Dit was Stu Berry, die direkteur van die iMfolozi Outrun in Hluhluwe, KwaZulu-Natal, se idee om ’n opgestopte leeu langs die roete te plaas.

“Hierdie wedloop is ’n prettige een, wat nie gaan oor die resies nie, maar eerder om net te geniet om deur Afrika se oudste geproklameerde wildreservaat te hardloop, vertel Stu.

“Ons wou iets op die roete plaas wat mense aan die praat en lag sou kry, voeg hy by.

Die pretloop het plaasgevind oor twee dae: ’n 19 km-wedloop op die eerste dag en 15 km een op die tweede. Die stukkie leeu-pret was op die laaste dag.

’n Fotograaf was ook byderhand om deelnemers se reaksies af te neem toe hulle die koning van die oerwoud teëkom.

Daardie aand tydens ete is die foto's op ’n groot skerm gegooi en almal kon lekker lag vir mekaar.