Shay, van nature ’n groot poetsbakker en opperste platjie, het besluit sy begrafnis sal lank onthou word. Of hy besef het dit gaan soos ’n veldbrand deur die kuberruimte versprei, is  te betwyfel. Die video is reeds meer as 33 000 keer gekyk en die kans is goed dat die getal aansienlik sal groei.

Maar wat het hy aangevang?

Wel, die terminaal siek Shay het planne beraam om sy laaste poets te bak ná sy dood toe hy ’n jaar tevore aan ’n opname begin werk het. Sy dogter, Andrea Bradley, sê hy het haar, haar broer, Jonathan, en haar neef Ben versoek om seker te maak die opname word op sy begrafnis gespeel, as’t ware wanneer die kis in die graf neersak.

Shay, ’n weermagveteraan, het op 8 Oktober sy laaste asem uitgeblaas, maar die opname uit die kis sou weliswaar die spreekwoordelike “laaste woorde” wees.

Hy wou volgens Andrea seker maak dat haar ma, Anna, sy jeugliefde met wie hy 43 jaar getroud was, die begraafplaas laggend en nie treurend nie verlaat.

Gelukkig het sy geweet dat daar ’n opname gaan wees wat die een of ander tyd gespeel gaan word, maar dis onseker of sy geweet het presies wat haar man letterlik uit die graf sou sê.

Terwyl die doedelsak weemoedig ’n deuntjie uitbasuin, is die eerste ruiker op die kis laat val. En toe gebeur dit.

Waarskuwing: Kru taal

“Hallo, hallo,” kom dit vanuit die kis. Dan word dit gevolg deur klopgeluide. “Hallo, laat my uitkom!” volg en die begrafnisgangers begin giggel.

Dan word daar gehoor dat dit “f****n donker hierbinne” is. Die giggel word ’n volskaalse gelag.

“Is dit daardie priester wat ek kan hoor?” kom dit weer. “Dit is Shay, ek’s in die box. Nee, f****n voor jou. Ek’s dood.”

Nog ’n klomp hallo’s word gehoor, en die stem gaan voort: “Ek kan julle hoor.” Nog ’n paar klopgeluide en selfs ’n amper-paniekerige “help my, asseblief” laat die mense skater.

Dan begin die stem aanvanklik sterk en dan bewerig sing: “Hello again, hello, hello, I just called to say goodbye. I’m gonna die, I’m sad to say,” op die deuntjie van Lionel Richie se treffer "Hello".

Ene Robin Slick het gesukkel om te verstaan hoekom daar 'n video van die begrafnis gemaak is en of dit nie dalk 'n gebrek aan respek is nie.

Jay, Shay se seun, het in reaksie daarop gesê hulle het dit verfilm omdat hulle geweet het wat kom.

“Ons wou almal se reaksie vaslê. Dis nie ’n gebrek aan respek nie, want dit was my pa se wens. Dit sou sonder respek gewees het as ons dit nie vir hom gedoen het nie. Ons het wel nie verwag dat dit soos ’n veldbrand sou versprei nie.”

Shay se laaste wens is toe weliswaar vervul — om mense te laat lag op ’n dag van hartseer.

“Hy was heelwat man vir een man,” het Andrea op haar Twitter-plasing gesê en dit afgesluit met #Shayslastlaugh

Bronne: huffingtonpost.com, nydailynews.com