Waar sy met haar windverwaaide hare op die stoeptrap van die ou baksteenhuis sit, haar rokspante tussen haar bene ingevou, lyk sy sommer befoeterd. Haar ken rus op een gebalde vuis terwyl sy die wêreld deur skrefiesoë betrag. 

“Die mense hier noem haar Tannie Stienie,” het 'n inwoner vroeër vertel. So asof Ronel wil bevestig waarom haar bure haar met Dulcie van den Bergh se karakter in Agter elke man vergelyk, kla sy: “Ek weet nie hoekom ek so moet suffer nie . . .”

Ronel Janssens is dalk nie die Tannie Stienie van die televisiereeks uit die 1980’s nie, maar sy het oornag byna net so bekend geword. Sy is die pyp­swaaiende rooikoptante in die sogenaamde “Hugo, bel die polisie”-video wat die land laat skater het.

“Die mense in die straat sê ek is nou famous, nes Tannie Stienie,” beaam Ronel (50). 

Ewe famous is haar afbeenman, Wynand (55), hul seun, Wynand jr. (28), en dié se meisie, Angelique Bester (23). 

En dit als weens die skreeusnaakse straatmoles in Pretoria-Noord wat 'n buurvrou met haar selfoon verfilm het. Die einste “video­graaf” wie se benoude gille van  “Hugo, bel die polisie!”en “Julle word Maandag uitgesit!” sinoniem met die petalje geword het. 

Verskeie grappe oor die video is op die internet gedeel, oorgeklankte weergawes is geskep, en die sanger Jak de Priester het selfs ’n “Hugo, bel die polisie”-liedjie opgeneem. 

Die gesin, wat sedert die straatmoles verlede Desember verhuis het, verseker ons hulle lag ook oor die video. 

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

Regtig?

Ronel lyk dan of sy haar vervies. 

“Ek hoor hoe die tannies in die winkels giggel. Hulle gis oor ons en neem video’s van my in die winkel. Sommer van agter af. Ek moet hulle vang; ek sal vir hulle ruk en pluk,” knor sy. 

Wynand is dadelik dik van die lag.

“Nee, vrou. Dis nie hoe die Here dit wil hê nie. Ons het mos vir ons sondes jammer gesê, man. Daai Sondag ná die video. Ons het alles bely.”

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

Ronel tel egter spoed op: “Man, ek kan nie eens die asblikke uitvat nie, dan word ek ge-notice. Maar thank goodness die polisie het nie opgedaag nie. Dan was dit seker ’n veel groter storie.”

Buite die sitkamer van die gesin se huurhuis is ’n bordjie met die boodskap: “Nie deur krag of deur geweld nie. Maar deur my gees, sê die Here van die leërskare.”

Daar is hekelwerkies net waar jy kyk: gehekelde kruise teen die muur; doilies op die sitkamerbanke en selfs gehekelde diertjies wat met glasige oë na jou staar.

“My vrou is mal oor boere-kitsch,” vertel Wynand en wys na die groen keramiek­voëltjies op die televisiestel. “Hulle tjirp as jy hulle 'n bietjie skud.” Elke beeldjie is volgens hom 'n mooi herinnering. Langs hom rol Ronel haar oë.

Wynand en die flaminkskildery waarmee hy “niksverm
Wynand en die flaminkskildery waarmee hy “niksvermoedend” besig was toe die bakleiery op straat uitgebreek het. Foto: ER Lombard

Wynand is self 'n kunstenaar. Hy was juis besig om “niksvermoedend 'n skildery met flaminke te verf” toe die moeilikheidmakers in die video by hul huis opdaag. Hy het op laerskool al begin skilder, maar sy talent later op die agtergrond geskuif. 

Kort voor die gesin ingetrek het in die huurhuis in die video, het die muse weer kom aanklop en verskeie kunswerke het op sy doek verskyn: twee bokkies in 'n veld, 'n natuurtoneel, 'n venster­raam met 'n rankplant, die flaminke.

Daar’s hoeka nou mense wat op Facebook op die flaminkewerk bie. 

Maar hulle laaik hul nuutgevonde roem as straatbakleiers niks, vertel ­Wynand en Ronel. “Nou het selfs die ­pastoor met ons gespot,” sê Ronel. “Die mense het net begin vaak raak, toe sê hy: ‘Hugo, bel die polisie . . . My lidmate ­sukkel om wakker te bly!’ ”

Wynand is hees soos hy lag.

“Man, hy terg net. 'n Mens kan maar net saamlag.”

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

Die twee is al 32 jaar getroud. Hulle het in 'n woonwapark in Pretoria gewoon voor hulle in 2015 na die huurhuis in die video getrek het. 

“Ons was maar in die knyp ná baie moeilike jare. Veral nadat 'n vurkhyser 20 jaar gelede op my been beland het en ek nie meer kon werk nie,” sê Wynand. 

Dit was dié ongeluk wat sy been geëis het.

“Ag, en ná die dood van drie van ons kinders . . .” voeg hy by. “Ons wil nie graag daaroor praat nie.” 

“Daar was geen privacy in die karavaanpark nie,” sê Ronel. “Jy reën heeltyd nat. Toe sien ons die huisie in die koerant en ons besluit dís ons nuwe plekkie.”

Drie vreedsame jare het hulle daar gewoon. Toe kom dáárdie dag.

“Man, voor die fight laas jaar Desember het Wynand jr. en die blondekopvrou (in die video) se kêrel gereeld vir mekaar gegrom,” vertel Ronel.

Wynand jr. laat hoor: “Ek en die blondekop-girl het 'n fling gehad. Hy was jaloers en het heeltyd gedreig om my te m***. Toe sê ek, kom, wys my wat jy het.”

Ronel krimp ineen; Wynand lag oopmond.

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

“Die laaitie het vroeg kom skoorsoek. Hy’t my so met die skouer gestamp; gesê hy gaan my pot. Ek’t hom ge-tune: ‘Bra, as jy my wil pot, kan jy maar jou luck try.’”

Toe gaan haal die kêrel drie pelle. “Hulle het aan die hekkie loop ruk en pluk; ek’t nog van binne die huis geskree ek gaan vir hulle bykom,” val Ronel in.

En toe is die duiwel los.

“Die drie bars by die hek in en tackle vir Wynand jr.,” vertel Ronel. “Hy’t 'n pyp in die hand gehad en hy swaai hom. Man, maar alles gebeur so vinnig . . .”

Wynand jr.: “Dit was self-defence. Hy kan mos nie drie ander bring en teen een ou wil fight nie. Ek was lus vir hulle. Hulle was 'n klomp lafaards.”

Toe’s die vroue ook by. “Die blondekopvrou het gesê sy gaan mý sommer m***,” vertel Ronel verontwaardig. “Toe gryp ek die pyp by Wynand, en boetie, ek lê in.

“Toe kom help Angelique my, en dié twee pluk mekaar aan die hare.”

Weens die vegtendes se geswets en ­geskree was daar gou toeskouers – ook die buurvrou met haar selfoon. Sy was al besig om die petalje te verfilm toe ­Wynand, kaalbolyf en wankelend op sy een been en prostese, uitgestorm kom.  

“Laat ek nie jok nie . . . Ek was rof in my jonger dae. Ek ken van fight. Check die tand; hy’s uitgeslaan,” beduie hy. “Ek het selfs al 'n knuckle losgeslaan op iemand.

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

"Maar al het ek kalmeer nadat ek met Ronel getrou het, kon ek nie toelaat dat my vrou of kinders seerkry nie. Toe waggel ek uit, en verloor nog amper my balans ook. Maar toe jaag hulle weg . . . Ek kon hul kar net so 'n stampie gee.”

Hulle is eers twee maande ná die moles uitgesit en het toe na dié nuwe huurhuis elders in Pretoria-­Noord verhuis. Die verhuurder het hulle nie herken nie. 

Maar ai, die skielike roem is 'n kruis.

“Man, ons is nie eens op Facebook nie; dis waar duiwelsdinge uitbroei,” sê Ronel. “Toe haak ons nou hierdie een keer uit, dit word verfilm en die hele wêreld lag.”

Hulle was nooit bevriend met die selfoonvrou nie.

“Daai karretjie het net weggejaag, toe check ons haar. Ek het nog gesê: ‘Loop gaan na jou huis toe; mind your own business.’ Maar sy’t anderdag gebel . . . is glo nie sy wat die video versprei het nie. Dit sal seker ’n mystery bly,” sê Ronel. 

“Ag,” sê sy dan. “Baie mense was lelik ná die video. Maar baie ander het gesê hulle het ook al drooggemaak; hulle is net nie afgeneem nie. 

“Ons almal maak boggherops. Maar ons het nou vir die ­kinders gesê, loop maak weer sulke drama, dan lê ons daai pyp op júlle in. Ons bly nou uit die koerante uit.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.