Die Noorweër Jan Hakon Erichsen (40) van Oslo bring ure deur in sy ateljee om kontrepsies uit hout, stekelrige vetplante, kleefband en rye messe of ’n enkele mes te bou met een doel voor oog – om duisende opgeblaasde ballonne te vernietig.

Dis 'n wonderwerk dat hy homself nog nie beseer het nie.

Hy raam hy het tussen 500 en 1 000 messe. Maar moet hom nie vra hoeveel ballonne al in die slag gebly het nie.

Hy neem dit met sy slimfoon op – dit verg dikwels ’n paar probeerslae om 'n klomp ballonne op een slag te laat bars. Van die ballonne het confetti of blinkertjies binne-in of is swart geverf om te lyk soos ’n “swart son wat ontplof”.

Maar hy maak dit duidelik in ’n TV-onderhoud dat die uitvoerende kuns van hom nie ’n verborge spesiale betekenis het nie.

“Ek het dit aan die begin net vir die pret gedoen en aanlyn gedeel. Die mense was mal daaroor; toe hou ek aan daarmee.”

Sy vorige foefie om volgelinge te lok, was om met katoeters en met sy kop, gerwe rou spaghetti te breek.

Wie weet waarmee hy volgende vorendag gaan kom.

Bronne: nymag.com, dw.com