Yuri Tolochko vertel hy en sy ongewone meisie is genooi om op ’n Russiese komedieprogram te verskyn al neem hy sy verhouding met Margo die pop baie ernstig op.

Yuri het foto’s van hom en sy poplag agter die skerms van hul televisieverskyning gedeel met die boodskap: “Ek sal dit nie bederf nie. Julle sal op die regte tyd uitvind!” 

Volgens die plaaslike media gaan die akteur, regisseur en liggaamsbouer al agt maande met Margo uit; en al erken hy hulle maak soms rusie, wil die fris Kasak met die sekspop trou.

Yuri sê hy het Margo onlangs na ’n kliniek gestuur sodat snydokters sy meisie nog mooier kon maak, na sy glo – aldus hom – ’n "kompleks" oor haar voorkoms begin ontwikkel het.

“Toe ek haar foto vir die wêreld wys, was daar baie kritiek. Sy het ’n kompleks begin ontwikkel, daarom het ons op plastiese chirurgie besluit,” sê hy.

“Sy het baie verander. Eers was dit moeilik om te aanvaar, maar ek het later daaraan gewoond geraak. Dit was by ’n regte kliniek met regte dokters.”

Luidens berigte hanteer die akteur die pop, wat haar eie Instagram-blog het, soos ’n lewende mens en het hy selfs vir haar ’n werk as ’n kelnerin by ’n kroeg gekry.

“Sy kan nie self loop nie, sy het hulp nodig. Margo kan nie kook nie, maar sy hou van Georgiaanse kos. Haar gunsteling-gereg is khinkali. Sy vloek, maar daar is ’n sagte siel daarbinne.”

Volgens Yuri het hy Margo in ’n kroeg ontmoet toe ’n jong man die pop aangeval en hy haar glo beskerm het en hy meen hulle is sedertdien onafskeidbaar.

Dit is onbekend wanneer die twee sal afhaak.