Haar seuns heet Harry en Daniel – maar nie sommer net nie.

’n Britse ma, Victoria Maclean, is so deur die wonderwêreld van Hogwarts betower dat sy haar spruite genoem het na die karakter Harry Potter en Daniel Radcliffe, die akteur wat die rol van dié jong towenaar op die silwerdoek vertolk het.

En nou mik die 38-jarige ma boonop na ’n Guinness-wêreldrekord met haar versameling van sowat 4 000 Harry Potter-memorabiliastukke.

Harry potter aanhanger
Victoria se versameling sluit onder meer klere, speelgoed en boeke in. Foto: Wales News Services

Die verhaal oor die outjie met die weerligstraal op die voorkop het die verbeelding van jonk en oud aangegryp – eers met J.K. Rowling se sewe boeke en toe met die fliekreeks.

Maar Victoria se obsessie met die storie oortref oënskynlik selfs dié van Menahem Asher Silva Vargas, die 41-jarige vrou van Mexiko wat tot nou toe die wêreldrekord met ’n allemintige 3 097 individuele memorabilia-items gehou het.

“Dié rekord sal alles vir my beteken,” sê Victoria. “Maar dis vir my belangriker dat ek dit uit Mexiko huis toe bring. Ek wil dit terug in die Verenigde Koninkryk hê.”

Sy huisves haar versameling in haar huis op die dorpie Neath in Wallis. Hier woon sy saam met manlief, Adam (38), hul dogter, Monica (16), en Daniel (13) en Harry (4).

flessie
Haar versameling word deur Guinness getel om te kyk of dit haar die wêreldrekord sal besorg. Foto: Gallo Images/Reuters

Haar versameling sluit onder meer in klere, boeke, juweliersware, speelgoed en sommer ’n magdom ander Harry Potter-dingetjies.

Victoria was 21 toe sy die eerste keer kennismaak met Harry en sy maats, die slimkop Hermione Granger en die ondeunde Ron Weasley. “Ek was ’n bietjie te oud en kon nie meer na Hogwarts toe gaan nie.

‘Ná die eerste boek het ek geleef in die towenaarswêreld wat J.K. Rowling geskep het’

Toe besluit ek om Hogwarts na my toe te bring. Ek het destyds alles begin koop wat ek kon en my versameling het daarna soos ’n sneeubal gegroei.”

Dit was in 2001, toe sy met Daniel swanger was, dat sy die eerste keer oor die fliek Harry Potter and the Philosopher’s Stone gelees en toe die boek gekoop het.

Die boek het al in 1997 verskyn. “Dit het my twee en ’n half weke geneem om die boek klaar te lees, ek kon dit nie neersit nie,” onthou sy.

En dis hier waar haar “obsessie” begin het. Nadat die eerste fliek in 2001 uitgereik is, het sy al die boeke gelees en begin om aandenkings van die fliek- en boekereeks te versamel.

“Ná die eerste boek het ek geleef in die towenaarswêreld wat J.K. Rowling geskep het,” het sy al verklaar. Teen 2005 het sy ’n “skamele” 700 Harry Potter-stukke in haar versameling gehad.

Harry Potter
Sy het deur die jare al duisende stukke versamel. Foto: Magazine Features.

Haar gunstelingitems was ’n sogenaamde Platform Nine and Three-Quarters-sneeuglasbol en haar Wizard Collection-katalogus van artefakte.

Maar nou is die kosbaarste besitting in haar versameling ’n miniatuurreplika van Professor Dumbledore se kantoor.

“Ek is dol oor die details daarin,” vertel sy in ’n YouTube-video. Sy het selfs van haar oorlede ma se as in ’n miniatuurvaas gesit en in Dumbledore se kantoortjie geplaas.

“My ma was ’n groot aanhanger van Harry Potter. Sy sal bly wees om te sien sy is nou daar verewig,” sê Victoria.

In 2009 het sy haar eie YouTube-kanaal begin waar sy gereeld video’s oplaai van haar wat oor die magiese Hogwarts en die weeskind Harry Potter gesels.

“Volg my op ’n reis van ontdekking waar ons jou die ongelooflikste Harry Potter-items wys wat jy nou kan koop,” skryf sy op YouTube.

Danksy die blootstelling wat sy op dié kanaal aan maatskappye gee, borg hulle gereeld memorabilia wat sy in haar video’s ten toon stel en dan kan hou.

Hoeveel het haar versameling haar al deur die jare uit die sak gejaag?

Harry potter aanhanger en haar man
Die YouTube-­aanbieder saam met Tom Felton, wat die rol van Draco Malfoy in die flieks vertolk het. Foto: Wales News Services

Sy weet glo nie, maar sê haar gesin verstaan gelukkig haar liefde vir J.K. Rowling se fantasiewêreld.

“As hulle my liefhet, is hulle óf lief vir Harry Potter óf hulle is gek daaroor dat ek lief is vir Harry Potter. My man het my nog nie geskei nie,” spot sy oor Adam, wat op sy beurt ’n groot Star Wars-aanhanger is.

Met hul troue in 2014 was die dekortema ’n mengsel tussen Harry Potter en Star Wars, en Victoria het self al die bykomstighede vir die bruilof gemaak.

As sy aangewys word as die nuwe wêreldrekordhouer met die meeste Harry Potter-memorabilia sal dit beslis nie die einde van haar obsessie wees nie, sê sy.

“Ek sal nooit my versameling kan verkoop nie. Ek versamel die skaarsste items wat net by rolprentpremières uitgereik is; dis alles baie moeilik om in die hande te kry.

“Harry Potter is my hele lewe. Van begin tot einde. My lewe, my troue, selfs my kinders bewys dit, en ek is dol daaroor.”

Bronne: Express.co.uk, Metro.co.uk, BBC.com, Thesun.co.uk