'n Passasier wat in 'n voertuig agter die trok gery het, het die voorval op sy selfoon afgeneem en toe in die kuberruim gedeel. 

In die video kan ’n mens sien hoe ’n man vasklou aan wat lyk soos sinkplate op die agterkant van 'n vragmotor terwyl dit op die N2-snelweg naby Durban ry.

Dan kan jy ook sien hoe die sinkplate van die trokkie se agterkant afwaai en die man byna saamsleep, maar genadiglik het hy veilig agter in die vragmotor se bak – en nie in die verkeer nie – beland. 

Die persoon wat die amper-ongeluk afgeneem het, lag hoorbaar histeries selfs nadat hy uitswaai toe sy motor amper deur een van die sinkplate getref word. 

Die padveiligheidsorganisasie Arrive Alive het die video op Twitter gedeel en die insident veroordeel. “Dit is ongelukkig nie iets om oor te lag nie, dinge kon baie sleg uitgedraai het,” het hulle by die video geskryf. 

Volgens 'n woordvoerder van die Durbanse metropolisie, senior superintendent Parboo Sewpersad, was die vragmotorbestuurder roekeloos.

“Hy moes beheer gehou het van die goedere en passasier op die trokkie se bak, maar het versuim om dit te doen. Dit kon noodlottig geëindig het,” het hy aan Huisgenoot gesê. 

Teen druktyd was die metropolisie nog op soek na die bestuurder en passasier. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.