Hy is nie die eerste diktator wat sy eie trein het nie, maar vir hom is ’n trein ook nie sommer net ’n trein nie. 

Ander leiers het privaat vliegtuie, maar Noord-Korea se 35-jarige diktator, Kim Jong-un, het een van die weelderigste treine op aarde. 

In dié koeëlvaste kontrepsie is konferensiekamers, luukse slaapkwartiere en waens met pienk leerstoele, ivoorkleurige gordyne en grootskerm-TV’s. 

Verskeie gepantserde motors is aan boord, insluitend ’n koeëlvaste Mercedes-Maybach S600 waarmee sy wagte hom na veiligheid kan jaag as sy trein in die moeilikheid sou beland. 

In die eetwaens met houtafwerking kan hy weglê aan Franse wyn en kaas terwyl hy deur sy brandarm land reis. 

Ander leiers het privaat vliegtuie, maar Noord-Korea se 35-jarige diktator, Kim Jong-un, het een van die weelderigste treine op aarde

Saam met hom reis sy aantreklike vrou, Ri Sol-ju (29), wat graag met Chanel- en Dior-handsakke pronk. 

In ’n video wat op sy trein geneem is, spreek Kim van sy onderdane toe in ’n raadsaal wat van hoek tot kant in wit getooi is – sigaret in die hand en ’n bier voor hom. 

En natuurlik is die loopbrug waarmee hy van die trein op- en afklim met ’n rooitapyt versier . . .

Onlangs moes Kim en Amerika se pres. Donald Trump in Hanoi, Viëtnam, vergader om ’n kernooreenkoms te probeer bereik. Die beraad was ’n mislukking en geen vergelyk kon bereik word nie. 

Terwyl Trump sy privaat vliegtuig, Air Force One, gebruik het om na Hanoi te reis, het die Groot Leier van Noord-Korea die hele pad van Pjongjang in sy land teen 60 km/h met sy “Kim Jong-un Express” deur China tot in Viëtnam gereis. 

The train (back) used by North Korean leader Kim J
Sy weelde­rige trein in ’n stasie in China. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié reis het 60 uur geneem. Die rede dat dit so stadig vorder? Glo omdat die koeëlvaste pantsermateriaal so swaar is. 

Kim se pantsertrein verskaf groter gerief as wat selfs ’n privaat vliegtuig sou kon. 

Die leier het tot 90 hoësekuriteitswaens tot sy beskikking, hoewel hy vir onlangse reise net 20 laat aanhaak het. 

Vir die Kimfamilie, wat Noord-Korea al dekades in ’n ystergreep het, was daar nog altyd iets omtrent treine. 

Kim se pa, Kim Jong-il, en oupa Kim Il-sung het koeëlvaste treine vir seldsame reise buite hul kluisenaarstaat verkies. 

Die leier het tot 90 hoësekuriteitswaens tot sy beskikking, hoewel hy vir onlangse reise net 20 laat aanhaak het.

’n Vrees vir vlieg het glo ook tot die Kimfamilie se voorliefde vir treinry bygedra. 

Kim Jong-un se oupa en pa moes in 1982 aanskou hoe die amptelike vliegtuig wat hulle pas uit die Sowjetunie na Noord-Korea laat invoer het tydens ’n toetsvlug in die lug ontplof. 

Nadat hulle vertel is nalatigheid het die ongeluk veroorsaak, het hulle glo aan die vaardighede van Noord-Koreaanse vlieëniers begin twyfel. 

Luidens Suid-Koreaanse berigte het Kim Jong-il dikwels drie treine per reis ingespan – ’n voorhoedetrein met 100 of meer veiligheidswagte aan boord, die Leier se trein en ’n agterhoedetrein met ekstra lyfwagte en voorraad. 

Die verkenningstrein aan die voorpunt het stasies gefynkam vir bomme en ander gevare en uiteraard ook eers die spoorlyn uitgetoets. 

North Korean leader Kim Jong Un meets with the hea
Die trein beskik oor luukse konferensiegeriewe. Foto: Reuters

As die voorhoedetrein ’n landmyn sou aftrap, sou die Leier darem nog veilig wees. 

Die krag van ander treinspore in Noord-Korea is soms afgesny om te verseker hulle bots nie per ongeluk met die Leier se trein nie. 

Terwyl sy onderdane dikwels krepeer het, het die afgestorwe Kim Jong-il beslis nie op sy trein honger gely nie. 

Hy het kratte vol Bordeaux- en Boergondiese wyn uit Parys laat aanvlieg en sy treinspense met lewende kreef en ander vars lekkernye oorlaai wanneer hy byvoorbeeld deur Siberië en Rusland gereis het. 

So het Konstantin Poelikofski, ’n Russiese amptenaar wat eenkeer saam met hom gereis het, in sy memoires daaroor vertel: “’n Mens kon enige gereg van die Franse, Russiese, Koreaanse, Chinese of Japannese kookkuns bestel.” 

’n Vrees vir vlieg het glo ook tot die Kimfamilie se voorliefde vir treinry bygedra.

Hy het ook wilde partytjies op sy trein gehou waartydens daar hard gedrink en gekaraoke is en meisies vir hom liedjies in Koreaans en Russies gesing het. 

Kim Jong-Il is in 2011 op sy einste trein dood aan ’n hartaanval. 

’n Replika van sy persoonlike wa, kompleet met ’n rekenaar en grootskerm-TV, is ná sy dood in sy graftombe vir sy lyk aangebring. Maar sy seun, Kim Jong-un, se kantoor lyk effens anders. 

Hy is glo ’n geswore Apple-man. Op sy trein en elders is hy al dikwels met ’n MacBook of iMac gesien. 

Hy én sy elite is sulke groot aanhangers van wyle Steve Jobs se werk dat Noord-Korea blykbaar verwoed Apple se harde- en sagteware naboots. 

Bodyguards walk alongside a limousine carrying Nor
As iets sou voorval, is daar ’n paar koeëlvaste spogmotors aan boord. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat Kim Jong-un met sy pa gemeen het, is ’n liefde vir weelde. 

Hy het ’n swak plek vir Switserse kaas, Cristal-sjampanje en Hennessy-konjak. 

Sy jongste suster en naaste vertroueling, Kim Yo-jong, het glo toegesien dat ’n karton of wat sigarette onlangs saamgaan Viëtnam toe, want die Leier rook soos ’n skoorsteen. 

Hy is al selfs met ’n sigaret tussen die vingers op besoek aan ’n weeshuis afgeneem. 

’n Japannese TV-span het Kim juis pas verfilm waar hy op sy reis na Viëtnam eers ’n dampie slaan op Nanningstasie in Suid-China – terwyl sus gedienstig vir hom ’n kristalasbak vashou. 

Wat Kim Jong-un met sy pa gemeen het, is ’n liefde vir weelde.

As Kim se kuiertjie saam met Trump in Viëtnam op niks uitgeloop het nie, sou jy dit nooit in Noord-Korea sê nie. 

Trump het omtrent dadelik weer op Air Force One gespring, maar Kim het eers vir nog ’n dag of twee van vertoon in Hanoi vertoef. 

Hy het ook rooi en geel kranse gaan lê op die graf van Ho Chi Minh, leier van Viëtnam tydens die oorlog teen Amerika. 

Kim se oupa Kim Il-sung, die eerste staatshoof van die kommunistiese Noord-Korea, is juis in 1958 na Hanoi om Ho te ontmoet. 

En hoe het hy toe gereis? Per trein, natuurlik. 

’n Japannese TV-span het hierdie beelde in die vro
’n Japannese TV-span het hierdie beelde in die vroegoggend vasgelê op ’n stasie in Nanning in die suide van China. Kim Jong-un het bene gerek en op die perron aan ’n sigaret geteug.
Kim Jong-un se jonger suster, Kim Yo-jong, hou ged
Kim Jong-un se jonger suster, Kim Yo-jong, hou gedienstig vir hom ’n asbak vas terwyl hy rook.

Die jongste Kim is oudergewoonte deur blomme, trane en vreugde begroet toe sy trein onlangs om drieuur die oggend by die stasie in Pjongjang tuiskom. 

Die staatsmedia, wat klakkeloos berig hoe wonderlik dit kwansuis in Noord-Korea gaan, het sy ekskursie as ’n rasende sukses bestempel, ’n “buitengewone” prestasie. 

’n Koerant het ook berig die land se burgers is so lief vir Kim dat hulle nie kon slaap terwyl hy weg was nie, en een vrou het aan die staatsuitsaaier vertel sy het hom “baie gemis, regtig”. 

Nes hy seker sy landsburgers gemis het terwyl hy so luuks deur sy verarmde landskap geblits het . . .

BRONNE: APNEWS.COM, CHOSUN.COM, GLOBALTIMES.CN, BBC, NYTIMES.COM, REUTERS.COM, THEGUARDIAN.COM, GIZMODO.COM