gedink. Want die vreemde dier het party eilandbewoners die skrik op die lyf gejaag. 

grillerige gedierte
Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

Selfs die kenners kap krop. Maar Petros Lymperakis, die kurator van werweldierversamelings by die Natuurhistoriese Museum van Kreta, meen die gedierte is glad nie so uitheems nie.

Hy dink dis dalk net  'n doodgewone ratel wat elders in die water beland en moontlik verdrink het, voordat die storm dit weer aan land gedryf het. 

Ratels kom algemeen op Kreta voor. Die geheimsinnige dier is juis naby 'n riviermond op die strand gekry. 

grillerige gedierte
Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

En die grillerige voorkoms?

Die dier het dalk al sy hare verloor omdat dit lank in die water was, verduidelik Petros. Hy meen dis ook moontlik dat die water die dooie dier laat opswel het tot dit soos 'n klein seekoei of iets dergliks lyk.