Drink hy ’n bier, word die etiket om die bottel ’n kraanvoël. Lê ’n los papiertjie langs sy rekenaar, word dit in ’n japtrap in ’n draak omskep. En kry hy ’n vergete servet in die hande, toor hy gou-gou ’n haas op.

In die 36-jarige Kapenaar Ross Symons se hande bly papier nooit lank net papier nie – dit word in ’n oogwink kuns.

Jare lank het sy vingers enige los papiertjie binne sy bereik in minute tot die bekende kraanvoël van die origami-kuns omgetower. Maar toe Ross mettertyd oor dié Oosterse papiervoukuns begin navorsing doen, het die kraanvoël sommer ’n kolonie ander papierdiertjies geword.

Vandag kan die Kaapse kunstenaar omtrent enige figuur denkbaar uit ’n vel papier skep. “Dit is baie terapeuties, maar dit kan ook frustrerend wees,” erken Ross en lag. “Soms sukkel jy regtig hard om ’n figuur reg te kry. Ek besluit omtrent elke dag om dit op te hou doen, maar as ek my kom kry, probeer ek weer.”

View this post on Instagram

Too much coffee... #origami #whiteonriceorigami #rabbit #timelapse

A post shared by White on Rice (@white_onrice) on

Stap jy in in sy ateljee in die hartjie van die Moederstad, word jy verwelkom deur ’n rytjie papierpalmbome op sy lessenaar. Op ’n ander tafel staan ’n kartonboks vol miniatuurfiguurtjies. Dit vorm deel van sy pas afgelope jaar lange MiniatureGami-projek.

Hy het van 1 Desember 2017 tot 30 November 2018 elke dag ’n klein origami-figuurtjie gevou, afgeneem en op Instagram geplaas. Elke figuurtjie is saam met iets anders afgeneem om die skaal daarvan te wys.

Druk jy jou vingers nou in die boks vol bont papierbeeldjies, kan jy skaars glo wat alles uitpeul – onder meer ’n seekat, ’n dinosourus, ’n skoenlapper, ’n padda en ’n panda.

’n Olifant, eend, seekat, draak en akkedis, om maar net ’n paar van die wonderlike figuurtjies te noem wat deel was van Ross se projek, saam met die gereedskap wat hy gebruik om die tegniek te bemeester. Foto: Corrie Hansen.

Ross het sy eerste kraanvoël in 2003 gevou toe sy jonger broer, wat aan ’n advertensieskool studeer het, vir een van sy projekte iets kreatiefs by elke lid van die gesin moes kry. Hy het besluit om homself te leer om ’n origami-kraanvoël te vou en dit vir sy broer gegee, min wetend dat dié statige voël sy loopbaan vlerke sou gee.

Sedertdien het hy nooit opgehou papiertjies vou nie. Die gewoonte het ontwikkel in ’n geliefde stokperdjie, en ál meer mense het begin kennis neem van sy kreatiewe talent. Vandag het Ross sy eie onderneming wat onder meer advertensieveldtogte uitwerk en groot installasies uit origami vir kliënte maak.

Hy het nie op skool goed gevaar nie, vertel Ross, ’n gebore Johannesburger wat sedert 2010 in Kaapstad woon. “Ek het nie graag na die onderwyser geluister nie, maar toe ek rekenaarprogrammering aan die Universiteit van Johannesburg studeer, het dit beter gegaan en ek het maklik soms die beste in die klas gedoen.”

Hy het eers as ’n webontwikkelaar gewerk, maar gesukkel omdat hy gereeld kreatiewe idees gehad het wat verskil van dit wat kliënte wou hê. Later het hy by ’n bekende reklameonderneming gaan werk, en in dié tyd het hy ál meer origami-figuurtjies begin vou.

“Wanneer my werk klaar was, het ek na aanwysings op my rekenaar gekyk en verskillende dinge begin vou. Later het amper ’n hele plaas van papierdiere om my rekenaar gestaan.”

In 2014 het hy besluit om vryskut te werk as webontwikkelaar en programmeerder. Aan die begin van dieselfde jaar het hy ook sy eerste MiniatureGami-projek aangepak en daagliks ’n skepping op Instagram gedeel.

Sy plasings was gewild, en 10 maande nadat hy daarmee begin het, het selfs Instagram se eie rekening Ross se werk op hul platform gedeel. Op dié dag in Oktober 2014 het sy volgelinglysie “ontplof”, onthou Ross.

“Ek dink ek het binne vier uur 24 000 volgelinge gekry. Dit was asof ek die lotery gewen het, maar toe ek eindelik tot verhaal kom, het ek besef dit is tyd om die origami vir die volgende dag te begin maak!” Vandag spog hy met byna 115 000 volgelinge op Instagram.

Sy talent het daardie jaar ook die aandag getrek van ’n restaurant wat in spekgeregte spesialiseer. Hulle het hom genader om ’n origami-installasie met 250 klein pienk varkies te maak. “Hulle het ’n kwotasie gevra, en ek kon amper nie glo hulle wou my betaal om dit te doen nie.”

’n Week en ’n half lank het hy net varkies gevou, en nie lank daarna nie het nog ’n maatskappy hom genader om ’n installasie te doen. Dit was die begin van sy onderneming, White on Rice.

Hy verduidelik die naam: “Dit het gekom van ’n vriendin wat my werk heeltyd op Instagram en Twitter gesien het. Ek het soms van die figuurtjies in koffiewinkels of restaurante gelos, en toe sy my eendag raakloop, sê sy my werk is net so volop soos wit op rys: Die uitdrukking beteken jy is oral. Dit was ideaal, veral met die Oosterse oorsprong van die kuns.”

Die oomblik toe hy sy werk onder dié handelsnaam begin deel, het ál meer ondernemings hom genader.

Vandag is die meeste van sy werk origami-projekte; hy doen selfs origami-animasie. “Ek kan vir ’n onderneming ’n ten volle gedetailleerde advertensieveldtog uitwerk, inhoud ontwikkel en aanbeveel dat hulle ’n geleentheid hou waar ’n origami-installasie opgerig word wat verband hou met die inhoud wat ek geskep het.”

Papiervoukuns kan baie tegnies en wiskundig wees, verduidelik Ross. Wanneer hy sy eie ontwerpe maak, probeer hy om by die basiese beginsels te bly, en hy kyk na ander ontwerpe om te bepaal hoe daardie kunstenaars by sekere elemente uitgekom het.

“Dit kan baie ingewikkeld wees, maar die beste manier om dit te verduidelik is om dit te vergelyk met een van daardie oopgesperde beervelle wat op ’n vloer lê.

“As jy dit vat en op ’n papier sit en uitknip, moet jy die lyne kry wat die punte by mekaar laat aansluit en verbind. As jy dit kan doen, sal die res in plek val.”

Hy doen hoofsaaklik sy eie ontwerpe, veral wanneer hy dit in ’n sakeprojek gebruik, aangesien daar kopiereg op origami-ontwerpe is. Jy kan enige soort papier gebruik, vertel hy, maar papier wat nie skeur nie, werk makliker en beter.

’n Origami-kunswerk kan enige grootte wees, maar word bepaal deur die grootte van die stuk papier waarmee jy begin. Die grootste installasie wat hy al gedoen het, was 8 m hoog en het uit agt panele vol papierpiramides bestaan.

Al het Ross se behendige vingers reeds duisende drake, paddas, visse en ander figure opgetower, het hy dit reggekry sonder ’n enkele geniepsige papiersnymerkie aan sy hande.

Hy lag. “Die grootste besering wat ek al opgedoen het, was die seer kolletjie wat die hoekie van die kleefband eenkeer aan my duim gemaak het. Ek moes die kleefband herhaaldelik aftrek en plak terwyl ek ’n groot installasie gebou het, en die hoekie het in my duim geboor. Maar dit was die ergste.”

View this post on Instagram

#MiniatureGami Day 365/365 Here’s a little story... This post marks the end of my second 365 day origami project. It marks the end of something I said I would NEVER do again. After the first project I remember saying to myself “Ross, well done. But don’t do that shit again, a whole year is hectic.” Dedicating a year of your life to a single project is not easy. If it was, we’d all do it. In 2014 I set out to fold 365 paper shapes in order to learn origami & do one thing every for a year. By the end of that year I was a full time artist doing work for brands around the world and connecting with a huge audience. This year’s project was about sharpening my skills in photography & creativity, to grow my following and work with more brands and start conversations with more people. And I’ve achieved it all. I’m telling you all of the above not to blow my own trumpet but to lead me to this point... NONE OF THIS WOULD HAVE BEEN POSSIBLE WITHOUT YOU. You, the one reading this. The one who decided to press the follow button. The one who commented. The one who spoke about this account when they were with their friends on the weekend. The one who doubled tapped even when the photo was terrible. The one who counted down the days to the end of this project. The one who DM’d me to tell me that they really like what I’m doing and that it inspires them. You inspire me... I could never have been where I am today without you. You have helped me do this. There were times when I thought “hmmm, don’t really wanna do this today...” but I knew you were gonna be bummed if I missed a day. I thank you and I feel so grateful for having you to support me and I hope I continue to serve you work that inspires you and makes you smile. Thank you. Thank you. Thank you. And lastly, if you want to do something, just go and do it. You don’t need anyone’s permission. Surround yourself with positive people, stay true to who you are, move past your doubts and insecurities and go and make a happy life for yourself. It is possible and you are the only person who can make it happen. Unicorn - Designed & folded by @white_onrice #miniature #origami #whiteonriceorigami #paperiscool #unicorn

A post shared by White on Rice (@white_onrice) on

Sy pas voltooide projek, nes dié in 2014, was ’n groot uitdaging, vertel hy, want dit was moeilik om ’n hele jaar met iets vol te hou – elke dag is ’n nuwe figuurtjie gebore. Die meeste van dié figuurtjies lê op die oomblik in die kartonhouer in sy ateljee, en wanneer iemand een vra, gee hy dit graag as ’n geskenk weg.

“As jy iets wil doen, moet jy dit net doen,” skryf hy op Instagram by ’n foto van ’n papiereenhoring, die laaste diertjie wat hy op 30 November verlede jaar gevou het ter afsluiting van sy projek.

“Jy het nie iemand anders se toestemming nodig nie. ’n Mens moet jou net met positiewe mense omring, eg bly aan jouself en verby jou onsekerheid en twyfelagtigheid beweeg.

“Gaan maak ’n gelukkige lewe vir jouself. Jy is die enigste een wat dit kan laat gebeur.”