Enigeen wat al die verhoog op hul gradeplegtigheid betree het, sal jou vertel dis ’n trotse oomblik – die hoogtepunt van jare se harde werk.

Behalwe as jou naam Laurent Simons is. Hy het net nege maande nodig gehad om iets reg te kry wat die deursneestudent drie jaar neem om te bereik, en wat sy prestasie nog merkwaardiger maak, is dat hy net nege jaar oud is. Laurent word as ’n kindergenie bestempel en word met groot geeste soos Albert Einstein en Stephen Hawking vergelyk.

Hy praat vier tale vlot en het ’n intelligensiekwosiënt (IK) van 145, terwyl die meeste mense s’n tussen 70 en 130 is. En nou is dié slimkop goed op pad om die wêreldrekord te verbeter vir die jongste persoon om by ’n universiteit graad te vang.

Laurent, wat in België gebore is, ontvang waarskynlik in Desember sy graad in elektriese ingenieurswese aan die Tegniese Universteit van Eindhoven in Nederland. In sy pad is net sy finale projek – oor ’n breingekoppelde elektriese skyfie.

Die huidige rekordhouer is Michael Kearney van Hawaii, wat net 10 jaar oud was toe hy in 1994 sy B.A.-graad in antropologie aan die Universiteit van Alabama behaal het.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Michael Kearney was 10 toe hy graad vang; dis tans die wêreldrekord. Foto: Gallo Images/Getty Images

Michael (nou 35) het glo op vier maande sy eerste woorde gesê en op ses maande aan sy pediater gesê: “Ek het ’n linkeroorinfeksie.”

Hy het eindelik sy eerste meestersgraad in chemie aan die Staatsuniversiteit van Middle Tennessee behaal en vier jaar later nog ’n meesters agter sy naam gehad, dié keer in rekenaarwetenskap aan die Vanderbilt-universiteit.

Op 22 het hy sy doktorsgraad in chemie behaal.

Dit lyk of Laurent dieselfde onverklaarbare gawe vir studeer en presteer het. Sy ouers, Alexander (37) en Lydia (29), skryf dit toe aan ’n fotografiese geheue, en Lydia skerts sy “het baie vis tydens die swangerskap geëet”.

Sjoerd Hulshof, direkteur van die voorgraadse program vir elektriese ingenieurswese aan die Eindhoven-universiteit, beskryf Laurent as “uitsonderlik”. Hy sê Laurent se IK stem ooreen met sy emosionele intelligensie.

“Hy is nie net hiperintelligent nie; hy is ook ’n uiters simpatieke seun,” het hy aan die nuuskanaal CNN gesê.

Dit was Laurent se grootouers wat die eerste keer iets unieks omtrent hul kleinseun opgemerk het. Hulle het vir Lydia, ’n kantoorbestuurder, en Alexander, ’n tandarts, gesê hul seun is begaafd, maar sy ouers het gedink hulle oordryf.

Eers toe sy laerskool bevestig Laurent se ontwikkeling is vinniger as dié van sy klasmaats, het hulle begin kennis neem. Die onderwysers het ’n toets saamgestel om die omvang van Laurent se talente te bepaal.

“Hulle het vir ons gesê hy is soos ’n spons,” sê Alexander.

Dié negejarige is goed op pad om die jongste gegra
Dié negejarige is goed op pad om die jongste gegradueerde ooit te word.

Laurent het op vier met laerskool begin en op agt sy hoërskool-studie voltooi – nadat hy ’n vyf jaar lange hoërskoolprogram in net 18 maande voltooi het.

Daarna is hy universiteit toe.

Prof. Peter Baltus, een van Laurent se dosente, beskou hom as drie keer so slim as die intelligentste student wat hy al in sy loopbaan ontmoet het. Dis nie verbasend dat Laurent, wat veral versot is op wiskunde en wetenskap, die aandag van vername tersiêre instellings in Engeland soos die Oxford- en Cambridge-universiteit getrek het nie.

Maar hy het sy visier op Amerika gestel – en om ander redes as die akademie. “Ek wil graag Kalifornië toe gaan. Die weer is lekker daar,” het die seun aan die koerant The Daily Telegraph gesê.

Hy droom daarvan om eendag kunsmatige organe te ontwikkel en ’n omwenteling in hartoperasies te maak omdat sy grootouers hartsiektes het.

“Laurent beoog om ’n doktorsgraad in lewensverlenging te behaal deur navorsing oor kunsmatige organe en robotika te doen,” sê Alexander.

Hy is dalk ’n genie, maar sy ouers is vasbeslote om vir hom normale kinderjare te gee. Wanneer hy nie studeer nie, geniet hy die videospeletjies Fortnite en Minecraft, kyk Netflix of bring tyd deur saam met sy hond, Sammy.

“Ons wil nie hê hy moet te ernstig raak nie,” sê Alexander. “Ons moet ’n balans tussen sy kindwees en sy talente kry.” 

BRONNE: CNN, DAILYMAIL.CO.UK, NYPOST.COM, NYTIMES.COM; FOTO’S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM/@LAURENT_SIMONS