Luiperd
Die luiperd wandel deur die ontvangsarea van die Singita Ebony lodge. Foto: Skermskoot uit video/Reg Calmeyer

Dis daarom, sê die Singita Ebony lodge in die Sabi Sand-wildreservaat, dat gaste en werknemers met groot verbasing gereageer het toe ’n volgroeide luiperd Sondagmiddag doodluiters deur die ontvangsarea – waar ’n handjie vol gaste aan tafel gesit het – gewandel het voor hy weer in die Bosveld verdwyn het.

’n Video van die voorval, wat deur Reg Calmeyer, een van die gaste, op video vasgevang is, wys hoe die luiperd doodluiters op die houtdek stilstaan, ’n paar oomblikke lank rondkyk en dan trappie-vir-trappie weg van die hoofgebou stap en in die bosse verdwyn.

“Dit was ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring in die ware sin van die woord,” sê Lisa Carey, die lodge se publisiteitsbestuurder, aan Huisgenoot. Die Singita Ebony lodge is geleë op Hazyview in Mpumalanga. 

Die luiperd is oomblikke voor sy wandeling deur die lodge opgemerk waar hy ’n bosbok in die rivierbedding agtervolg het, sê Lisa. Maar toe ’n trop ape hom opmerk en amok maak, het die luiperd se prooi homself sommer gou uit die voete gemaak. 

Lisa sê die luiperd was nié in die lodge se restaurant soos vroeër in die media berig is nie. Tog kan ’n mens so amper nie help wonder of die droëbek-luiperd dit nie dalk ’n oomblik lank oorweeg het om aan tafel te gaan sit en bedien te word nie – dis darem baie eenvoudiger as die rompslomp van jag . . . 

“Ons weet nog van geen ander soortgelyke voorval in die lodge se bestaan van 27 jaar nie,” sê Lisa. “Jy sien hulle gereeld in en om die bos beweeg, maar hulle kom nie sommer tot binne die gebou nie.” 

Lisa sê die lodge raai gaste “ten sterkste af” om naby aan die roofdiere te kom. Sy sê daar is streng veiligheidsmaatreëls in plek vir wanneer so ’n voorval “natuurlik sou voorkom”. 

“Die luiperd het in geen stadium enige gevaar vir die gaste of die personeel ingehou nie. Nadat die bosbok weggehardloop het, het hy heeltemal kalm deur die hoofarea beweeg en dadelik weer in die bosse verdwyn. Dit was vir almal ’n ongelooflike groot voorreg om die dier van so naby te kon aanskou,” sê Lisa.

Die luiperd is nie deur die werkers op die reservaat geïdentifiseer nie omdat die voorval minder as een minuut geduur het voor die dier weer verdwyn het.

“Dis omgewing hier is die luiperds se natuurlike habitat. Ons sê altyd ons leef saam met hulle, en nie andersom nie. Dis vir ons belangrik dat mens en dier saam in harmonie kan leef – hulle was tog eerste hier.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe