Terwyl sommige beweer die voorval het op Brakpan plaasgevind, is daar ook gerugte dat dit dalk iewers in die noorde van Pretoria was. Maar wat wel duidelik in die video is, is dat die mense behoorlik vir mekaar die josie in is.

Die skril stemme maak dit moeilik om te hoor wat presies gesê word, hoewel ’n paar vloekwoorde hier en daar duidelik gehoor kan word.

Een makker trek selfs iets wat soos ’n plastiekpyp lyk, nader om sy “saak” te stel.

Tussen die gille deur, skree die videograaf van oorkant die pad ’n paar keer: “Hugo, bel die polisie, Hugo, bel die polisie. Hugo, bel die polisie!” Maar dit het nie ’n aks verskil gemaak aan die woeste aksie wat voor haar oë afspeel nie.

“Stop dit, stop dit, ek bel die polisie!” volg sy op. Maar tevergeefs.

“Julle is Maandag uitgesit,” gaan sy voort terwyl van die bakleiers in hul motor klim om weg te ry.

Intussen kom ’n man met sy kaal bolyf en ’n kunsbeen van iewers agter die huis aangehink. Hy kry ’n hou in op die bewegende motor se agterruit.

“Ek het ’n video, mevrou, julle is huurders hier, julle is Maandag uitgesit,” dreig die videograaf voort.

Hoewel die ongelukkigheid wat tot die kabaal aanleiding gegee het nog nie duidelik is nie, het die video soos ’n veldbrand versprei. En die land se sin vir humor het ingeskop.














Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.