’n Seekoei het Dinsdag talle Suid-Afrikaners se drome uitgeleef deur op ’n warm wintersdag op die strand uit te span.

“Hy het sowat drie uur in die son gebak en af en toe redelik diep in die water gaan swem. Dit is eienaardig, want gewoonlik bly hulle redelik vlak,” vertel Dave Savides, die redakteur van die plaaslike koerant Zululand Observer, wat die seekoei afgeneem het.

In die 30 jaar wat Dave al in Richardsbaai woon, het hy nog net drie keer self ’n seekoei op die strand gewaar.

Hy vertel dat daar ’n paar teorieë is hoekom die seekoei in die soutwater was. “Dit wou moontlik van parasiete ontslae raak of die seekoei is dalk swanger en het haarself van die trop geskei om geboorte te gee,” sê hy.

Dave is besig om met navorsing oor die boggelrugdolfyne in Richardsbaai te help en het weer in die middag ’n skool van dié dolfyne in die see gewaar.

“Alkantstrand moet seker een van die enigste plekke in die wêreld wees waar jy ’n seekoei en dolfyne op dieselfde plek binne ’n paar uur kan sien,” sê Dave

Hoewel die strand steeds weens die inperking toe is, het ’n paar mense wat branderplankry en hengel die strand met die seekoei gedeel.

Seekoei
Foto: Dave Savides.

“Die mense wat hengel was bang dat die seekoei hul lewendige aas gaan eet en dan eindig hulle op met ’n seekoei aan hul lyn,” skerts Dave.

“Die branderplankryers het ook ’n goeie afstand tussen hulle en die seekoei behou en eers teruggekom toe die seekoei weg was,” voeg hy by.

Hoewel die seekoei nie weer vandag op die strand is nie, en homself verder op in een van die ander baaie gaan tuismaak het, het die seekoei mense in die sosiale media gaande.

Seekoei
Foto: Dave Savides.

“Geniet dit voor mense terugkom en jou pret bederf,” het een persoon op Facebook laat hoor.

“Die natuur is besig om hulself gate uit te geniet sonder ons,” skryf ’n ander.

“Dit is beslis die swaarste ‘persoon’ wat ons al in ’n hele rukkie op die strand gehad het,” lag Dave.