Hulle is dan kerkmense – en dáárdie video is nie ’n uitbeelding van wie hulle wérklik is nie.

Tog het hulle die land kiertsregop laat sit, dié swetsende gesin van Pretoria-Noord en die veglustige “bende” wat appels swaai in die straat. En duisende kykers kon eenvoudig nie genoeg kry van die buurvrou se angsgille en haar pleidooi aan Hugo om die polisie te ontbied nie . . . 

Dit was soos ’n tweegeveg in die ware tradisie van die Wilde Weste – en duisende in die sosiale media het afwagtend sit en kyk wie die volgende skuif gaan maak.

Vandag – net meer as agt maande nadat die "Hugo, bel die polisie"-video in die noorde van Pretoria opgeneem is – praat Wynand Janssen (55), die man in die video wie se been geamputeer is, oor wat presies op daardie dag van onmin afgespeel het.

Hy antwoord eers die tergende vraag op almal se lippe: Hét Hugo toe die polisie gebel? 

“Nie waarvan ek weet nie,” vertel Wynand laggend aan Huisgenoot. “En as Hugo het, het hulle nooit daar opgedaag nie. Ons wag vandag nog.”

Die video het die ganse land aan die lag – en die Janssen-gesin lag ewe lekker saam. Maar, voeg Wynand dan by, hulle is darem nie so wild soos dit op daardie video lyk nie . . . 

“Man, ons is kinders van die Here. En dis nie mooi om so te fight nie. Ons is die Sondag daarna kerk toe en ons het sondes bely – jy weet, dis wat ’n ou moet doen.”

’n Oomblik lank stilte, dan sê Wynand: “Maar ek is ook ’n pa. En ’n pa moet sy laaitie beskerm as hulle hom so in die middel van die straat wil tackle.”

Hugo, bel die polisie
Wynand jr. Foto: Verskaf

So wat hét op daardie dag gebeur? 

“Ek was besig om te skilder,” onthou Wynand oor daardie dag in Desember verlede jaar.

“Toe hoor ek die gille. En dadelik dink ek: ‘Waddehel gaan nou hier aan? Dit kan mos nie goed wees nie’. En toe ek na die hek se kant loop, sien ek daar is jong manne – so twee of drie – wat skoor soek met my laaitie.”

Wynand sê die twee of drie jong manne het in die wit motortjie by die huis opgedaag en na sy seun, Wynand jr. (29), gevra. 

“Hulle wou hom pot omdat die een ou oortuig was Wynand het ’n affair met sy meisie – die blondekopvrou in die video. Maar hulle was net pelle, niks meer nie. Maar die man was kwaad en hy wou Wynand bykom, toe bring hy vir hom nog twee latte saam.

“Maar terwyl hierdie ding nou afspeel, dink ’n ou vir jouself: Dit kan mos nie wees nie – Wynand het ’n girl van sy eie, en sy eie babatjie is dan pas gebore . . .”

Hy’t g’n affair met die blondekopvrou gehad nie, skreeu Wynand jr. van anderkant die vertrek oor die telefoon.

“Die ou het my net niks gelike nie – dís hoekom hy my wou bykom.”

Foto: YouTube-skermgrepe (Son)
Foto: YouTube-skermgrepe (Son)

Maar toe breek alle hel los: Die mans takel mekaar met vuiste en pype en die twee vroue pluk mekaar rond aan die hare. Ma Ronel (50), Wynand se vrou, kyk hulpeloos toe – en skree: “Stop dit! Stop dit!” 

Dan kom Wynand uitgestorm. Eers wil Wynand jr. hom terughou, maar dié pa wil niks weet nie – en dan stamp hy die wit motortjie met sy volle gewig nes die veglustige bende daar wegtrek.

Terwyl dié geveg soos ’n fliek in die straat afspeel, staan ’n buurvrou oorkant die pad om die kattekonsert op video vas te vang. En heeltyd skreeu sy: “Hugo, bel die polisie! Hugo, bel die polisie . . .”

“Ek ken die buurvrou van g’n kant af nie. Al wat ek weet is dat sy vriende is met die eienaars van die huis waar ons gehuur het. Ag, maar dit pla my nie. Dit het gebeur en dis verby.”

Hulle is sowat twee maande later uitgesit, die Janssen-gesin wat soveel drama in die straat veroorsaak het. 

Hugo, bel die polisie
Een van Wynand se kunswerke. Foto: Verskaf

Deesdae woon hulle in Mountain View – ’n voorstad van Johannesburg – en hulle is baie rustiger as voorheen.

“Man, ons lag lekker saam vir dié video wat nou so in die sosiale media versprei het. Ek sê anderdag vir iemand ek dink nie mense sou soveel daarvan gelag het as ek nie half-kruppel en met die af been daar uitgestorm het nie. Mense moet weet: My been is af – nie my arms nie. Ek was nie bang om hulle aan te vat nie.”

Wynand se been is twee dekades gelede geamputeer ná ’n fratsongeluk aan diens. ’n Vurkhyser het op sy been beland.

Vandag skilder hy – en Ronel is steeds huisvrou, nes al die jare voorheen.

Wynand lag. “Ek sê vir Ronel ons is nou famous – ek moet dit gebruik om van my paintings te verkoop. Dan kom daar darem een goeie ding uit hierdie storie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.