Foto: Gallo Images/Getty Images
Die mediamagnaat Sumner Redstone in 2006 saam met Tom Cruise by ’n vertoning van Mission: Impossible 3. Kort daarna het hy Cruise se kontrak met Paramount Studios beëindig. Dit was maar een van vele berugte episodes uit sy loopbaan en persoonlike lewe. Foto: Gallo Images/Getty Images

In sy laaste jare was daar net twee dinge wat Sumner Redstone elke dag gelukkig gehou het: seks en steak, vertel ’n minnares.

Hy het albei van die “verpleegsters” geëis wat hom in sy groot huis in Los Angeles versorg het, al was hy so broos dat hy eintlik nie een van die twee kon geniet nie. Hy was toe al aan ’n rolstoel gekluister en kon skaars praat.

Sumner, ’n hardekoejawel en gedrewe magnaat wat sy pa se inryteater-kettinggroep in ’n ryk van R680 miljard omskep het – dit sluit Paramount Pictures, CBS, MTV en Viacom in – het graag gesê hy sal nooit sterf nie. Maar verlede maand is hy toe op 97 oorlede.

Die laaste jare van sy lewe is gekenmerk deur hofgedinge met minnaresse waarin skokkend onsmaaklike besonderhede oor sy persoonlike lewe onthul is. Tog was hy hoofsaaklik bekend vir sy “sakeboewery” – soos ’n mede­dinger dit beskryf het – terwyl hy een van Amerika se grootste vermaakryke opgebou het.

Sumner was inderdaad so iesegrimmig dat hy, toe hy nie meer kon praat nie, drie woorde of frases op ’n iPad opgeneem het om vir mense terug te speel: “Ja”, “nee” en “f** jou”.

Hy het daardie laaste sentiment dikwels in sy lang en wilde lewe uitgedruk – of dit nou oor die akteur Tom Cruise was of teenoor sy familielede met wie hy bitter geskille oor sy sakeryk gehad het. Vir Tom het hy oor sy Sciëntologie-bekeringsywer en bisarre openbare gedrag afgedank.

Hy was ’n gevaarlike man om kwaad te maak en is al met ’n mal hond “met ’n skuimende bek” vergelyk. Eenkeer het hy in ’n sakevergadering so hard geskree dat een van sy tande losgebreek en reg oor die vertrek geskiet het.

Sy kleinkinders het hom “Grumpy” genoem, ’n bynaam wat hy self voorgestel het. Met kelners kon hy so onbeskof wees dat hy by party restaurante verbied is.

Sumner, bekend vir sy sêding “Inhoud is koning”, het taamlik laat in sy lewe eers die magtigste man in Hollywood geword.

Hy het in ’n woonstel in Boston, Massachusetts, grootgeword wat so armoedig was dit het nie eens ’n eie toilet gehad het nie.

Sy pa het blykbaar tydens die drankverbod in Amerika alkohol vir die Mafia gesmokkel. Hul familie se van was oorspronklik Rothstein, maar dit is later verander soos talle ander Joodse immigrante s’n.

Redstone sr. het later met ’n ketting inryteaters begin, glo met geld uit die onderwêreld.

Sumner het aan die Harvard-universiteit gestudeer, binne ’n jaar Japannees aangeleer en is tydens die Tweede Wêreldoorlog gewerf om Japannese kodes te help ontsyfer.

Hy het later by die familieonder­neming aangesluit.

Sy passie vir sakesukses het hy aan ’n noue ontkoming in 1979 toegeskryf. Tydens ’n brand in ’n hotel in Boston, waar hy saam met ’n minnares oornag het, het Sumner (toe 55) oorleef deur aan ’n vensterbank op die derde verdieping te hang tot ’n brandbestryder hom met ’n leer bereik het.

Sy minnares het feitlik ongedeerd daarvan afgekom, maar hy het brandwonde oor 50% van sy lyf opgedoen en 60 uur se chirurgie ondergaan.

Hy het gou weer sy geliefde tennis gespeel, maar sy raket moes aan sy regterhand vasgebind word omdat dit tot ’n klou versmelt het.

Hy het van multimiljoenêr- tot miljardêrstatus gevorder nadat hy Viacom, ’n kabeltelevisiemaatskappy wat die MTV- en Nickelodeon-kanale besit, in 1987 gekoop het. Daarvoor moes hy ’n groot lening aangaan.

Baie van sy geld het hy uit slim beleggings in aandele gemaak, soos die 5%-aandeel wat hy in 20th Century Fox gekoop het. Sumner het na Star Wars gaan kyk en voorspel dit sou ’n reusagtige treffer word. Toe haas hy hom uit die rolprentteater na ’n foonhokkie naby ’n vulstasie.

Hy het dadelik 25 000 aandele gekoop in die maatskappy wat die rolprent uitgereik het en reg voorspel dat hul waarde die hoogte sou inskiet.

Hy het kort daarna Paramount Pictures (onder wie se rolprente sy persoonlike gunsteling, The Godfather, tel), die Blockbuster-ketting videowinkels, die uitgewer Simon & Schuster en CBS TV bygevoeg.

Hy het gesorg dat Simon & Schuster sy outobiografie, A Passion to Win, in 2001 uitgegee en volgehou niemand anders kon sy storie vertel nie.

Maar hy kon nie ander keer om berugte episodes uit sy loopbaan op te haal nie, soos sy besluit in 2006 om nie Tom Cruise se kon­trak met Paramount  te hernu nie.

Sumner het gekla die Mission Impos­sible-ster “word R170 miljoen betaal vir niks doen”.

Hy was ook geïrriteerd oor Tom se openbare steun vir die omstrede Sciëntologie-kerk en ’n kommerwekkende verskyning op die TV-program The Oprah Winfrey Show. Dit was die keer toe die ster uit opgewondenheid oor sy wonderlike persoonlike lewe op haar rusbank gespring het.

Tog was Sumner self baie eksentriek. Hy het kaal langs sy swembad geskeer en lugwaardinne betaal om sy toonnaels te knip. Betsy Loomis, wat op Paramount Pictures se privaat straler gewerk het, sê sy het geweier. Sy vertel sy toonnaels het “soos antieke perkamentrolle” gelyk.

Al het hy homself luukse hotelle en die beste restaurante veroorloof, was hy so suinig dat hy sy eie hare gekleur het – in ’n onthutsende oranje skakering. Hy het net sakkerige, oorgroot pakke gedra wat sy motorbestuurder vir hom by ’n afslagwinkel moes gaan koop.

Hy was 52 jaar lank met sy eerste vrou, Phyllis, getroud. Sy het in 1999 van hom geskei nadat sy hom deur ’n privaat speurder laat afneem het toe hy in Parys met ’n jonger vrou “gekafoefel” het. Die egskeiding waartydens sy hom van egbreuk en wreedheid beskuldig het, het hom R50 miljard uit die sak gejaag.

Hy en sy eerste vrou, Phyllis. Foto: Gallo Images/
Hy en sy eerste vrou, Phyllis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op 76 het Sumner, wat homself glo jare lank as “God se geskenk aan vroue” beskou het, toe met ’n nuwe lewe as ’n Don Juan begin.

Sy talle aantreklike meisies was dikwels selfs jonger as sy dogter, Shari, en sy seun, Bret.

In 2002 het hy weer getrou – met ’n vrou 40 jaar jonger as hy. Hy het Paula Fortunato, ’n voormalige sjef van soet­gebak, op ’n toeoogafspraak ontmoet wat deur sy bankiers gereël is. Hulle is in 2009 geskei.

Hy is in 2002 met Paula Fortunato getroud, maar hu
Hy is in 2002 met Paula Fortunato getroud, maar hulle is later geskei. Hy het haar, ’n voormalige bakster, op ’n toeoog­afspraak ontmoet. Foto: Gallo Images/Alamy

Oor hom skryf Michael Wolff, ook die skrywer van ’n nuwe boek oor Donald Trump: “Met sy opvallende bos oranje hare is Sumner ’n verwaande, ouskoolse egomaniak met ’n opera-agtige persoonlike lewe wat grootliks in die media ver­swyg is, ongetwyfeld omdat hy so ’n groot deel van die media beheer.”

Hy het beslis onder ’n wanindruk oor sy aantrekkingskrag vir vroue verkeer. In sy laat 70’s het Sumner gespog: “Ek weet ek lyk nie my ouderdom nie. Ek weet ek lyk baie jonger.”

Hy het erken baie vroue is tot hom aangetrokke omdat hy mag het, maar het gesê dit sou hom “pla” om te dink dit was oor sy geld.

“Weet jy, daar is ook dinge soos sjarme en charisma. Jy hoef nie jonk te wees om dit te hê nie.”

Sy ongelooflike ydelheid het die afgelope paar jaar nog meer jammerlik gelyk toe dit ál duideliker word sy menigte minnaresse is beslis nie onaangeraak deur sy ontsaglike rykdom nie.

Sedert 2015 was Sumner in ’n rits hofsake teen twee voormalige jarelange minnaresse gewikkel.

Eers het Manuela Herzer, ’n Argentynse sosiale vlinder 42 jaar jonger as hy, sy bevoegdheid betwis nadat sy uit sy huis en sy testament geskop is.

Sy het gesê hy het ’n “lewende spook” geword in sy huis in die omheinde miljoenêrsgemeenskap Beverly Park in Los Angels en kan, afgesien van bromgeluide, skaars kommunikeer.

Haar bewerings is deur nog ’n eksminnares, Sydney Holland, gestaaf, wat op ’n soortgelyke manier uit Sumner se lewe verban is.

Dit was nadat die twee vroue in ’n onderhoud vertel het hulle was sy toegewyde versorgers en beskermers. Teen daardie tyd was Sumner, wat glo toe R72 miljard werd was, van sy kinders vervreem ná rusies oor geld en sy sakeryk.

Hy het jare laas met sy seun, Brent, gepraat. Sy stormagtige verhouding met sy dogter, Shari, ’n geskeide ma van drie, het finaal verbrokkel nadat sy geweier het om haar aandeel in die familieonderneming vir R17 miljard aan hom te verkoop. Sy het ook uit agterdog oor Manuela en Sydney ’n privaat ondersoeker aangestel om in hul verledes te gaan delf.

Hy het ’n stormagtige verhouding met sy dogter, Sh
Hy het ’n stormagtige verhouding met sy dogter, Shari, gehad. Foto: Gallo Images/Getty Images

Manuela het Shari en Sumner se personeel van ’n sameswering beskuldig om haar by sy woning te laat uitskop en weg te laat uit sy testament.

Sydney het vertel dieselfde lot het haar getref nadat sy aan Sumner erken het sy was ontrou.

Manuela het verder beweer Sumner, toe al in die 90, het behep geraak met seks, maar sy dokters het vir hom gesê hy moet sy seksuele aktiwiteite tot net een keer per week beperk as hy ook sy ander passie – vir steak – wou bevredig.

So nie sou hy nie genoeg energie hê om vaste kos te sluk sonder die hulp van sy voedingsbuis nie.


Volgens Manuela het ’n string vroue Sumner besoek en seksdade met mekaar en soms met hom uitgevoer, terwyl hy bewegingloos in ’n stoel gesit het.

Haar bewerings het gestrook met dié van die magnaat se voormalige motorbestuurder, Tim Jensen. Dié het vertel hy moes gereeld betalings – elk van duisende dollars – by sewe vroue in Los Angeles gaan aflewer nadat hulle Sumner besoek het.

Ingeligtes by Viacom het teruggekap dat die vurige Manuela as Sumner se minnares in ’n ondraaglike diva ontaard het. Sy het glo BBP-behandeling vir haar en haar “gevolg” by glansgeleenthede in Hollywood geëis.

“Hoeveel keer moet ek nog hierdie vrou se kinders ontmoet?” het die superstersanger Justin Timberlake blykbaar eenkeer vererg aan ’n uitvoerende beampte van MTV gevra.

Sumner-bronne het ook gesê Sydney, wat in 2011 by hom ingetrek het toe sy 39 en hy 89 was, het byna onbeperkte toegang tot sy geld gehad. Sy het terloops volgehou: “Ek het nooit sy ouderdom raakgesien nie.”

Sy het glo privaat stralers gehuur, duur klere gekoop en onder meer met haar eie rolprentproduksiemaatskappy en eiendomsontwikkelingsonderneming begin.

In ’n uitgelekte e-pos het sy in 2011 by haar prokureur gespog dat sy al sowat $10 miljoen (toe amper R80 miljoen) se kontant en geskenke by die magnaat gekry het.

Tydens die hofstryd is daar ook beweer Sumner het $18 miljoen aan ’n lugwaardin op ’n CBS- korporatiewe straler gegee. En dat hy later by haar suster geslaap het vir wie hy $6 miljoen gegee het.

Manuela het geappelleer en die saak is verlede jaar geskik. Sumner het albei voormalige minnaresse later gedagvaar en daarvan beskuldig dat hulle hom gemanipuleer en emosioneel mishandel het om hom te dwing om vir hulle oor ’n tydperk van vyf jaar geskenke van $150 miljoen te gee.

Sydney het in hofdokumente beweer Sumner het tydens hul verlowing “tienmiljoene dollars aan verskeie ander vroue gegee, met wie hy nie trouplanne gehad of op verlief was nie”.

Teen daardie tyd het hy al onder druk van aandeelhouers as uitvoerende voorsitter van CBS en Viacom uitgetree. In sy laaste jare het hy nie meer in die openbaar verskyn nie.

Sumner en sy tweede vrou, Paula, op 22 Februarie 2
Sumner en sy tweede vrou, Paula, op 22 Februarie 2009. Foto: Bob Riha, Jr./Getty Images

Die sowat 80% van die stemme in ViacomCBS onder sy beheer sal volgens berigte tussen twee trusts verdeel word. Een sal aan sy nasate gaan en die ander aan sy eerste vrou, Phyllis.

Met dié dat hy weer getrou het, word nog ’n regstryd verwag – sy tweede vrou, Paula, sal na verwagting die verdeling van sy fortuin betwis.

Sumner Redstone, wat herhaaldelik van sy eie familielede gedagvaar en nooit van ’n rusie weggeskram het nie, sou waarskynlik in sy noppies gewees het.

© Daily Mail

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY