Nee, ons praat nie nou van die gesinshond nie. Dis die internet se jongste sensasie – ’n vrou wat haar lewe lei asof sy ’n klein hondjie is . . . en daarvoor betaal word.

Die internet het tot verskeie loopbane binne die digitale ruimte gelei en het die beïnvloeder-kultuur uiters gewild gemaak. Mense los nou hul werk om internetsensasies te word wat ’n bestaan maak deur die vreemdste dinge te doen.

Instagram, Twitter en nou TikTok het talle gebruikers se leefstyl verander deur ’n platform te skep waar mense hul mark ontmoet en geld verdien deur inhoud te vervaardig.

Jenna Phillips (21) is een van hierdie mense. Sy is ’n voomalige brilmaker en verdien nou ’n sessyferbedrag deur TikTok-video’s te maak waar sy voorgee asof sy ’n hondjie is.

Volgens Timesnow.com het Jenna gesê sy het nog altyd soos ’n hondjie gevoel.

In haar video’s rol sy soos 'n hond op die vloer rond, sy hardloop op haar knieë agter ’n bal aan of sy blaf soos ’n hond in openbare ruimtes.

Sy het tans meer as 120 000 volgelinge op TikTok. Talle intekenaars betaal meer as R330 ($20) per maand om te sien hoe sy voorgee om ’n hond te wees.

Sy het aan Timesnow.com vertel sy het kleintyd reeds gemaak asof sy ’n hondjie is.

“Ek voel soos ’n hond. Ek wil net rondrol, die gaan-haal-speletjie speel, my kop gekrap hê, hardloop en speel. Al daardie dinge. Ek het nog altyd soos ’n hondjie opgetree, maar nie op ’n seksuele wyse aan die begin nie. Ek het kleintyd gemaak asof ek ’n hondjie is. Ek hou baie daarvan om geprys te word. Ek hou daarvan om te hoor ek is ’n ‘goeie meisie’. Dit laat my hart elke keer vermurwe,” het sy gesê.

Sy is nie al een wat die geld laat inrol met dinge wat mense geniet om te kyk nie. Nog ’n gewilde manier om geld te maak, is deur Mukbang – waar mense groot hoeveelhede kos eet terwyl hulle ’n interksie met hul gehoor het.

Mense kry dikwels borgskappe en vorm ’n vennootskap met koshandelsname om dit vir hul gehoor te adverteer.