Dit lyk nes enige Vrystaatse boer wat op sy stoep sit en oor die plat wêreld met sy goue vlaktes tuur. Maar iets in die video lyk en klink vreemd ...

Op die rusbank langs Nico Roets (56) lê ’n gevaarlike gedierte op die naat van sy rug en maak onaardse kekkelgeluide. Sowaar, dis ’n hiëna!

In dié video wat onlangs soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei het, sit Nico met die jong roofdier se kop op sy skoot.

Die dier se bek is wyd oopgesper met sy dodelike slagtande ontbloot, maar sy gitswart oë weerspieël niks van die bloeddorstigheid waarvoor dié aasvreters bekend is nie.

Dis ook nie sommer enige hiëna nie; hy heet Petrus. En Petrus kry te lekker terwyl sy mensepa sy kop en pens krap.

Dan grynslag die dier van pure plesier, nes sy sibbes wanneer hulle op ’n wildebeeskarkas in die Serengeti-vlaktes afkom.

Nico se vrou, Karen (50), het hierdie video al sowat 18 maande gelede opgeneem, maar dit is eers onlangs in die sosiale media gedeel en teen druktyd is dit reeds 24 000 keer gekyk.

“Ons het die video saam met ’n klomp foto’s van Petrus aan ’n familievriend gestuur,” vertel Karen waar ons met hulle gesels op hul leeuplaas, Weltevreden, tussen Sasolburg en Heilbron.

Petrus wag met oop venster en al om ’n ent saam met sy baas te gaan ry. Foto: Verskaf

“Die vriend het die video toe op ’n Facebookblad vir jagters gedeel. Ons was baie verbaas om te sien dit word so wyd gekyk.”

Petrus, een van talle wilde diere wat diep in die boer van Heilbron se hart ingekruip het, was agt maande oud toe die video geneem is. Hy is intussen na ’n ander boer se plaas in die Vredefortkoepel oorgeplaas, waar hy nou deel van ’n teeltrop is.

Die Roetse het sedertdien nog ’n agt maande oue hiëna, Delta, gekry wat nes sy voorganger optree. “Delta is woeliger as Petrus, maar gedra hom ook soos ’n hond,” vertel Nico.

Benewens Delta het die egpaar vandag ook ’n volwasse hiëna met die naam Fehn en ’n teelpaar met twee kleintjies, almal in afsonderlike kampe op die plaas.

Petrus toe hy nog baie klein was. Foto: Verskaf

Hulle het die diere by ander wildboere gekoop of ruiltransaksies aangegaan. “Daar is nie vir ons iets soos ’n lelike dier nie, en min mense besef hoe liefdevol hiënas kan wees,” sê Nico.

‘Dit bly ’n wilde dier. Wanneer hy grootword, sal hy jou doodmaak'

Hier op Weltevreden is dier se kind baas van die plaas, kom jy agter wanneer jy na Nico en Karen se staaltjies oor Petrus-die-videoster luister. “Sy naam het ’n interessante storie,” sê Nico.

“Ons het ’n vriend, Petrus Pienaar, wat altyd gesê het die trappe van vergelyking vir mooi is mooi, pragtig, Petrus. Toe die klein hiëna hier aankom, was hy vir my so mooi dat ons hom dadelik Petrus gedoop het.”

Petrus was net ’n paar weke oud toe die Roetse hom by ’n ander wildboer koop. Hulle het hom met die hand grootgemaak en hom bottel gevoer.

Die dier was uit die staanspoor so verknog aan hulle dat hy hom gereeld op hul banke en selfs in die Roetse se bed tuisgemaak het. Hulle bedryf ook ’n restaurant op die plaas, en Nico vertel: “Petrus het in die badkamer verdwyn, en as jy weer sien, kom hy met ’n toilet se deksel in sy bek daar uitgedraf.

“Hy is ook lief daarvoor om handsakke te steel. As jy jou kom kry, loop hy met ’n handsak in sy mond rond,” lag Nico.

Natuurlik het hul gaste Petrus geniet.

“Hy is mal oor eisbein, en wanneer ’n gas dit bestel het, moet hy weet hy sal dit vinnig moet opeet of Petrus steel dit van sy bord af. Een gas wat gereeld hier eet, het later besluit om twee porsies eisbein te bestel, een vir hom en een vir Petrus.”

Charlene van Wyk, Nico se dogter, en haar kinders, Lienkie (links) en Hylene, by die hiëna Delta. Foto: Lubabalo Lesolle

Is hulle hartseer dat Petrus weg en nou weer tuis tussen sy eie soort is?

“Ja, dit was vir my ’n emosionele ervaring om hom te groet,” sê Karen. “Maar ons wou hê hy moet sy bloedlyn voortsit.” Nico neem ons na die kamp waar hul nuwe troetelhiëna, Delta, luilekker in sy skuiling ’n middagslapie geniet.

“Delta, kom hier, Delta! Kom, pa se hiëna,” roep Nico hom. Die dier skiet met ’n vaart uit die donker grot en oorrompel Nico. Hy gaan op sy rug lê en wag dat sy “pa” hom aan die pens krap.

Dan rol hy om en loop druipstert na waar Nico se dogter, Charlene van Wyk (27), en haar twee dogtertjies, Lienkie (5) en Hylene (3), op die gras sit. “Wanneer sy stert so hang, weet jy hy’s rustig.

Wanneer hy daai stertjie van hom penregop maak en sy lyf plattrek, weet jy hy’s kwaad.” Delta kom by die kinders aan en gaan lê weer dadelik op sy rug sodat die twee dogtertjies hom in sy nek en aan sy pens kan krap.

“Is dit lekker, Delta?” vra Lienkie, en die hiëna maak sy oë van pure lekkerkry toe. Nico vertel hulle het ook al ’n troeteljagluiperd, Juba, op die plaas gehad.

“Hy was net so mak. Juba het op die tafel gaan lê wanneer ons ontbyt eet. Hy het saam met my voor in die bakkie gesit wanneer ons veearts toe moet gaan. Dan moes jy sien hoe rol mense amper hul motors wanneer hulle verby jou ry en sien ’n jagluiperd sit kiertsregop op die passasiersitplek,” lag Nico.

“En wanneer ons twee by die vulstasie stilgehou het, was daar nooit ’n enkele siel by die dieselpompe te sien nie.”

Benewens hul aasdiere het die Roetse ook leeus, rooikatte, wolwe, lemurs, buffels, bosvarke en ape op hul gasteplaas. “Ons is absoluut mal oor diere,” vertel Charlene.

Nico beskou sy wit leeus. Foto: Lubabalo Lesolle

“Toe ek en my broer, Nicolaas (25), klein was, het my pa vir ons ’n Jack Russell gekoop. Hy het die hondjie agter sy rug gehou en gevra: ‘Raai wat het ek vir julle gekoop?’

“Die tweede keer het hy weer sy hande agter sy rug gehou en gesê hy het vir ons ’n leeu gekoop. Natuurlik was die leeu nie agter sy rug nie, maar in ’n kamp buite.”

Nico sê hulle het nooit gedink hulle sal ’n leeuplaas begin nie. Weltevreden was voorheen ’n saaiplaas, en die leeuboerdery het 14 jaar gelede toevallig begin.

“Ons het op Sondae laat geslaap en dan mense buite hoor praat terwyl ons nog in die bed lê. Toe ontdek ons later dit was Charlene wat vir mense die leeu gaan wys en hulle geld gevra het vir sakgeld.

“Later het ons begin uitbrei en van tradisionele boerdery wegbeweeg.”

Vandag het hulle ’n volwaardige leeuplaas met gasteverblyf en ’n restaurant. Een belangrike reël kom Nico wel getrou met sy hiënas en ander wilde diere na.

“Dit bly ’n wilde dier. Wanneer hy grootword, sal hy jou doodmaak. Hiënas is tropdiere, en wanneer hulle volwasse raak, vat hulle die dominante leier aan. Wanneer jy die dier self grootmaak, is jy die dominante een in die trop, en sal hy jou teiken. Dus sal ek nie ’n volwasse hiëna net op my erf loslaat of soos Delta en Petrus hanteer nie.”

“Die enigste mak leeu is die Leeu op Ellispark,” spot Charlene, en die stoere Vrystaat-ondersteuners kekkel lekker, nes Petrus.