Dit is enkele dae nadat sy oornag kitsroem behaal het toe Marelize Horn (19) van Windhoek wéér met ’n geleende fiets koers kies in die rigting van ’n rugbypaal op die sportveld van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool.

Dié keer stap sy eerder – haar voete veilig op die veld terwyl sy die fiets stoot.

Sy dra ’n helm, “net in case”, verduidelik die jong Namibiër. By die rugbypaal gee sy ’n suggie. Op dié einste plek op die wye, oop sportveld het sy op 23 Februarie haar moses teëgekom toe sy met ’n harde slag in die paal vasgery het.

Kadoef, eggo die slag oor die sportveld in die video wat haar ma, Heidi (48), van die oomblik geneem het. En dan klink haar ma se verslae stem in die video op: “My f**, Marelize!”

Sedert die video daarna soos ’n veldbrand op die internet versprei het, kan Marelize nie by die deur uitloer sonder dat al wat leef haar geamuseerd groet nie: “My f**, Marelize!”

Nou kyk sy met ongeloof na die paal.

“In my kop het ek gesê: ‘Gaan regs!’ Die fiets wou links. En toe ontmoet ek my nuwe boyfriend.”

Nee, vertel sy, sy het nie enige ander kêrels in haar lewe nie. “Ek is in ’n vaste verhouding met daai paal.”

Later klim sy tog op die vervlakste fiets om te wys sy sukkel deesdae minder as in die video.

“Sien, hierdie keer vat ons ’n wye draai!” roep sy terwyl sy vervaard trap. Aan haar bene is immers nog hoeveel bloukolle van haar vorige pogings om in die saal te bly . . .

Marelize is die naweek nadat haar video die internet getref het alleen tuis by die Horns se huis in Pionierspark, ’n rustige voorstad van Windhoek. Ma Heidi en pa Thinus is in Johannesburg vir ousus Wilmari (21), ’n honneursstudent in bedryfsielkunde aan die Noordwes- universiteit, se gradeplegtigheid.

By die voordeur is ’n tuinkabouter en – ironies genoeg – ’n sierfietsie teen die muur.

Die borrelende Marelize wys ons Wilmari se slaapkamer, waar sy elke aand slaap omdat sy haar suster so mis.

Wilmari het ook onlangs ’n video van haar geneem waarin sy vergeefs probeer fietsry, erken Marelize.

In die video klink Wilmari se stem op: “Draai ’n bietjie by die bome en dan vat jy ’n groot draai links . . . Wat verstaan jy nie? Nee, wat doen jy?” roep Wilmari in die video. En dan, byna nes ma Heidi: “Stop, o f**!”

Want daardie keer het Marelize in ’n ry boompies vasgeneuk. “Ek’s ongelooflik clumsy,” erken sy waar sy haar tuismaak op die rusbank in die sitkamer met haar skeel kat, Olaf, by haar voete.

“Ek sal nóú van die bank af opstaan en oor die mat trip. En ek’t seker al drie keer in dáái muur vasgeloop.”

Marelize voor haar huis in Windhoek met ’n houtfie
Marelize voor haar huis in Windhoek met ’n houtfietsie wat Windhoek se Boeremark aan haar geskenk het.

Haar ma het die nou reeds beroemde video ’n week tevore geneem om dit aan ’n au pair-agentskap te stuur om te bewys Marelize kán fietsry.

Nadat sy verlede jaar aan die Hoërskool Windhoek gematrikuleer het, wil Marelize in Nederland au pair-werk gaan doen om te spaar vir haar groot droom om op ’n sendelingskip te gaan werk.

Maar sy sukkel nog om by ’n gesin in Nederland uitgeplaas te word. Die onlangsste gesin na wie sy sou gaan, het van plan verander omdat Marelize nog nie fiets kan ry nie – in die land van klompe en kase ry byna almal fiets.

Toe besluit Marelize om ’n video te maak waarop sy bewys sy kan . . . Heidi het gedink sy het reeds die “stop”-knoppie gedruk toe sy haar selfoon laat sak en die kragwoord laat val.

“Ek het die mense op die verste paviljoene hoor skree soos hulle lag!” vertel Marelize.

Het iemand darem gevra of sy oukei is?

’n Skermgreep van die video wat haar beroemd gemaak het.

“My ma. Maar dit was seker haar sesde vraag. Sy wou eers weet of die fiets oukei is.”

Heidi het die video vir Wilmari gestuur, en dié vir ’n paar vriende. ’n Kaapse prokureur het dit op sy Facebookblad geplaas, en van daar het dit soos ’n veldbrand versprei.

Teen die Dinsdag ná die Saterdag toe die video geneem is, het familielede Marelize begin bel om te sê die video is oral. Oornag was sy beroemd.

In Windhoek vra wildvreemde mense foto’s saam met haar en groet haar met “My f**, Marelize”.

“Ek weet nie wat om te sê nie; dis so vreemd!” lag sy. “Maar ek kan nie kwaad of skaam wees nie; dit het soveel mense soveel geluk gegee. Dis rêrig moeilike tye in Suid-Afrika én ons land. As iemand net vir ’n oomblik daarvan kan vergeet, is ek bly.”

Wilmari vertel vanuit Potchefstroom Marelize is van kleins af lomp.

“Sy kon eintlik lankal famous gewees het.”

Dit was Wilmari wat haar kleinsus die afgelope twee maande moes leer fietsry. Op laerskool het die twee sussies fietse gehad, maar dis binne twee weke gesteel.

Wilmari het in daardie twee weke lekker reggekom op die fiets, maar “Marelize is so ongekoördineerd, selfs netbal was vir haar moeilik”.

Heidi vertel oor die foon haar jongste was sedert “babatjietyd” ’n bietjie lomp.

“Op laerskool het nie ’n week verbygegaan sonder dat sy ’n bloukol iewers gekry het nie.

“Sy kyk nie altyd waar sy loop nie en val gereeld oor goed of loop in iets vas.”

Drie weke voor haar matriekafskeid het sy ’n sypaadjie misgetrap en haar enkel verstuit.

“Maar ek het geweier om my afskeid in ’n moon boot by te woon,” sê Marelize. Haar grootste verleentheid nog was toe sy daarna – ten aanskoue van almal in die skool – by ’n trap afrol, weer haar enkel verstuit en vier weke daarna wel ’n moon boot moes dra.

Ten spyte van haar lekker humorsin sê Marelize sy kry gereeld migraines soos wat sy haar oor die wêreld se swaarkry verknies.

Sy het ’n sagte plekkie vir diere en is ná haar fietsflater deur die Namibiese batteryvervaardiger Varta genader om by hul teenstropingsveldtog betrokke te raak.

Die Horngesin geniet dit om saam laf te wees. Agte
Die Horngesin geniet dit om saam laf te wees. Agter is pa Tiaan, en voor van links is Marelize, ma Heidi en Wilmari. Foto: Verskaf

“Dit lê my na aan die hart. Ek sal enigiets doen om te help,” sê sy.

Haar droom is om ’n loopbaan te maak van die verspreiding van die Christelike boodskap, vandaar haar plan om op ’n sendelingskip te gaan werk.

Twee jaar gelede is aggressiewe borskanker by ma Heidi gediagnoseer en Marelize vertel dit was ’n tyd van geestelike verdieping vir die gesin.

Die twee sussies was so geraak deur hul ma se siekte dat hulle albei hul hare wou afskeer, maar Heidi, wie se kanker tans in remissie is, wou niks daarvan weet nie.

“Sy wou ons lewe so normaal moontlik laat voortgaan; dit help nie ’n mens gaan sit in jou kamer en huil nie,” sê Marelize.

Sy vertel sy wil graag eendag ’n kind aanneem. “Ek het rêrig alles wat die lewe het om te gee en ek wil dit graag vir ’n kind teruggee. Ek het ’n gesin wat my in alles ondersteun het. Wanneer ek geval het, het hulle my ondersteun deur te sê: ‘Jy het mooi geval.’

“En wanneer ek my toon gestamp het, het hulle gesê: ‘Jy’t dié keer darem net een toon gestamp, nie drie nie.’ ”

  • Karin Eloff is ’n teksredakteur by die Namibiese Afrikaanse dagblad Republikein.