Fyn verfwerk en klein gedroggies wat op ’n haar soos dié in die fliek lyk, het vir Leandré Kruger (33), ’n naelkunstenaar van Parklands, Kaapstad, tot die middernagtelike ure besig gehou.

Maar dit was beslis die moeite werd, want Leandré het op 2 September die eerste prys losgeslaan vir haar eksentrieke en interessante naelkuns by die jaarlikse nasionale NailFile Challenge in Midrand, Johannesburg.

Die wenners is aangewys tydens die Professional Beauty-uitstalling in die Gallagher-konferensiesentrum.

Leandré, of Lallie, soos haar vriende haar noem, het aan die Tip Box-naelontwerpafdeling deelgeneem.

En nee, hierdie is glad nie naels wat enigsins bedoel is om gedra te word nie; dit is pure kuns en kreatiwiteit, verduidelik sy.

“Ons moes ’n uitstalling maak van kompetisienaels wat volgens die tema versier is,” verduidelik sy.

Dié kunsnaels wat vir die kompetisie gebruik is, is nie naels wat jy op jou vingers kan dra nie. Dit is baie langer en dikker as gewone kunsnaels, verduidelik Leandré.

Die magiese figuurtjies het sy met naelproduk soos jel en akriel gevorm, waarna sy dit geverf en versier het met sintetiese hare of vere. Foto: Joalet Reyneke/Note Studio

Die NailFile Challenge het verskeie afdelings, en Leandré het verlede jaar vir die eerste keer aan twee van die afdelings deelgeneem.

Sy het toe ’n tweede en ’n derde plek behaal en dit het haar aangemoedig om vanjaar wéér vir die kompetisie in te skryf, vertel sy.

“Einde Junie het hulle vanjaar se tema bekend gemaak, en ek het net gedink, Oh, my goodness!" Die tema was die fliek Fantastic Beasts and Where to Find Them.

“Ek het nie gedink ek sal dit ooit gedoen kry nie. En ek het ook nie eens die fliek geken nie.

“Ek het kort daarna die fliek gekyk, en toe het die kreatiwiteit begin vloei.”

Leandré het by ’n kettingwinkel op ’n houttassie afgekom wat herinner het aan die tas waarin al die magiese kreature van die fliek gehou word. Die figuurtjies het sy met naelproduk soos jel en akriel gevorm, waarna sy dit geverf en versier het met sintetiese hare of vere.

“Dit het my seker so ses of sewe weke gevat. Ek moes dikwels tot middernag werk, want die lewe gaan ook aan,” vertel die ma van twee wat haar eie skoonheidsalon bedryf.

“En jy kan nie jou kliënte afskeep nie, want hulle is die mense wat jou altyd ondersteun,” vertel sy.

Een van Leandré Kruger se karakters uit die fliek Fantastic Beasts and where to find them. Foto: Joalet Reyneke/Note Studio
Die magiese figuurtjies het sy met naelproduk soos jel en akriel gevorm, waarna sy dit geverf en versier het met sintetiese hare of vere. Foto: Joalet Reyneke/Note Studio

Het sy gedink sy gaan vanjaar met die trofee en ’n geskenkpak vol naelprodukte wegstap?

“ ’n Mens gaan mos maar om te wen, maar ek moet sê, daar was so ’n paar ander uitstallings wat my nogal laat stres het,” sê sy laggend.

Volgens Leandré is sy nou geïnspireer om aan nog kreatiewe naelkompetisies deel te neem.

“As ek volgende jaar weer tyd het sal ek graag weer wil deelneem, ek het ’n ongelooflike liefde vir die kompetisie ontwikkel in die twee jaar wat ek nou deelgeneem het.”

Leandré het op 2 September eerste prys gekry vir haar eksentrieke en interessante naelkuns tydens die jaarlikse nasionale NailFile Challenge in Johannesburg. Foto: Joalet Reyneke/Note Studio
Die magiese figuurtjies het sy met naelproduk soos jel en akriel gevorm, waarna sy dit geverf en versier het met sintetiese hare of vere. Foto: Joalet Reyneke/Note Studio
Leandré het op 2 September eerste prys gekry vir haar eksentrieke en interessante naelkuns tydens die jaarlikse nasionale NailFile Challenge in Johannesburg. Foto: Joalet Reyneke/Note Studio