Gemma Holdway (19) se pa het die Europese vos-kleintjie en haar vier sibbe verlede jaar in 'n hoop hooi ontdek toe hy 'n skuur op die gesin se plaas in Bath, Somerset, skoonmaak. Hy het eers gedink dit was klein katjies, maar sy dogter, wat dierewetenskap en -bestuur swot, het net een keer na hul wit stertpunte gekyk en besef dit was vos se kind.

Die Holdways het begin vrees die kleintjies sou doodgaan toe hul ma nie terugkeer nie. Hulle het selfs ál die beeldmateriaal van hul kringtelevisie by die skuur gefynkam om te sien of die ma hulle nie wel weer kom soek nie, maar daar was geen teken van haar nie. Hulle het vermoed sy is dalk raakgery op die besige pad naby hulle of is op 'n ander manier dood.

Gemma het met 'n dierehospitaal gereël dat sy die vossies soontoe sou neem vir latere hervestiging in die natuur. Maar toe 'Vixey', die swakste van die werpsel, se oë teen dag vyf oopgaan en sy Gemma eerste gewaar, het inprenting skynbaar plaasgevind – die sleutelfase in diere se lewe waar hulle 'n band vorm met hul ouer, of ten minste wat hulle dink hul ouer is.

"Ons het dit nie toe heeltemal besef nie, want dit het so vinnig gebeur, maar sodra vosse hul oë oopmaak, is wie ook al hulle eerste sien vir hulle 'ma'," het Gemma vertel.

Waar drie van die kleintjies dus wel deur die dierehospitaal in die natuur hervestig kon word, het sy Vixey aangeneem en hans grootgemaak. Die vyfde kleintjie is ook deur iemand aangeneem.

Toe sy nou eers besluit sy's bestem om Vixey te hou, het Gemma haar aan haar vier honde, die Jack Russells Raisin, Nidge en Polar Bear en die labrador Luna bekendgestel.

"Vixey volg die honde nou oral, en boots hulle na." Raisin vervul die rol van die matriarg.

YouTube
YouTube

"Luna in die besonder was wel eers baie onseker oor wat Vixey was en wat sy moes doen wanneer dié met haar wou speel. Maar nou is hulle mal oor mekaar, die beste vriende." Dit het natuurlik baie mense wat dié aardige troppie sien aan die Disney-treffer The Fox and the Hound laat dink.

Gemma voer Vixey, gaan stap soggens voor brekfis saam met haar, en sal haar selfs soms bad, maar andersins gun sy haar die vryheid om die plaas bedags op haar eentjie te verken. Die eiendom is omhein; 'vosbestand' gemaak. Dus kan sy nie uit nie en roofdiere kan nie in nie.

Vixey keer egter altyd saans ná haar omswerwinge terug huis toe, en slaap op haar aanneemma se bed of op die sofa.

Gemma, wat vurig gekant is teen Engeland se vosjag-tradisie, begryp dat Vixey 'n wilde dier en baie onafhanklik is. Maar sy weet ook die risiko bestaan dat haar hans-vos sal seerkry as sy bloot nou op haar eie in die natuur losgelaat word. Mense kan haar dalk leed aandoen; of selfs haar eie spesie – "as hulle ons aan haar ruik".

Dis werk dalk in haar geval, maar sy sal nie ander aanmoedig om vosse as troeteldiere te probeer aanhou nie. Hulle hoort in die natuur, meen sy.

Bronne: independent.ie, happiest.net, YouTube, Facebook