Die man het die diere glo heel ingesluk oor hy gedink het dit kon hom van hardlywigheid genees. 

Die Asiatiese moeraspalings (Monopterus albus) het blykbaar deur die man se ingewande gebyt en sy buik met feses besmet, wat tot ’n ernstig infeksie gelei het. 

’n Woordvoerder vir die Jiangsu Provinsiale Hospitaal vir Tradisionele Chinese Geneeskunde in die stad Nanjing in Oos-China het aan Asia Wire bevestig die manlike pasiënt “is sedertdien uit die waakeenheid ontslaan”. 

Maar sy wou nie kommentaar lewer oor of die grafiese video op die sosiale media, waarop twee moeraspalings skynbaar uit ’n pasiënt op ’n operasietafel verwyder word, wel van die hospitaal afkomstig is nie. 

Die pasiënt, wie se naam nie bekendgemaak is nie, ly glo aan hardlywigheid en sukkel om te urineer weens prostatitis, ’n ontsteking van die prostaatklier. 

Hy is op 9 Januarie in die hospitaal opgeneem, ’n dag nadat hy die twee palings lewend ingesluk het omdat hy gemeen het dit kon sy simptome verlig, sê sy dokter.

paling
Die palings is verwyder in ’n noodoperasie waartydens dokters gevind het die pasiënt se buik is met bloed, water en fekalieë gevul. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Sun Haijian, adjunk-hoof van algemene chirurgie, het aan die plaaslike media gesê die pasiënt het intense buikpyn getoon en sy liggaam was besig om in skok te gaan weens die lewensgevaarlike bakteriële infeksie. 

Volgens die dokter toon CT-skandeerbeelde die geraamte van albei diere, wat ook as ryspalings bekendstaan, waar hulle tussen sy lewensorgane opgekrul lê nadat hulle ’n gat deur sy dikderm gevreet en uit sy spysverteringskanaal gewriemel het.

Hy sê: “Kyk jy na die twee vreemde voorwerpe in die pasiënt sy buikholte, kan jy sien dis twee palings.

“Jy kan die een se kop, lyf en stert sien, terwyl die ander een se nek reeds gebreek en van sy lyf afgebreek is.”

Die palings is in ’n noodoperasie verwyder waartydens dokters gevind het die pasiënt se buik is met bloed, water en fekalieë gevul.

Sun sê: “ Ons het hom oopgemaak en ’n groot hoeveelheid fekale water gemeng met bloed gesien. Daar was ernstige swelling en ons het twee baie dik moeraspalings aan die onderkant van sy buikholte gekry.”

 “Daar was ook ’n perforasie van sowat 2 cm in sy dikderm. Dit het die infeksie veroorsaak en sy liggaam in skok laat gaan.

“Ons het die gat in sy derms toegewerk en sy buikholte skoongemaak, waarna die pasiënt in waaksorg gehou is.”  

paling
Die pasiënt het intense buikpyn getoon en sy liggaam was besig om in skok te gaan. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Die dokter voeg by: “Volgens die pasiënt het hy in ’n boereraat geglo en op 8 Januarie twee lewende moeraspalings ingesluk.

“Hy het gedink dit kon sy chroniese hardlywigheid en prostatitis behandel. Hy het kort daarna kwaai buikpyn ervaar, maar tot die volgende dag gewag om mediese hulp te kry. 

“Die palings is lewend ingesluk. Sy maag was piekfyn, maar omdat die derms veel dunner en broser is, het die palings dit reggekry om deur te byt en uit te wriemel. 

“’n Kolonperforasie kan die buikholte met fekalieë en water oorstroom. 

“Verteringsappe in die buik kan ook ernstige infeksies laat ontstaan, wat dodelik kan wees as dit nie dadelik behandel word nie.”