“Vlooi is my oogappel,” sê Charl (48) en vryf die donkerkoppie oor haar kop. En natuurlik is die seuntjie op Etta (49) se skoot háár witbroodjie. Die ander sussie sit styf tussen die twee grootmense.

Maar jy wag verniet dat die Ventertjies met ’n laggie op al dié gepamperlang reageer of rusteloos kriewel. Want sien, Charl en Etta se “kinders” is almal poppe . . .

En dis g’n gewone popspelery nie.

Die peperduur lewensgetroue poppe het laaikaste vol klere, gaan saam winkel toe, en geniet dit om trampolien te spring en boom te klim tydens wegbreke by vakansieoorde.

Die Ventergesin span gereeld saam uit by vakansieo
Die Ventergesin span gereeld saam uit by vakansieoorde en vertel hul “kinders” is mal oor boomklim en trampolien spring. Foto: Verskaf

Vlooi heet eintlik Meiling.

Op Etta se skoot sit Heinrich, oftewel Seuna, en tussen die grootmense Michelle, wat Chella genoem word.

Elkeen het sy of haar eie persoonlikheid, nukke en voorkeure, hoor ons. Nee, hulle is nie die kluts kwyt nie, kom dit van Charl, wat na homself as ’n “semiprofessionele krieketskeidsregter” verwys.

Hulle weet darem dis poppe.

Maar dan bieg Etta: “Dit voel soms of hulle sommer hier in die gang af gaan kruip, en jy wens dis wel moontlik vir hulle.”

Charl knik instemmend.

“Dit maak ons gelukkig. Dit maak Etta rustig. Wanneer sy ’n moeilike dag by die werk het, sal ek ’n foto van die kinders vir haar stuur waar hulle nou weer iets aangevang het, en dan beur dit haar sommer op,” vertel hy.

Die meeste aande eet die gesin saam. Foto: Papi Mo
Die meeste aande eet die gesin saam. Foto: Papi Morake

Benewens hul buitengewone kroos het Charl twee volwasse kinders uit ’n vorige huwelik. Maar Etta, ’n diabeet, is weens gesondheidsredes afgeraai om kinders van haar eie te hê.

“Hulle is terapeuties vir my,” verduidelik sy oor die popspruite. “Hulle vul daardie leemte in my hart . . .”

Met hul “kinders” rustig wys Charl en Etta, ’n rekenmeester, ons die eenslaapkamerwoonstel in die woonbuurt La Montagne.

Sy trek die een laai ná die ander oop.

“Elkeen van die kinders het twee laaie vir hul klere, een vir winterklere en een vir somerklere,” vertel sy.

“Kyk net die oulike skoentjies . . . Dié is Seuntjie se gunsteling,” sê sy en wys na ’n paar Supermanpantoffels.

Daar is ook meer as 20 fopspene en talle bababottels.

PRETORIA,SOUTH Etta het laaie vol klere en skoene
Etta het laaie vol klere en skoene vir die “kinders”. Daar is ook meer as 20 fopspene en talle bababottels. Foto: Papi Morake

Teen die muur hang geraamde foto’s van hul popkinders.

“My Moedersdaggeskenk aan Etta verlede jaar,” sê Charl.

By die voetenent van die egpaar se dubbelbed staan die regte bababed waarin hul kinders saans slaap.

“Ek gaan gewoonlik vroeër kamer toe en lê solank vir Seuna en Vlooi in die bed saam met my,” vertel Charl.

“Wanneer Etta bed toe kom, bring sy vir Chella en sit haar en Seuna dan saam in die kot. Vlooi slaap gewoonlik op haar kussing by my,” sê Charl en beduie na die kleinste pop.

Vlooi is ’n “pragtige kind, maar sy is die oudste en sy’s bossy”, verklap Charl.

 Van uitstappies op hul ma se nek tot ’n speel-spe
Van uitstappies op hul ma se nek tot ’n speel-speel-be­sering, die egpaar speel heerlik pop. Etta vertel die poppe is vir haar terapeuties en vul ’n leemte in haar hart. Foto: Verskaf

“Sy raas met haar boetie en sussie as hulle te rumoerig raak.”

Seuna het sy eie loopring, wys Etta ons.

“Seuntjies is mos maar woelig, so dit help om hom besig te hou,” sê sy.

Seuna in sy loopring. Foto: Verskaf
Seuna in sy loopring. Foto: Verskaf

En Chella? “Ag, sy is die een wat vol fiemies is. Sy wil nie haar kos eet nie en sê dan net ‘dis disgusting’,” sê Charl en skud glimlaggend sy kop.

Charl en Etta is 10 jaar gelede getroud nadat hulle mekaar aanlyn ontmoet het.

Net Charl was voorheen getroud. Sy oudste dogter is 29 jaar oud en sy seun 21.

Etta het toe reeds haar eerste pop, Vlooi, gehad.

‘Vlooi raas met haar boetie en sussie as hulle te rumoerig raak’

“Ek is ’n tipe 1-diabeet. Ek het op ’n tyd, voor ek Charl ontmoet het, fertiliteitsbehandeling oorweeg, maar die dokter het gesê my niere sal erg skade ly.”

Toe, in 2007, lees sy die artikel in Huisgenoot oor ’n vrou wat poppe van pasgebore babas versamel.

Elkeen word met die hand gemaak en kos enigiets van R1 800 tot R8 000.

“Ek het Vlooi eerste gekoop. Sy was so mooi en cute,” sê Etta.

Van uitstappies op hul ma se nek tot ’n speel-spee
Van uitstappies op hul ma se nek tot ’n speel-speel-be­sering, die egpaar speel heerlik pop. Foto: Verskaf

Maar Vlooi het meestal net op ’n kas sit en mooi lyk.

Toe, in 2016 met Charl reeds in haar lewe, koop sy vir Chella – en dit was die begin van hul buitengewone gesin.

“Sy het baie met Chella gespeel en haar aangetrek. Toe sê ek vir haar, hei, jy het nou twee kinders,” onthou Charl.

En dis hy self wat eindelik hul gesinnetjie met Heinrich uitgebrei het omdat hy “bitter graag ’n seuntjie wou hê”.

Soos ’n trotse pa vertel hy: “Seuna is ’n limited edition. Daar is wêreldwyd net 300 van hom gemaak. Hulle maak ’n mould en giet dan hul gesiggies,” sê Charl.

Seuna se verjaardag word saam met sy boesemvriend,
Seuna se verjaardag word saam met sy boesemvriend, Beertjie, gevier. Foto: Verskaf

Hy het nooit vermoed hy sou so lief kon raak vir die poppe nie, begin hy vertel.

Maar dan gaan krap hy in ’n kas en haal ’n beertjie uit.

“Ek het dié beertjie al sedert ek twee jaar oud was. Hy was selfs destyds saam met my army toe en het langs my geslaap. Hy het ons mascot geword, en bewaar die siel wat my wou spot. Almal het dit toe maar net aanvaar.”

Mense is nie lelik met die Venters wanneer hulle die strate invaar nie.

“Ons vat die kinders gereeld saam winkel toe. Mense staar of vra: ‘Hoe kry jy die kinders om so stil te sit?’ Dan lag ek net en sê: ‘Nee, dis poppe,’ ” vertel Etta.

Die poppe gaan soms saam winkels toe of op uitstap
Die poppe gaan soms saam winkels toe of op uitstappies. Foto: Verskaf
Die egpaar vertel mense is nie lelik met hulle wan
Die egpaar vertel mense is nie lelik met hulle wanneer hulle die strate invaar nie. Foto: Verskaf

Oor hul “halfboetie en -sussies” is ook Charl se vlees-en-bloed-kinders verdraagsaam.

“My dogter dink wel ek is nie vars nie, maar my seun lag net wanneer ek vir hom foto’s stuur. Hy sal nooit iets sê om my gevoelens seer te maak nie,” sê Charl

Hy vertel hulle is glad nie obsessief oor die poppe nie.

“Ons het reëls. Goed soos die kot en karstoeltjie koop ons net tweedehands. En ons koop net klere waarvan die pryse afgemerk is.” Etta lag.

“Charl sal soms in die winkel vir my ’n foto van iets ouliks stuur en sê: ‘Sal die kinders nie mooi lyk hierin nie?’ So dis nie net ek wat klere koop nie!”

Hy trek gelate sy skouers op. “Ja, dit is so. Ek kan dit nie help nie.”

Hulle wys ons honderde foto’s waar die kinders voorwaar soos lewende babas lyk.

“Ons gaan gereeld na ’n vakansieplek by Brits waar hulle lekker boomklim en trampolien spring. Die mense ken ons al, so hulle los ons uit,” sê Charl.

Die Ventergesin span gereeld saam uit by vakansieo
Die Ventergesin span gereeld saam uit by vakansieoorde en vertel hul “kinders” is mal oor boomklim en trampolien spring. Foto: Verskaf
Die Ventergesin span gereeld saam uit by vakansieo
Die Ventergesin span gereeld saam uit by vakansieoorde en vertel hul “kinders” is mal oor boomklim en trampolien spring. Foto: Verskaf

En soos die meeste kinders is hul spannetjie dol oor kitskos.

“Hul gunsteling is McDonald’s en ons koop vir hulle een kindermaaltyd om te deel. Hulle raak omtrént morsig en dan moet ons maar ’n bietjie raas,” vertel Etta.

Sy sien ons verbaasde gesigte en bieg dan laggend: “Op die ou end eet ek en Charl dit.”

 Heinrich is Etta se oogappel. Charl het hom spesi
Heinrich is Etta se oogappel. Charl het hom spesiaal vir haar gekoop nadat sy hom gesien het en ook presies so ’n pop wou hê. Net 300 Heinrich-poppe is wêreldwyd vervaardig. Foto: Verskaf
 Heinrich is Etta se oogappel. Charl het hom spesi
Heinrich is Etta se oogappel. Charl het hom spesiaal vir haar gekoop nadat sy hom gesien het en ook presies so ’n pop wou hê. Net 300 Heinrich-poppe is wêreldwyd vervaardig. Foto: Verskaf

Is daar planne vir nog klein Ventertjies?

“Etta wil, maar ek het my voet neergesit,” antwoord Charl ferm.

“Ons het skaars genoeg tyd om behoorlik aandag aan dié drie te gee.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe