Weg is die dae toe jy ’n groot, peperduur kamera met ’n spul lense moes rondkarwei as jy goeie kiekies wil neem.

Deesdae het elkeen met ’n slimfoon ’n kamera in sy of haar broek- of handsak. Die puriste het lank bly mor: Om foto’s van professionele gehalte te neem, benodig jy professionele toerusting.

Selfone is mos net vir selfies. Maar die foto’s hiernaas vertel ’n ander storie.

Hulle is almal met ’n foon geneem! Dis die wenners van die internasionale 2018 iPhone Photography Awards. En nee, daar is geen selfies nie.

Derde plek: Fotograaf van die jaar

Ek wil speel

Ek wil speel. Foto: © Zarni Myo Win/IPP Awards

“ ’n Seun wat sy been verloor het, het gekyk hoe sy maats in Yangon, Mianmar, sokker speel. Hy het gevra om saam te speel,” vertel die fotograaf Zarni Myo.

  • Met ’n iPhone 7 Plus geneem.

Wenner: Nuus en aktualiteit

Iftaar tussen die ruïnes

Ontwortel. Foto: © Jashim Salam/IPP Awards

Mohammed Badra van Sirië het die foto geneem van inwoners van die Siriese stad Duma wat tydens ’n onderbreking in lugaanvalle met kos tussen die bouvalle aansit om die einde van die heilige maand Ramadaan te vier. 

  • Met ’n iPhone 7 geneem.

Wenner: Fotograaf van die jaar

Baiana in geel en blou

Baiana in geel en blou. Foto: © Alexandre Weber/IPP Awards

Alexandre Weber van Switserland het dié foto in Salvador de Bahia, Brasilië, geneem. Die vrou in die tradi­sionele klere van ’n baiana (’n straatsmous) het in haar af tyd ’n ogie op ’n vragmotor gehou. 

  • Met ’n iPhone 6S geneem.

Wenner: Bome

Pad van Toskane

Pad van Toskane. Foto: © Lidia Muntean/IPP Awards

Die Roemeniër Lidia Muntean het dié landskapsfoto naby Pienza en Montalcino in Italië geneem. 

  • Met ’n iPhone 7 Plus geneem.

Algehele ­wenner

Ontwortel

Ontwortel. Foto: © Jashim Salam/IPP Awards

Jashim Salam het die roerende foto geneem van Rohingia-kinders, wat in ’n vlugtelingkamp in Ukhiya, Bangladesj, na ’n rolprent oor gesondheid en higiëne kyk.

  • Met ’n iPhone 7 geneem.

Derde plek: Diere

Glimlaggende jakkals 

Glimlaggende jakkals. Foto: © Erica Wu/IPP Awards

Die jakkals by die Miyagi Zao-jakkalsdorp in Japan het in ’n boks geslaap met sy kop na buite om die winterson te geniet, sê Erica Wu van Taiwan. 

  • Met ’n iPhone X geneem.

Derde plek: Reis

Rooi strepe

Rooi strepe. Foto: © Soha Ghandour /IPP Awards

Soha Ghandour het dié helder foto geneem van mense wat op ’n warm somerdag op die strand by Tirus in Libanon sonbaai. 

  • Met ’n iPhone 5 geneem.

Wenner: Sonsondergange

Perdeblom-sonsondergang. Foto: © Sara Ronkainen /IPP Awards

In Sentraal-Finland, waar somerdae lank en sonsondergange pragtig is, het Sara Ronkainen een aand gestap en perdeblomme in die bries sien wieg. “Ek het een gepluk, dit omhoog gehou en as filter gebruik om die laaste strale van die son af te neem.” 

  • Met ’n iPhone 5s geneem.

Tweede plek: Kinders

Lug (deel van ’n reeks wat by ’n skaatspark in Haifa, ­ISRAEL, geneem is)

Lug (deel van ’n reeks wat by ’n skaatspark in Haifa, ­ISRAEL, geneem is) Foto: © Dina Alfasi/IPP Awards

“Ek was geboei deur die kinders wat ure aaneen geoefen het om beter te word en groter dinge te bereik,” sê Dina Alfasi van Israel. 

  • Met ’n iPhone X geneem.

Wenner: Diere

Django 

Django Foto: © Robin Robertis/IPP Awards

Django, wat in ’n Boeddhistiese klooster in China gebore is, het nou ’n nuwe eienaar, Robin Roberts van Amerika. Die hond hou van lang wandelings op die strand en om na Miles Davis se musiek te luister, sê Robin. 

  • Met ’n iPhone 7 Plus geneem.

NEEM SO BETER FOTO’S MET JOU FOON

  • Maak die lens dikwels skoon. Wolletjies en stof vergaar mettertyd, wat tot wasige fotobeelde lei.
  • Een van die maklikste en beste maniere om jou selfoonfoto’s te verbeter, is om die kamera se gidslyne aan te skakel (in die verstellings). Wanneer jy ’n foto opstel, plaas sterk lyne en verdelings soos die horison bo-op die gidslyne. Laat interessante elemente op die plekke val waar die lyne kruis.
  • Fokus op een onderwerp. Neem tyd om die foto op te stel en tik op die skerm van jou slimfoon sodat jou kamera daarop fokus.
  • Benut negatiewe of leë ruimte. Dis die areas rondom die voorwerp waarop jy fokus, soos die see om ’n boot, veld om ’n huis of muur agter ’n kleurryke bal. Dit sal jou hoof- onderwerp laat uitstaan en jou foto nog beter maak.
  • Stel jou foon op sy hoogste fotogehalte en beeldskerpte. Jy sal nie ’n foto kan uitdruk as jy net ’n laeresolusieweergawe het nie.
  • Vermy “spieëlfoto’s” en armlengteselfies. Spieëls kan die outofokus van jou foon behoorlik verwar. Laat ’n vriend liewer ’n foto van jou neem. As jy ’n foto van jouself móét neem, gebruik die tydfunksie, sodat jy die foon op ’n afstand kan stel en dan poseer.

Bronne: Wikihow.com, blog.hubspot.com