Sy bewegings spreek van die veerkrag en selfvertroue van ’n jong man. Eers wanneer jy nader aan hom is, merk jy die tekens van ’n gevorderde leeftyd aan sy lyf en gesig.

Maar ’n mens is so jonk soos jy voel, hoor jy dikwels. En dit geld beslis vir die 80-jarige Johan Roos, want hy oefen met die energie van ’n veel jonger man.

“Kom, julle manne, ek moet nog twee keer om die baan om los te maak,” por hy die paar ander atlete aan.

Want vir Johan is elke spier in sy lyf en elke asemteug ’n viering van sy tweede kans op die lewe. Meer as 20 jaar gelede het ’n dodelik siek Johan ’n nuwe hart met ’n oor­planting gekry – en daarmee saam ’n nuwe, onblusbare lewenslus.

En in ­Augustus vanjaar sal hy aan die Wêreldoorplantingspele in Newcastle, Engeland, deelneem. Hy sal in vyf nommers meeding: spies-, diskus- en krieketbalgooi, gewigstoot en pétanque, ’n tradisio­nele Franse spel soortgelyk aan rolbal.

Terwyl hy litte losmaak, daag talle jong gestremde atlete op om te oefen onder die wakende oog van hul afrigter, Mo­gamat Zain Lamara.

oorplanting,atleet
Op 80 is Johan ak­tiewer as baie 18-­jariges. Foto: Jacques Stander

Dié afgetrede onderwyser van Belgravia, Kaapstad, het Johan en 12 kinders uit spesiale skole ­onder sy vlerk geneem. 

“Johan werk hard. Hy sal selfs oor naweke kom oefen wanneer ons nie hier is nie. Nes die jong mense vir hom ’n inspirasie is, so is hy vir hulle,” sê Zain.

Hy help Johan met krag- en tegniekwerk sedert hy verlede Augustus, op sy rype ouderdom nogal, vir die Spele gekwalifiseer het.

“Mense van sy ouderdom het nie baie vet en spiere aan hul bene nie. Namate ’n mens ouer word, verloor jy balans en selfvertroue,” sê Zain.

Terwyl ons praat, hardloop Johan, wat daagliks twee uur lank hier oefen, op en af met die paviljoentrap. Daarna is dit op en af met die graswal om die stadion. 

“Dit is my groot oefenpel dié,” sê Johan tydens ’n blaaskans en beduie na die 16-jarige Nabeel Odendaal.

Weens ’n genetiese afwyking is sy hande misvorm, maar dit het hom nie gekeer om die Suid-Afrikaanse gestremde o.20-spiesgooikampioen te word nie.Ons ontmoet ook vir Jonathan Swanepoel (21), ’n Suid-Afrikaanse gestremde diskuskampioen in ’n rystoel.

En Fundile Nomtfhonganan, wat skoon van sy verwronge bene en krukke vergeet wanneer hy gewigstoot. Die jonges het groot bewondering vir Johan.

“Die oom is fiks en hy werk hard,” laat Nabeel hoor.

Maar hy het skaars sy sin voltooi of daar trek Johan al weer in volle vaart weg . . . “Hoogseisoen” en “Spoed! Met balans en ritme” het iemand met gekleurde kryt op die baanoppervlak geskryf.

oorplanting,atleet
Johan hardloop altyd eers twee keer om die baan as deel van sy opwarming. Foto: Jacques Stander

Maar ­Johan en die ander atlete wat vandag hier oefen, het duidelik nie baie aanmoe­diging nodig nie. Min kry hulle onder. 

Terugslae is iets waarmee Johan goed vertroud is.

In 1998 het hy die hart­aanval gehad wat hom amper sy lewe gekos het. Hy was al 61 toe die skenkershart in sy bors geplaas is – ’n prosedure wat gewoonlik net op jonger mense uitgevoer word. 

In 2009 is sy vrou en steunpilaar, Do­rothy (toe 70), weens limfkanker oorlede. Daarna het hy al sy geld in ’n piramide­skema verloor.

Die jongste slag was verlede jaar toe hy en sy tweede vrou, Laura (70), hul woonstel weens ’n brand verloor het. Maar dis juis al hierdie dinge wat hom vasbeslote maak om op die komende Oorplantingspele uit te blink, sê hy. 

“Daardie tweede kans met die hart­oorplanting was nie om net te bestaan nie, maar om voluit te leef en die meeste van elke dag te maak,” verduidelik hy.

Die sweet tap Johan al af, maar ’n volle uur se oefening lê nog voor.

“Ek gebruik die tweede lewe wat my gegun is ten volle,” herhaal Johan.

“Ek het heeltyd hierdie doodsgevoel gehad. Ek was swak met ’n asemtekort”

“Ek is die bewys daarvan dat die mediese wetenskap ’n mens kan help om jouself op ’n hoë ouderdom steeds uit te leef.”

Voor sy oorplanting was hy ’n baie siek man. In September 1998 het hy kardio-­miopatiese hartversaking gekry.

Die dokters het hom 10 maande gegee om te lewe.

“Ek het heeltyd hierdie doodsgevoel gehad. Ek was swak met ’n asemtekort,” onthou hy.

Dit was 6 November 1998 toe hy die oproep kry dat ’n skenkershart gekry is.

“Ek onthou die Springbokke het teen die All Blacks gespeel.”

Die volgende dag is die “ou Johan” in die teater in die Groote Schuur-hospitaal ingestoot.

“Ek het ná die operasie wakker geword met ’n gevoel van bruisende lewe. Ek het vinnig herstel en het besluit om te oefen deur te stap. Ek het nuwe energie begin ervaar wat my gedwing het om op hierdie ouderdom aktief te wees.”

Hy bieg hy is g’n natuurlike atleet nie.

“Op skool wanneer die onderwysers my sien aankom het vir oefeninge, het hulle gesê: ‘Daar is die biblioteek.’"

"Maar ek wil bewys jy kan op 80 nog ’n bydrae lewer. Jy het die wil om iets te bereik en dit ’n werklikheid te maak.”

Hy het van die Spele gehoor en besluit hy gaan deelneem en klaar. Hy het toe reeds van die Suid-Afrikaanse Oorplantingsportvereniging (Satsa) gehoor, maar was eers te skaam om aan te sluit.

oorplanting,atleet
Johan by sy afrigter, Mogamat Zain Lamara (heel links), en medeatlete. Links is Nabeel Odendaal; voor Johan is Jonathan Swanepoel en regs is Fundile Nomtfhonganan. Heel regs is hul afrigter, die meesteratleet John Carolus. Foto: Jacques Stander

Toe begin hy maar twee keer per week op sy eie op die Hoërskool Durbanville se sokkerveld oefen – met ’n besemstok vir ’n spies en ’n baksteen vir ’n gewig, want die ware ­Jakob kon hy bekostig nie.

In November 2017 het ’n koerantberig verskyn oor hom wat so oefen. En gou het weldoeners vir hom ’n spies, gewig en diskus gekoop.

Nog ’n samaritaan dek sedertdien ook sy ­lidmaatskapsfooi hier by die Bell­ville-atletiekklub.

Johan het vinnig verbeter, en toe hy in Augustus ver­lede jaar vir die Spele kwalifiseer, is Zain deur Satsa aangestel om hom behoorlik te brei. 

“Ek glo vas hy sal goeie resultate behaal en minstens een medalje huis toe bring,” sê Zain trots oor sy oudste atleet.

Johan en Laura is drie jaar gelede getroud. Sy is ’n onderwyseres by St. Mary’s in Kaapstad, en Johan het intussen ná 30 jaar as munisipale bestuurder afgetree.

“Sy het ’n natuurlike ritme in haar. Ek kon glad nie dans nie, maar het die energie daarvoor gehad,” vertel hy.

“Ons twee oues het ’n reputasie dat ons stof in die oë van die jonges kan dans. Ons dans op troues, op geleenthede saam met vriende en by die kerk.”

En dis juis die dansery wat Johan help, verklap Zain.

“Hy kan daardie draai­bewegings gebruik. Met diskus is ouer mense bang om die volle draai te maak vanweë balans. Ek leer hom stuk-stuk om dit op die lyne van die baan te doen.”

Sedert hul woonstel weens ’n elektriese kortsluiting uitgebrand het, woon die immergroen paartjie in ’n kothuisie op die erf van Laura se seun, SJ Vermeulen.

Wanneer hy nie dans of oefen nie, werk Johan aan ’n boek oor sy lewenslesse – en tweede kanse.

“Daar is ’n groot tekort aan orgaanskenkers, en ek wil hiermee mense aanmoedig om vrygewig te wees,” verduidelik hy.

Johan moet nog ’n stewige bedrag in­samel om Spele toe te gaan, maar hy is vol hoop dat sy droom bewaarheid sal word.

En op 7 September, skaars twee weke ná die Oorplantingspele in Engeland, word hy 81 jaar oud – hopelik met ’n trofeekas vol medaljes.