Die gesin het allermins verwag dat dié uitstappie met ’n dringende besoek aan die hospitaal sou eindig. Hulle was op 'n hengeluitstappie in die suidoostelike Sulawesi-provinsie van Indonesië toe ’n vlieënde naaldvis Muhammad onverwags in die nek tref.

Foto: Facebook (Savage Paramedics)
Foto: Facebook (Savage Paramedics)
Foto: Facebook (Savage Paramedics)
Foto: Facebook (Savage Paramedics)

Die vaartbelynde en vlymskerp bek van die vis het sy nek van voor onder sy ken tot agter onder sy skedel deurboor.

Muhammad is inderhaas na die Dr. Wahidin Sudirohusodo-hospitaal in Makassar geneem waar ’n noodoperasie Maandag op hom uitgevoer is.

Vyf dokters, onder wie drie chirurge en twee narkotiseurs, was deel van die span wat die vis se bek uit Muhammad se nek verwyder het.

Foto: Facebook (Savage Paramedics)
Foto: Facebook (Savage Paramedics)

Volgens die plaaslike nuusdiens Terkini het die operasie sowat twee uur geduur. Die span moes versigtig te werk gaan vanweë die groot slagaar in die nek.

Muhammad moet nog ’n tydjie in die hospitaal bly omdat ’n risiko van infeksie bestaan. Antara News berig dat hy in hierdie stadium stabiel is, maar steeds ’n hoë koors het. Volgens ’n woordvoerder van die hospitaal sal Muhammad daar bly tot die koors afneem.

Die foto’s is op Savage Paramedics se Facebook-blad gedeel. En die eerste sin by hul inskrywing eggo die vraag op talle mense se lippe: Hoe sal 'n mens dié soort trauma hanteer wanneer jy eerste op so 'n toneel opdaag?

Die plasing het reeds meer as 4,400 kommentare ontlok.

Kan jy sterf van 'n naaldvis?

Die antwoord is kort en onomwonde: Ja. Maar dis nie algemeen nie.

Jesus Geurrero, 'n Filippynse visserman, het in 2013 gesterf toe ’n naaldvis uit die water gespring en hom in sy nek getref het. Hy het daarin geslaag om die sowat 30 cm lange vis uit sy nek te trek, maar het enkele oomblikke later gesterf.

Volgens Practical Fishkeeping het ’n 16-jarige in 2007 gesterf toe ’n 90 cm lange naaldvis sy hart deurboor het terwyl hy in die noorde van Viëtnam geduik het.

In 2004 het ’n naaldvis uit die see by Guadeloupe gespring en ’n man in sy oogkas getref.

Wat is ’n naaldvis?

Die vlieënde visspesie word as vernuftige springers beskryf. Die vaartbelynde visse is karnivore en het ’n vlymskerp bek (vandaar die naaldvis-naam) met geniepsige tande.

Daar is 60 soorte naaldvisse waarvan die langste tot 1,2 m kan word en ’n topspoed van tot 60 km per uur kan haal.

Bronne: antaranews.com, terkini.id, dailymail.co.uk