Dit was drieuur die oggend, en buite nog stikdonker toe sy van die honde se geblaf wakkerskrik. In haar benewelde toestand het Tanya Joubert haarself uit die bed gedwing en suutjies in die gang van die ruim huis afgeloop.

Hier kon sy nie sin maak van die nat sleepmerke oor die vloer nie – merke wat van haar kamerdeur tot daar waar haar dogters, Zelda (12) en Annie (8), slaap, gestrek het.

Tog het sy nie veel daarvan gemaak nie; en dit bloot afgemaak as een van die dogters wat dalk ’n nat handdoek oor die vloer getrek het.

Maar toe Frikkie, haar man, die volgende oggend net ná sonopkoms ’n twee meter lange luislang in die gesin se bad aantref, het sy meteens besef: Die yslike slang het deur die loop van die nag in haar én haar kinders se kamers kom kuier.

“In die Jouberts se huis is dit al jare lank gewoonte dat ons eers nie ons badwater uittap nie sodat ons die volgende môre die plante buite die huis daarmee kan natlei,” vertel Tanya, ’n inwoner van River Lodge in Hoedspruit in Limpopo, Dinsdag aan Huisgenoot.

Slang
Die luislang steek haar kop by die badwater uit. Foto: Verskaf

“Toe Frikkie een oggend vroeër vandeesmaand sy hand in die bad druk om die prop toe wel uit te trek, het hy iets in die water gesien wat na ’n handdoek gelyk het. Maar toe hy meer wikkel, toe steek die yslike luislang haar kop by die water uit . . .”

Frikkie het “groot geskrik” en dadelik vir Tanya geroep om te kom kyk, vertel sy. “Ons kon dit nie glo nie – net daar in ons bad het die slang toe besluit om die nag deur te bring en toe sommer ’n bietjie af te koel ook.”

Dis toe dat die egpaar besef die slang, glo ’n wyfie, het deur die loop van die nag eers in elke kamer gaan kuier voor sy hom eindelik in die koel water gaan tuismaak het.

“Die slang het oor die honde se waterbakke geseil en was toe nat; daarom kon ons die beweging bepaal. Sy was eers by die dogters se kamer in, toe na ons kamer toe en toe terug badkamer toe. Ek besef later eers dat die slang waarskynlik in my kamer was toe ek wakkergeword het om te kyk waarvoor die honde blaf,” vertel sy.

Die egpaar het hul hande vol gehad om die vyf hondjies, drie foksterriërs en twee Jack Russells, die volgende oggend in toom te hou omdat hulle die slang heeltyd wou storm, vertel Tanya.

“Hulle het seker skuldig gevoel omdat hulle die vorige aand ná ’n rukkie ophou blaf het en dus nie hul werk reg gedoen het nie,” spot sy.

Slang
Die gesin. Van links is Frikkie, Zelda, Annie en Tanya. Foto: Verskaf

Vir ’n slang skrik hulle niks, vertel Tanya. Sy het immers in die verlede al drie hondjies deur slangbyte verloor – en is vas oortuig dat die slang een van haar hondekinders sou byt as sy wel honger was.

“Ek dink die arme slang het maar net ontsettend warm gekry – dit was immers vrek warm.”

Tanya vertel haar man het glo vir Donald Strydom van die Kinyonga Reptile Centre in die omgewing ontbied wat toe ’n werknemer gestuur het wat die slang toe binne 15 minute moeiteloos uit die gesin sy huis verwyder het.

Strydom sê by navraag van Huisgenoot die slang is steeds in kwarantyn en word gerehabiliteer voor sy binnekort weer in die berge in die omgewing vrygelaat sal word.