Dus voel De Wet du Toit, ons eie Tarzan van die Outeniekwaberge, hy het op 32 nog baie tyd om sy groot droom van 'n internasionale deurbraak as die legendariese oerwoudkoning te bewaarheid. En dié selfgeskepte YouTube-ster, wie se Tarzan-dinge hom al selfs 'n plek in 'n Netflix-dokkie besorg het, ken duidelik nie van opgee nie.

De Wet, van die lowerryke Tuinroete-dorp George, koester nou al 'n hele paar jaar dié silwerdoekdroom, hoewel sy belangstelling in die karakter wat Edgar Rice Burroughs in 1912 geskep het reeds vlamgevat het toe hy en sy tweelingbroer, Rudolf, as jong laaties op 'n Namibiese wildsplaas omtrent pal in die buitelug geleef het. 

Toe die Hollywood-gogga hom eers byt, het hy en Rudolf aanvanklik 'n kortfliek gemaak, Tarzan: King of the Jungle, kompleet met olifante, groot slange en 'n sexy Jane, waarmee hulle die vervaardigers van die groot Hollywood-produksie The Legend of Tarzan wou oortuig hy wat De Wet is, is die aapman vir die jop.

Die prent het toe in 2016 die teaters getref . . . Maar ja, nugter weet wat hulle in daai Skarsgard gesien het.

De Wet en sy boet het egter nog Tarzan-video's geskep, deels om Hollywood wakker te probeer skud, en deels vir sy groeiende YouTube-aanhang. Só was daar Revenge of Tarzan, Tarzan vs Predator en verskeie "show reels" waarin De Wet wys hoe tuis hy in enige nuwe Tarzan-weergawe sou wees.

Met hul jongste aanbod, Tarzan: Curse of the Mummy, slaan hulle weer 'n heel nuwe koers in.

"Ons het nou 'n paar akteurs kom sien en na locations kom kyk, want ons wil sien of ons al teen Januarie met dié nuwe produksie kan begin," vertel De Wet geesdriftig toe ons die Du Toit-boers onlangs by die Waterfront in Kaapstad kry.

Voordat hulle middel 2019 teruggeskuif het George toe vir die amptelike stigting van hul filmmaatskappy, Twin Oak Films, het hulle 'n paar jaar hier in die Kaap alles en nog wat in die filmbedryf gedoen. En hulle reken hul geesdrif oor die Tarzan-ding het hulle juis gehelp om werk te kry en waardevolle ondervinding op te doen in 'n wisselvallige bedryf . . . al wou 'n groot internasionale vervaardiger nog nie aan hul troetelprojek byt nie.

"Met Curse of the Mummy wou ons 'n ander konsep tafel toe bring . . ." vertel De Wet geesdriftig. "Daarin gaan Jane op 'n humanitêre missie Egipte toe, en dan word sy deur 'n klomp Arabiese slawehandelaars ontvoer.

"Maar dié ouens is eintlik mummies. En Tarzan gaan dan agterna om haar te red," beduie De Wet. Maar daar's te veel van hulle, selfs vir Tarzan, "en hy word gevang en ge-mummify. En dan moet die vloek van die mummies eers gebreek word . . . daarvoor moet 'n skattejagter 'n book of lost souls opspoor."

Die broers is nogal optimisties oor 'n moontlike belegger in Amerika. Van die akteurs wat hulle nou in Kaapstad kom sien het, het voorheen ook saam met hulle gewerk op die stel van die internasionale trefferreeks Black Sails, wat hier verfilm is. 

"Uiteindelik wil ons dié kortfliek by filmfeeste soos Sundance en Cannes kry. Ek het intussen ook 'n agent in Hollywood gekry: Mike Gerard, wat my gekontak het nadat hy my in die realiteitsprogram The Eccentrics gesien het. Die Netflix-span het ons uit Kanada hier kom opsoek en ons in die Kaap, George en die Knysna-olifantpark verfilm."

'n Netflix-sinopsis vir The Eccentrics lui: " 'n Reeks profiele oor unieke en fassinerende individue van reg oor die wêreld; ons kyk wat presies hulle maak wat hulle is." Die episode oor De Wet, getiteld Living Like Tarzan, het gefokus op sy "dag-tot-dag-lewe as Tarzan", hoe hy die berge verken, in ysige riviere en watervalle swem en soms ook in Tarzan-gewaad op die dorp rondloop. 

Hoe ook al, De Wet en Rudolf hoop Mike kan hul Mummy-projek die regte blootstelling help kry. En buiten die filmfeeste wil hulle dit ook direk aan vervaardigers stuur. Wie weet, dalk besef iemand eindelik daar hoef glad nie verder as die Outeniekwaberge gekyk te word vir die volgende Hollywood-Tarzan nie.

De Wet sê van die BBC, ABC en NBC tot Duitse, Sweedse, Belgiese en Chinese media het al oor hom berig. Hy het al tot Japannese TV gehaal. Miss Imoto, 'n gewilde komediant, wou hier 'n paar avonture saam met die Afrika-Tarzan en wilde diere kom skiet. Vir sy mal week saam met Miss Imoto kon hy darem R30 000 in sy sak steek.

Verskaf
Verskaf

"Met die groter oorsese produksies kan jy op 'n kontrakbasis so R1 000 per dag verdien," sê Rudolf, wat onder meer met Black Sails vir Toby Stephens (kaptein Flint) ingestaan het. De Wet het eweneens in die reeks vir Luke Arnold (John Silver) ingestaan, en albei broers was ook deel van die waagtoertjie-span.

Rudolf en De Wet op die stel van Black Sails.
Rudolf en De Wet op die stel van Black Sails.

Tarzan het sy "velbroek" ook al vir 'n oranje oorpak in 7de Laan verruil, hoor ons. Maar daarin het Rudolf eintlik die groter "tronkvoël"-rol as De Wet gehad: as Jan, wat hom in die tjoekie oor Xander (Theodore Jantjies) ontferm het.

Die broers het ook op die stel van die groot TV-reekse Troy: Fall of a City en The Widow (met Kate Beckinsale) gewerk. Hulle het die afgelope jare omtrent alles leer doen, buiten die klein rolletjies en ekstra-werk byvoorbeeld ook waagtoertjies, aksievoertuig-jaagtogte, perdehantering en beligting.

En vir hul Tarzan-flieks is hulle die draaiboekskrywers, vervaardigers, regisseurs, grafiese ontwerpers . . . die lot. 

Die Egiptiese tema van Curse of the Mummy gaan 'n uitdaging wees, reken De Wet. Maar hulle het reeds 'n paar sandduine in Atlantis in gedagte, waar tonele vir die jongste Scorpion King-fliek ook geskiet is, en die Kangogrotte en Houtbaai en Constantia se ou mangaanmyne kan lekker werk vir hul piramidetonnel-tonele. 

Die Príncipe-eiland en Kongo in Revenge of Tarzan het hulle in Kampsbaai herskep, en George en omstreke was ideaal vir Tarzan vs Predator. Behalwe vir die muskiete . . . 

"Dit was somer, baie tonele was in of naby water en daar was miljoene muskiete." Húlle het Tarzan lewendig opgevreet, watwou ruimtewesens. "Ek het gedog ek gaan malaria kry," vertel De Wet, wat nes sy broer 'n Arnold Schwarzenegger-aanhanger is. 

'Die eerste eko-kryger'

Die Tarzan-storie kom al 'n ver pad. De Wet en Rudolf is in Rustenburg gebore, maar deurdat Pa Ludolf 'n natuurbewaarder en plaasbestuurder was, het die tweeling meestal op wildplase in Namibië en Botswana grootgeword. Terwyl ander kinders TV gekyk het, het die boeties met 'n kettie of boog die veld ingevaar en noue ontkomings gehad met slange, volstruise en renosters. Ludolf het sy versameling Tarzan-boeke vir sy seuns gegee toe hulle ses was, en die ongetemde heerser van die oerwoud het De Wet se verbeelding gaande gehad.

Die broers het op hoërskool in George dramaklasse geloop en ná matriek onder meer as fiksheidsinstrukteurs gewerk. 

De Wet hou van die Tarzan-karakter se kragdadigheid, "sy liefde en respek vir die natuur, dat hy net uit honger of selfverdediging doodmaak, van sy eerlikheid en selfdissipline.

"En met die verhaal wat al in 1912 geskryf is toe daar nog nie goed soos anti-poaching units was nie, was hy een van die eerste ouens wat regtig vir diere baklei het – die oorspronklike eco-warrior . . ."

 Verskaf
Verskaf

Hy skat hy het as Tarzan al omtrent by 20 motiveringspraatjies gaan hou. Buiten die belangrikheid van 'n gesonde leefstyl, sal hy dan ook die oerwoudheld se goeie waardes bespreek, en diereregte.

De Wet meen sy strawwe oefenprogram help hom as akteur. Jy kan nie oortuigend met wilde diere stoei en in bome rondswaai as jy so skraal soos Christopher Lambert is nie, sê hy. Casper van Dien was ook darem te veel van 'n metro-Tarzan. Tarzan moet mos 'n dierlikheid uitstraal, meen De Wet.

Om die volmaakte Tarzan te kan bly, oefen hy steeds vyf dae per week in die gimnasium . . . en gereeld in die wildernis.

Op 'n tyd het hy amper daagliks die Outeniekwaberge ingevaar, vir ure op 'n slag, om "bosfiks" te bly. Met Burroughs se Tarzan-boeke en klassieke Tarzan-strokiesprente soos Burne Hogarth s’n as riglyn, het hy 'n studie gemaak van hoe Tarzan deur die ruigtes en bome beweeg, en aan sy tegniek geskaaf.

Noudat filmwerk hom besiger hou, het hy ietwat afgeskaal op sy natuurprogram, "maar ek gaan steeds so elke tweede dag berge en bos toe om in karakter te bly. As jy heeltyd in die stad is en jy moet skielik weer Tarzan speel, verloor jy jou hardloopstyl. Jou voete raak sag . . ."

De Wet sweer die ure alleen in die natuur het sy sintuie verskerp. "Ek ruik mense se spuitgoed lank voor hulle by my verbystap . . ." Sy wakker sintuie het ook al verskeie maal gekeer dat hy so kaalvoet op pofadders of kobras trap.

Hy glo Tarzan se toerusting moet so eg moontlik lyk. Hy sal self die materiaal vir sy lendekleed gaan uitsoek, "dit opknip en vir my ma gee om aanmekaar te stik".

Met sy boë vat hy effens kortpad – "ek sal 'n langboog by 'n sportwinkel kry en leer of lappe daarom draai om dit daai authentic look te gee". Sy eerste Tarzan-jagmes is uit 'n ou motorbladveer gesaag en skerp gevyl, hoewel hy dit nou oorweeg om na 'n groot "Bowie knife" op te gradeer vir die circa 1930’s-Mummy-avontuur.

Is hy nie bekommerd oor sy aksent en gebrek aan formele toneelonderrig nie?

"Kyk, Tarzan het mos eers begin praat toe hy omtrent 20 was. En jy kan in al die flieks gaan kyk: Johnny Weissmuller praat nie juis nie, Christopher Lambert het nie 'n woord gesê nie, Miles O' Keefe ook nie." Weissmuller, een van die beste Tarzans ooit, was ook byvoorbeeld eintlik 'n Olimpiese swemmer pleks van 'n opgeleide akteur, en O' Keefe 'n Amerikaanse voetbal-speler.

De Wet noem terloops dat sy YouTube-Tarzan-kanaal al 62 000 plus intekenare het, en reeds 20 miljoen kykslae aangeteken het . . . meer as byvoorbeeld Bok van Blerk s’n.

Hy en Rudolf dink ook nou daaraan om self 'n dokkie te maak, met die voorlopige titel Walking with Tarzan. Daarin wil hy, in karakter, saam met verskillende Afrika-stamme uithang en 'n ruk soos hulle leef. "Ek wil oral saam met hulle in my velbroek rondhardloop . . .