Ontmoet vir “Messi”, die Franse bulhond wat in sy tuisstad, Dublin, in Ierland met sy sokkervernuf naam gemaak het.

Klink dit vergesog? Kyk dan self na die video van die hond, wie se regte naam Cookie is. Hy het saam begin speel tydens ’n sokkerwedstryd en het behoorlik die bal én die kollig gesteel.

’n Toeskouer, Ronan McGreevy, het die hond se vaardighede op kamera vasgelê terwyl hy deur verdedigers gevleg het. Dit lyk boonop of hy die basiese reëls van die spel goed onder die knie het.

Hy het heelwat steun in die sosiale media gekry. “Die hele span draai om daardie hond. Hulle is niks sonder hom nie,” het een Twittergebruiker talle se gevoel opgesom.

Lionel Messi sal in sy spoor moet trap!