Die bejaarde, wie se naam weerhou word om haar familie verdere trauma te spaar, het na bewering doodgebloei toe die haan ’n spataar raakgepik het. Dit het klein snytjies veroorsaak en sy is dood nadat sy flou geword as gevolg van die bloedverlies. 

Dié ongewone voorval het in Suid-Australië gebeur.

Prof. Roger Byard, ’n forensiese deskundige verbonde aan die universiteit van Adelaide in Australië, het die nuus bekendgemaak en daarop gewys dat bejaardes met spatare besonders kwesbaar kan wees.

Haan-gedrag

Volgens The Farmer’s Lamp is dit nie ongewoon om deur ’n hoenderhaan aangeval te word wanneer jy hoenders aanhou nie. ’n Mens word as ’n indringer beskou en hulle sal geneig wees om jou aan te val, selfs al het jy die dier met die hand grootgemaak.

Daar word voorgestel dat jy ’n hoenderhok met knie-hoogte rubberstewels benader om jou bene teen ’n moontlike (en oor die algemeen onverwagte) aanval te beskerm.

Gewoonlik sal die hoenderhaan jou van die kant af nader met een oog op ’n ontsnappingsroete. Tydens ’n aanval sal hy sy vlerke sprei en sy nekvere laat rys om homself groter en dreigender te laat voorkom.

Kinders is ook maklike teikens vir aggressiewe hoenderhane en dis nie ongewoon dat hulle pik- en klou-wonde aan hul gesig en bolyf opdoen nie.

Nie die eerste keer nie

Dit is nie die eerste keer dat ’n hoenderhaan-aanval tot iemand se dood gelei het nie. In Februarie 2011 het die 35-jarige Jose Luis Ochoa in Kalifornië in die VSA gesterf twee ure nadat ’n hoenderhaan hom aangeval het. 

Wat dié geval wel anders maak, is dat die hoenderhaan deel was van ’n onwettige haangeveg en daar ’n lem aan sy been vasgemaak was.

Daar word vermoed dat Jose nie gou genoeg mediese hulp gaan soek nie uit vrees vir vervolging omdat hy by die onwettige gevegte betrokke was.

Bronne: thesun.co.uk, thefarmerslamp.com, latimes.com, mayaoclinic.org, peadiatrics.org, abc news