Boonop versoek die man se kliënte dat hy net soos sy bekende dubbelganger moet aantrek wanneer hy hul vensters was.  


Andy Penfold (54), die vensterwasser van Oos-Sussex, verskyn op ’n verskeidenheid foto’s met ’n sjiek swart Ray Ban-bril, presies soos Simon Cowell s’n.

Op een van die foto’s verskyn hy langs die beoordelaars van Britain’s Got Talent, ’n foto waarop die “oorspronklike” Simon ook verskyn.

View this post on Instagram

Great pic from BGMT Thursday night

A post shared by Andy Penfold (@simonc.lookalike) on

Op ’n ander foto staan hy duim in die lug langs die bekende sanger en televisiepersoonlikheid Peter André.

Waar het Andy vir die eerste keer “Simon” geword?

Andy, wat met die hoofsangeres van die rockgroep Replica bevriend is, het in 2014 kaartjies in die hande gekry wat hom toegang tot agter die verhoog gewaarborg het vir die duur van die Isle of Wight-fees om die rockers te sien optree.
 
“Saffron, die hoofsangeres van die groep, het ons baie vriendelik genooi as haar gaste met toegang tot agter die verhoog,” vertel Andy.
 
“Ek het my bril op die dag van die konsert vergeet en toe het ek ’n Ray Ban-bril gekoop. Mense het my skielik omring en gesê ek lyk na Simon Cowell. Ek dink die feit dat ek in die BBP-gedeelte was, het gehelp.”

Hy is daarna aangeraai om ’n foto na ’n ewebeeldagentskap te stuur. Hulle het hom op hul boeke geplaas en sedertien het hy, geklee soos Simon Cowell, talle glansryke geleenthede bygewoon.
 
“By die agentskap het ek met verskeie handelsmerke saamgewerk, soos Thornton’s Chocolate, Intu-Shopping Centre, Kerry Foods en Yara UK."

Hy is ook in 2014 gevra om saam met die groep Rouge Kiss, wat deelnemers aan die Britse weergawe van X Factor was, in ’n musiekvideo op te tree.  

“Ek het vir Talk Talk en die X Factor Final gewerk; ek was, saam met hul korporatiewe kliënte, die hele naweek daar by die Wembley-stadion.”

Daarna is hy na die stel van Britain’s Got More Talent (BGMT) genooi, waar hy Simon, Amanda Holden, David Walliams en Alesha Dixon ontmoet het, wat almal oorbluf was deur sy ooreenkoms met Simon.

Komiese oomblikke

“Om net ’n paar van die komiese oomblikke uit te lig: een daarvan was toe ek en vier van die ouens van die rugbyklub Wolverhampton toe gereis het om ’n weergawe van die Full Monty vir 250 dames op te voer tydens ’n damesaand. Dit het net meer as R46 300 (£2,500) vir kankernavorsing opgelewer.

“Toe ons in Hollywood was, het ons Simon se huis opgespoor en ek het buite gestaan vir ’n foto. ’n Toerbus het verbygery en jy kon die verteller hoor sê ‘Genade, Simon is buite’.

 

“In daardie stadium het die mense wat agter in die bus gesit het, oorboord gegaan met flitsende kameras, en dit was so snaaks. Dit laat mens wonder hoe ver foto’s om die wêreld reis.”

Baie vreemdelinge nader hom gereeld vir foto’s en selfs in die bedryf waar hy werksaam is, vra kliënte hom soms om hul vensters skoon te maak in Simon Cowell se mondering.

Andy gee toe dat dit tot dusver ’n tuimeltreinrit was en dat hy, as gevolg van sy ooreenkoms met Simon, in staat was om te help geld insamel vir liefdadigheid.

Hy het aanvanklik nie probeer om Simon se styl na te boots nie, maar toe hy ontdek hoe baie hulle op mekaar trek, het hy meer pogings aangewend om op die hoogte te bly met sy uitrustings.

“Ek pas byvoorbeeld my hare aan tydens amptelike okkasies, want die skilderdoek is basies daar, ek versterk dit net,” het hy vertel.


Andy oor Simon

“Die manier waarop Simon aantrek, is gelukkig maklik om na te boots. Ek het wel jeans effens laat verander vir die voorkoms, en ek het eenkeer ’n pak klere in Thailand laat maak wat geskoei is op syne, en wat ek in BGMT gedra het.
 
“Ek dink hy is ’n ware heer; hy doen so baie dinge wat nie raakgesien word nie, vir so baie mense. Ek dink hy is ’n egte persoon.  

“Ek dink sy reaksie op die vertoning sê dit alles, dis verstommend. Ek het hom sedertdien twee keer raakgeloop.


“Ek reken dat, aangesien ek ouer is, die vergelyking my nie pla nie. Jy kry nog soms die opmerking ‘hoekom wil jy soos hy lyk,’ maar jy laat dit eenvoudig verbygaan.

“’n Dame het in werklikheid in die middel van die pad stilgehou, geskree ‘Simon’ en na my toe aangekom vir ’n foto. Goeie genade, sy het soos ’n riet gebewe.

“Sy het eers op die nippertjie besef dat dit nie hy was nie, maar wou nog steeds ’n foto hê, en het opgemerk ‘jy’s deksels goed’.

“Ek het af en toe aanmerkings gehoor terwyl ek besig was om vensters te was in Simon se mondering, maar dit gaan my nie aan nie; die een werk betaal die rekeninge en die ander een is vir die pret terwyl ek geld insamel vir liefdadigheid en om moontlik ’n pensioenfonds op te bou.

  

“Simon was ’n aangename kêrel toe ek hom ontmoet het, en solank ek mense laat glimlag, is dit al wat tel.”

Bykomende bron: Instagram