Jopie Schuurman (88) is mos immers nou, ná sowat 68 jaar, eindelik ’n eksroker.

“Sy is baie in haar skik met haarself en sy besef ons is geweldig trots op haar,” vertel Joke de Koning, Jopie se oudste dogter.

“Sy sal partykeer sê: ‘Ek was vandag lus vir ’n sigaret’, maar dan is dit weer oor. Sy het my nog nooit weer gevra om sigarette te gaan koop nie,” voeg sy by.

Jopie Schuurman
Jopie en Joke speel 'n Nederlandse speletjie. Foto: Verskaf.

Toe die aanvanklike inperking op vlak vyf ná die eerste drie weke verleng is, was die plan om Jopie se sigarette te rantsoeneer in die wiele gery.

Ná ’n redekaweling omdat die duur onwettige sigarette nie ’n opsie is nie, het Jopie aan Joke gesê dat sy kan ophou rook net wanneer sy wil.

So gesê, so gestaak.

Hoewel die opheffing op die verbanning van die verkoop van sigarette haar nie meer pla nie, is Jopie vir ’n ander rede baie bly dat die land se inperking na vlak twee geskuif is.

Jopie Schuurman
Jopie tydens die viering van haar 88ste verjaarsdag. Foto: Verskaf.

Jopie is die ouma en oumagrootjie van 14 kleinkinders en nege agterkleinkinders. Weens die inperking kon sy nog nie haar jongste agterkleinkind ontmoet nie. Noudat ’n mens weer vir familie en vriende kan kuier en die reëls rondom reis ook ietwat verslap het, sal sy die komende naweek eindelik die nuutste toevoeging tot haar familie kan ontmoet.

Jopie en haar man, Piet, en vier kinders het in 1967 uit Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer. Piet is in 2007 oorlede. Nadat sy toe vir sowat ’n dekade in ’n ouetehuis in Pretoria gewoon het, het sy in Oktober 2018 by Joke in Kinross kom woon.

Joke vertel haar ma en pa het gerook.

Jopie Schuurman
"Jopie is altyd diensbaar en wil graag help," vertel Joke. Foto: Verskaf.

“Ek is nie daarvan bewus dat sy al voorheen probeer het om op te hou rook nie. Sy het nou die dag verduidelik dat sy nog nooit die nodigheid daarvan gesien het om op te hou nie,” vertel Joke.

Aan die begin het Jopie net ’n paar sigarette per dag gerook, maar in ’n stadium het dit na sowat ’n pakkie per dag verander. Dit het egter minder geword namate sy ouer geword het.

“Toe my ma by ons kom bly het, het sy dalk vyf of ses sigarette per dag gerook. Toe lockdown begin het, moes sy dit verminder na so drie per dag,” vertel Joke.

Jopie Schuurman
Jopie is mal daaroor om speletjies op die rekenaar te speel. Foto: Verskaf.

En al pak die lus haar af en toe, het sy sedert sy sowat vier maande gelede die gewoonte laat vaar het, nog nie weer een sigaret gerook nie.

En die wenresep?

Natuurlik zoutedrop, die Nederlandse lekkerny, wat sy as ’n heerlike plaasvervanger kan suig sou sy na ’n sigaret smag. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe