Wat dryf doodgewone mense om bisarre uitdagings aan te pak en vreemde rekords te probeer opstel? Hoekom sal enigiemand wil kyk hoe vinnig hulle dakteëls met hul kaal hande kan breek, hoe ver hulle 'n pyl met hul voet kan skiet of hoe vinnig hulle met 'n wendy­huis kan jaag?

In dié uittreksel uit die nuwe uitgawe van Guinness World ­Records vertel 'n paar wêreldrekord­houers hoe hul brandende begeerte ontstaan het en hoe hulle met hul manewales die rekord opgestel het.

Rondomtalie

Getti Kehayova (42), Las Vegas, Nevada

Die grootste hoelahoepel deur ’n vrou in die rondt
Die grootste hoelahoepel deur ’n vrou in die rondte gedraai

Rekord: Die grootste hoelahoepel deur 'n vrou in die rondte gedraai – met 'n deursnee van 5,188 m. Die rekord is in November 2018 opgestel.

“Ek het in die sirkus grootgeword. Ek kom van Bulgarye en my hele gesin was verhoogkunstenaars. Saam het ons die wêreld vol gereis. Dit was die beste ervaring wat ’n kind kon hê. 

"Ons is aan soveel verskillende soorte mense en kulture blootgestel, en ek kon op die pad leer en nie op skool nie. Ek was ook altyd deur 'n klomp ander kinders omring.

"Baie van die kunstenaars het kinders gehad en ons almal het saamgespeel. Ek het vriende uit Mongolië, Rusland en Frankryk gehad. Dit was eintlik 'n familie. 

“My ouers het ’n wipplanktoertjie uitgevoer, en dit was die wonderlikste ding. Toe begin my ouer suster met ’n hoelahoepeltoertjie. Sy was my heldin en ek wou nes sy wees. Toe begin ek oefen, en ek was regtig mal daaroor. 

“Ek het vyf jaar gelede as rondreisende sirkuskunstenaar uitgetree. Ek het na Las Vegas verhuis en werk nou as 'n tegnikus by die Cirque du Soleil. Dit was die regte tyd om van die pad af te kom. Ek het my kinders in 'n gewone skool gesit en ’n huis gekoop. 

"Toe laat ek my ma van Bulgarye kom om by ons te woon. Maar dit was moeilik om aan te pas by die wete daar sal nie môre ’n ander dorp wees nie. Ek het altyd gedink ek het nog een vertoning in my oor. 

“My pa en my ouer suster het albei Guinness-rekords verbeter, toe dink ek ek moet kyk of ek dit ook kan doen. Ek het besluit ek wil probeer om die grootste hoelahoepel ter wêreld in die rondte te draai. Ek het die hoepel spesiaal laat maak. 

“Maar dit was moeilik. Baie moeilik. Dit het my ’n ewigheid geneem om uit te pluis hoe om dit te laat draai en ek moes sterk word – ek het nog spiere nodig gehad. Die hoepel is so groot soos ’n huis; dus is die uitdaging om dit van die grond af te kry en dan te laat draai.

“Eendag het ek besef ek moet self in die rondte draai om dit van die grond af te kry. Ek moes swaartekrag vír my laat werk, nie teen my nie. Dit het my baie lank geneem om dit reg te kry, en ek moes boonop aan die duiseligheid gewoond raak. 

“Dit was 'n trotse oomblik toe ek die rekord verbeter. En al verbeter iemand anders dit nou, sal ek nie omgee nie; hulle sal dit werklik verdien. My pa en my ouer suster is ongelukkig albei oorlede; daarom ­beskou ek my wêreldrekord as my klein huldeblyk aan hulle.”

Brekers

Chris (49) en Lisa Pitman (45), Kent, Engeland

Chris en Lisa Pitman van Kent, Engeland
Chris en Lisa Pitman van Kent, Engeland

Rekords

Lisa:

  • Die meeste dennehoutplanke in een minuut met een hand deur 'n vrou gebreek. Planke gebreek: 230. Rekord in April 2018 opgestel.
  • Die vinnigste tyd vir 'n vrou om 1 000 dakteëls te breek. Tyd: 83.98 sekondes. Die rekord is in Maart 2014 opgestel. 

Chris:

  • Die meeste dennehoutplanke in 'n minuut met een hand deur 'n man gebreek. Planke gebreek: 315. Rekord in April 2018 opgestel.
  • Die vinnigste tyd vir 'n man om 1 000 dakteëls te breek. Tyd: 51.08 sekondes. Die rekord is in Augustus 2013 opgestel.  

Lisa:

“Ek het taekwondo, 'n Koreaanse gevegskuns, begin doen toe ek 15 was, nou sowat 30 jaar gelede. Ek het The Karate Kid gekyk en was 'n bietjie verlief op Ralph Macchio wat die hoofkarakter speel, maar toe ek 'n karateklas bywoon, het ek niks daarvan gehou nie. 

“’n Vriend het voorgestel ek probeer tae­kwondo, en met my eerste les het ek versot geraak daarop. Ek het dadelik geweet ek wil 'n Europese en wêreldkampioen word. Ek was twee jaar gelede in China en het daar as die eerste vrouemeester van taekwondo in Engeland gekwalifiseer. 

“Ek het Chris agt jaar gelede ontmoet. Ons is goeie pasmaats. Hy is 'n mal, sterk man en ek is 'n mal, sterk vrou. Ek het hom aangemoedig om saam met my 'n les by te woon. Die Guinness World Records-dinge het eers in 2013 gekom. Ons was by 'n tentoonstelling en moes iets doen om die kinders te vermaak. 

"Toe maak ons 'n klein uitstalling en breek planke en teëls, en hulle was gek daaroor. Dit was letterlik die eerste keer in sy lewe dat Chris dit doen. Agterna het almal gesê: ‘Julle moet 'n rekord probeer opstel!’ ”

Chris:

“Ons is regtig baie mededingend. Selfs met mekaar, wat 'n interessante dinamika vir 'n egpaar is. Dit maak nie saak hoeveel teëls een van ons breek nie, die ander een wil dit oortref. Ons het al daaroor rusie gemaak. 

“Selfs ons vriende en familie verstaan nie waaroor dit gaan nie. My suster sê: ‘So, jy het 'n baksteen gebreek, sjoe . . .’ Ek dink baie mense verstaan net nie watter vaardigheid dit verg nie. Maar ons is oukei daarmee.”

Lisa:

“Ons het ons al beseer. Die eerste keer wat ons 'n rekord probeer opstel het, het ons nie 'n beoordelaar gehad nie, toe reël ons alles self. Wanneer jy tot 1 000 teëls breek, besef jy nie die omvang daarvan nie. Hoeveel ruimte jy nodig het, hoeveel teëls jy eintlik nodig het, want nie almal breek nie. 

“Met daardie poging het ons teëls sowaar opgeraak. Dit was 'n volslae chaos. Ek het gedink ek het albei my hande gebreek. Chris het gedink hy het een van syne gebreek. Ons het albei in trane by die noodeenheid beland en gedink ons drome om Guinness World Record-­houers te wees is daarmee heen!

“Toe het ons nie eens ons hande gebreek nie. Die verpleegster by die X-straalafdeling was verstom en het gesê: ‘Ek dink jul hande is van yster gemaak.’ ”

Chris:

“Hulle ken ons nou al by die hospitaal. Dis 'n vreemde lewe. Wanneer ek byvoorbeeld uiteet, sal my gedagtes begin dwaal wanneer ek 'n tafel sien. Ek sal begin dink: ‘Ek wonder of ek dit kan breek?’ Dis heeltyd in ons gedagtes. Dis eintlik nou ons leefstyl.”

Padlangs

Kevin Nicks (54), Suid-Yorkshire, Engeland

Die vinnigste wendyhuis
Die vinnigste wendyhuis

Rekord: Die vinnigste wendyhuis. Spoed: 207 km/h. Die rekord is in September 2017 opgestel. 

“Ek het 'n motor gehad wat ek sou laat afskryf het, maar dit was te goed om weg te gooi. My skepping is op 'n ingenieursontwerpte staalraamwerk gebou en aan die hand van 299 bladsye reëls van die Britse bestuurders-en-­voertuiglisensiëringsagentskap ontwerp sodat dit wettig op landspaaie mag ry. 

“Die huis het tot op hede al 56 327,04 km afgelê. Terwyl ek dit gebou het, het ek vasgestel daar was reeds 'n rekord van 93 km/h vir die vinnigste wendyhuis. Ek het gedink ek kan dit verbeter. 

“Hoekom wil jy 'n wendyhuis bestuur? Hoekom nie! Ek het van Lands End na John o’ Groats gery en spoedrekords op plekke oral in Brittanje en die eiland Man opgestel.

“Ek het nog altyd in die ingenieurswese belanggestel en het 'n goeie begrip van alles wat meganies is. Ek het in die hernubare-energie­bedryf gewerk en stel in alternatiewe vir konvensionele voertuie belang. My gedagtes is op loop; dalk bou ek iets baie spesiaals as ek die finansiering kan kry. 

“As iemand my rekord wil verbeter, sal dit nie maklik wees nie. Al maak hulle nie 'n padwaardige een soos myne nie, sal dit steeds aan die streng reëls moet voldoen om aan 'n ‘ren’ te mag deelneem.

"Dit moet veilig wees, wat beteken dit moet in een stuk kan bly wanneer dit teen 'n hoë spoed jaag. En myne raak ál vinniger, want ek knap my voertuig op. Ek oortref dalk nog my eie rekord.”

Vlytige vingers

Ryan Tracey (38), Belfast, Ierland

Die meeste ballonfigure in ’n minuut geskep
Die meeste ballonfigure in ’n minuut geskep

Rekord: Die meeste ballonfigure in 'n minuut geskep. Figure geskep: 14. Die rekord is in September 2017 opgestel.

“Ek het nooit gedink dis wat ek met my lewe sal doen nie. Waar ek ook al nou gaan, sien ek die wêreld in ballonne. Ek is ’n pa van ses – ons verwag ons sewende – en ek het my kinders begin vermaak. 

“Ek is passievol oor my kroos se ontwikkeling; daarom was ek gretig om nuwe dinge te leer en hulle te betrek. Eers het ek geleer balanseertoertjies doen. Toe eenwielfiets ry. Toe leer ek towerkuns. 

"Maar die maak van ballon­figure was die kuns wat my geboei het, want ek was so sleg daarmee. Ek floreer op ’n uitdaging. Ek is een van vyf kinders, en voor ek bles geraak het, was ek ’n kort rooikopseun.

“Niemand het my ooit raakgesien nie. Ek was die klein hondjie met die groot been, en ek dink al my pogings om tog net erkenning te kry het gemaak dat ek my in dinge verdiep. Ek het ses jaar gelede met die ballonne begin en twee jaar daarna het ek die wêreldrekord vir die meeste figure in die vinnigste tyd verbeter. 

“Ek oefen elke dag. En bestee elke maand tussen R10 000 en R20 000 aan ballonne. Ek werk saam met ’n dataontleder. Ek vra my kinders om my te beoordeel en verfilm sodat ek agterna kan kyk wat ek doen en aan maniere kan dink om dit beter en vinniger te doen: Dalk moet ek my postuur of asemhaling aanpas.

“Ek skep ballonfigure net waar ek gaan. Ek sal byvoorbeeld in die tou staan by die winkel en ’n bejaarde vrou daar sien, dan maak ek vir haar ’n roos of iets. Mense dink waarskynlik ek is die vreemde ballon-ou, maar ek dink ek gee die wêreld iets goeds.”

Kolskoot

Brittany Walsh (32), Portland, Oregon

’n Pyl die verste met net die voete geskiet
’n Pyl die verste met net die voete geskiet

Rekord: 'n Pyl die verste met net die voete geskiet. Afstand: 12,31 m. Die rekord is in Maart 2018 opgestel.

“Dit het as 'n uitdaging begin. Terwyl ons deur 'n ou boek geblaai het met foto’s wat in die sirkus geneem is, het ons 'n vrou gesien wat 'n pyl met haar voete afskiet. 

"My vriend het my uitgedaag om dit te probeer en ons is reguit na 'n sportwinkel. Ons het 'n pyl en boog gekoop, en ek het besef: ‘Ja, ek kan dit waarskynlik doen.’ Wat kan ek sê? Ons het nie destyds Netflix gehad nie. Jy moes jou eie pret skep.

“Dit het nie heeltemal uit die bloute gekom nie. Ek het as kind aan gimnastiek deelgeneem, maar ek was baie leergierig. Ek was skaam en stil en glad nie spontaan nie.

"Ek het gevoel ek het my lewensplan uitgestippel gehad: Studeer medies; word 'n dokter. Toe sien ek 'n advertensie vir 'n plaas­like teatergeselskap wat akrobate soek.

“Ek het 'n oudisie afgelê, en hulle het my aanvaar. Ek het met my ouers daaroor gepraat en hulle was verbasend ondersteunend. Hulle het vir my gesê: ‘Skool sal altyd daar wees.’

"Ek het geleer om op stelte te loop en sweefstokkunsies te doen. Dit het my regtig myself help vind. En ek het agterna teruggegaan skool toe ook. Dus het ek die beste van albei wêrelde gehad. 

“Daar was 'n deel van my wat altyd nuwe dinge wou beproef. Ek was so bang as 'n kind. Bang vir onnosel lyk voor mense of val, maar hoe ouer jy word, hoe meer besef jy dié dinge maak eenvoudig nie saak nie. 

“Wat saak maak, is om gelukkig te wees, om as 'n mens te groei en te leer wie jy is. Ek het besef ek soek opwinding.

"Ek hou van die opwinding van nuwe dinge aanpak. Ek sou graag 'n klein vliegtuig wou leer vlieg. Die lewe bied soveel dinge om te doen; hoekom dit nie aangryp nie?”

Guiness World Records 2020
Guiness World Records 2020
  • Foto's: Ryan Schude/Guinness World Records, Alex Rumford/Guinness World Records, Paul Michael Hughes/Guinness World Records, James Ellerker/Guinness World Records,Facebook/Duff Balloons
  • 'n Geredigeerde uittreksel uit Guinness World Records 2020 (R255 by Takealot.com). Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.