Gee Tom Cruise die skuld. Die ster van die Mission: Impossible-flieks laat dit altyd so maklik lyk om uit die tronk te ontsnap – sit net ’n masker en pruik op en jy bluf jou pad uit die tjoekie.

Maar die Brasiliaanse dwelmbaas Clauvino da Silva (42) moes op die harde manier leer sulke streke werk beter in flieks as in die regte lewe.

Baixinho (“Kleintjie”), soos die dwelmhandelaar bekendstaan, het hom as sy 19-jarige dogter, Ana, vermom en toe uit die Gericinó-tronk in Rio de Janeiro probeer stap.

Vreemde stappie

Hy het sy ontsnappingspoging haarfyn beplan. Kleintjie het tydens sy tiener­dogter se besoek met haar klere geruil, haar pienk T-hemp en jeans aangetrek en ’n pruik met lang, donker hare op sy kop gesit. Maar dit was nog niks; hy het ook ’n silikoonmasker oor sy gesig gesit – ’n masker wat soos Ana se gesig lyk.

En Kleintjie sou die wagte dalk kon mislei en wegkom, was dit nie vir sy vreemde stappie nie.

Hy het so hard probeer om soos ’n vrou te stap dat dit die bewaarders agterdogtig gemaak het. Toe hy vir die wagte Ana se ID vra, wat tydens haar tronkbesoek by die sekuriteitspunt gehou is, was dit die die doodskoot.

“Toe hy begin praat – voorgee om soos ’n vrou te praat – het die bewaarders besef dit is ’n ontsnappingspoging en hom geïdentifiseer,” sê Moyses Hen­riques, adjunkhoof van tronksake in Rio.

’n Video wat die tronkowerheid uit­gereik het, wys hoe die geharde misdadiger ’n pienk T-hemp en swart bra uittrek voor hy die pruik afhaal en die masker aftrek om sy ware identiteit te onthul.

Kleintjie het ’n vonnis van 73 jaar uitgedien nadat hy ’n lid was van die bende Comando Vermelho (Rooi Kommando).

Ná sy mislukte ontsnappingspoging is hy in eensame aanhouding in ’n hoë­sekuriteitseenheid geplaas – waar die verhaal kort daarna geëindig het: Hy het homself doodgemaak.

Bewaarders het op sy lyk afgekom waar dit in sy sel aan lakens hang.

Wat van sy dogter?

Die plan was dat Kleintjie se dogter ná haar pa se ontsnapping in die tronk sou agterbly en ’n manier sou vind om uit te drentel nadat haar pa reeds veilig buite die tronkmure was. Maar nou kan sy van aandadigheid aangekla word, meen die Brasiliaanse koerant Extra.

Clauvino da Silva het hom soos sy dogter, Ana, ver
Clauvino da Silva het hom soos sy dogter, Ana, vermom om uit die tronk te probeer ontsnap. Foto: Gallo Images/AFP

Nog sewe besoekers, onder wie ’n swanger vrou wat glo die vermomming in die tronk ingesmokkel het, se betrokkenheid word ondersoek.

Dit was nie Kleintjie se eerste poging om te ontsnap nie. In ’n nabootsing van die storielyn in die fliek The Shawshank Redemption het hy en 30 ander gevangenes in 2013 tot in die tronk se rioolstelsel ’n tonnel gegrawe.

Vier van die gevangenes is byna onmiddellik aangekeer, maar Kleintjie het saam met sy medebendelede met die byname Vis, Gogga en Voorhamer ontsnap.

Hulle is ’n maand later in hegtenis geneem toe hulle saam met ’n groep gewapende mans amok gemaak het.

Die Brasiliaanse owerheid het ’n “vreemde en slegte tradisie om verdagtes op vernederende maniere – asof hulle trofeë is – uit te stal,” sê die Brasiliaanse joernalis Rosental Alves.

Maar, voeg hy by, die bisarre besonderhede van die mislukte ontsnapping het die owerheid se uitreiking van die video geregverdig, want dit lê klem op moontlike sekuriteitsgebreke.

“Die vermomming wat gebruik is, was so ongewoon, so filmies en skouspel­agtig,” het hy aan The New York Times gesê.

“Ek het nog nooit gehoor van iemand wat ’n lateksmasker gebruik om uit die tronk te ontsnap nie.”  

Bronne: nytimes.com, washingtonpost.com, vice.com, complex.com, apnews.com, theguardian.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.