Die ma van die seuntjie, wat net as Tongtong bekend is, het vertel haar seun het ál minder kos geëet en wou nie melk drink nie.

Hy het gehuil en gereeld opgegooi voor sy hom hospitaal toe geneem het.  

Die bekommerde ma het aanvanklik gedink haar kind het slegte kos geëet en is kliniek toe waar sy medikasie daarvoor gekry het. 

katoenbal
Dit is die groot katoenbal en ander tekstielmateriaal wat in die maag van ’n tweejarige Chinese kleuter gevind is. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Maar Tongtong se toestand het verswak nadat hy die medikasie gebruik het. Hy het vir drie dae opgegooi voor hy na die departement van pediatriese chirurgie by die Lianyungang First People's-hospitaal in die stad Lianyungang in die Chinese provinsie Jiangsu geneem is.

Dr. Qiang Hong het Tongtong ondersoek en gevind die seuntjie het ’n harde massa in sy maag.

Luidens die nasionale koerant die WenxueCity het die dokter sy vermoedens gedeel dat Tongtong iets vreemds geëet het, waarop sy ma geantwoord het dat hy dikwels aan sy klere en die rusbank kou.

Tongtong is vir ’n gastroskopie opgeneem, wat bevestig het daar is ’n groot, vreemde voorwerp in sy maag. Volgens die dokters sou dit moeilik wees om dit sonder ’n operasie te verwyder.

kantoen uit kleuter se maag verwyder
Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die mediese span het besluit op ’n operasie, waartydens hulle ’n groot massa vesels en katoen gevind het. Luidens die WenxueCity het die harde rusbankvesels ’n bal in die kleuter se maag gevorm.

Die dokters het dit sonder komplikasies verwyder. Die operasie was ’n sukses en die pasiënt se ma was in die wolke toe haar seun se eetlus kort daarna terugkeer. Hy het selfs sewe tot agt keer per dag geëet. Tongtong is kort daarna ontslaan.