Ysige temperature het New York vroeg in 1982 in ’n greep gehad – so erg dat Donald en Ivana Trump besluit het om na Palm Beach in die suide te vlieg om ’n paar dae in die son te geniet.

Toe hulle daar aankom, begin dit reën. Dit het Donald egter nie gekeer om die portier te bel en ’n limousine te vra vir ’n toer van die dorp, een van die rykstes ter wêreld, nie.

Die eiendomsmagnaat was wel met vakansie, maar sy kop was altyd met die een of ander transaksie besig.

“Wat is hier te koop?” het hy gevra.

“Wel, verreweg die beste ding hier is Mar-a-Lago, maar ek neem aan dis nie waarna jy verwys nie,” het die bestuurder gesê, menende hierdie jong man en sy vrou sou nie in een van die duurste landgoedere in Amerika belangstel nie.

“Wat is Mar-a-Lago?” het Trump ­gevra.

Marjorie Merriweather Post, die erf­genaam van ’n ontbytkossakeryk, het dié landgoed van 9 ha tussen 1923 en 1926 tot stand gebring en tot 600 werkers in diens gehad.

Marjorie Merriweather Post, die erfgenaam van ’n o
Marjorie Merriweather Post, die erfgenaam van ’n ontbytkossakeryk.

Dit was ’n Amerikaanse paleis waarin sy ses dekades lank in die wintermaande gewoon het. ’n Personeel van 39 het die huishouding behartig en sowat 30 tuiniers het die grasperke onberispelik gehou.

Dit alles het Donald se nuuskierigheid geprikkel en hy het reëlings getref om dit te sien te kry.

Terwyl sy limousine met South Ocean-boulevard afgery het, het hy die 22 m hoë toring van Mar-a-Lago gesien.

Op die landgoed is ’n sitrusboord, ’n minigholfbaan, werkersbehuising, twee bomskuilings en ’n privaat strand. Hy het geweet sy ander eiendomme – ’n tripleks in Trump Tower in New York en ’n herehuis in Greenwich, Connecticut – kon nie daarmee vergelyk word nie.

Vir hom was Mar-a-Lago met sy Moorse styl “dalk die wonderlikste plek ter wêreld”.

Dié herehuis met 114 kamers is in die 1920’s deur
Dié herehuis met 114 kamers is in die 1920’s deur Marjorie Merriweather Post laat bou.

Toe hy deur die hekke ry, was die landgoed se imposante hoofdeure waarskynlik die eerste ding wat Donald opgemerk het. Dis van tralieagtige yster en glas ­gemaak en is op sigself ’n kunswerk. Die herehuis met sy 114 vertrekke is onder meer versier met Spaanse teëls uit die 14de en 15de eeu en sytapisserieë.

Dit was ’n monument vir ’n vrou se voorliefde vir swierige, waardevolle dekor.

Donald het dit as ’n “museum” ­beskou en beslis nie ’n plek vir iemand soos hy nie. Maar hy het ook geweet as hy eers die landgoed besit, sal dit hom ’n sekere aansien gee in ’n wêreld waarvan hy nie deel was nie. Hy moes dit eenvoudig syne maak.

Dit was teen sowat R21,8 miljoen in die mark, verreweg die hoogste prys nog vir ’n privaat woning in Amerika. Maar dit het Donald nie ontmoedig nie. Hy het jare lank daaroor onderhandel, en in 1985 het die Postfamilie ingestem om die landgoed en sy meubilering vir sowat R17,9 miljoen aan hom te verkoop.

Op elke spieëltafel was ’n goedkoop ysbak met die woorde Trump Castle daarop – hulle het uit sy casino in Atlantic City gekom.

Toe het hy dit met die binnenshuise versierder Buffy Donlon se hulp in sy eie plesierpaleis begin omskep.

Sy het tydens haar eerste besoek aan Mar-a-Lago in die bottelary ingestap, waar sy 19 stelle porselein ontdek het, elkeen met genoeg breekware vir 36 mense. Daar was ook silwerware vir 200 gedekte plekke.

Die 58 slaapkamers het een ding gemeen gehad: Op elke spieëltafel was ’n goedkoop ysbak met die woorde Trump Castle daarop – hulle het uit sy casino in Atlantic City gekom.

Buffy het ineengekrimp. Dit was presies die vulgêre soort ding wat kritici sou gebruik om te sê die nuwe eienaars is nie waardig om op Mar-a-Lago te woon nie.

Tot Buffy se verligting het Donald hom nie met die fyner besonderhede van die opknappingswerk bemoei nie. Een ding waarop die nuwe eienaar wel aangedring het, was sy eie portret teen die muur. Dié taak het hy aan die Palm Beach-kuns­tenaar Ralph Wolfe Cowan toegewys.

Die portretkunstenaar was daarvoor bekend dat hy sy welgestelde klante vlei en dié keer het hy homself oortref.

Sy portret, getiteld The Visionary, beeld ’n jeugdige Donald uit in ’n wit trui en broek, met die seningrige, sterk gestalte van ’n jong adonis en die gesig van ’n rolprentster. Die portret het die plek van mev. Post s’n ingeneem.

Op Mar-a-Lago het Ivana Trump die septer geswaai. Sy het haar gaste se dae met aktiwiteite gevul, van masserings en tennis tot wandelings op die strand en langs die swembad ontspan.

Gaste kan by die swembad of die landgoed se privaa
Gaste kan by die swembad of die landgoed se privaat strand ontspan.

Haar man het maar min hierin belanggestel en baie tyd deurgebring in sy onopgesmukte slaapkamer, waar hy sport op die televisie gekyk en deur die kanale geflits het – enigiets eerder as om tyd saam met sy vrou deur te bring. Hy het geïrriteerd gelyk met byna alles wat Ivana gedoen het.

In 1990 het die huweliksbootjie skipbreuk gely en Donald het sy vrou ná ’n huwelik van 12 jaar verlaat. Hy het toe al drie jaar lank heimlik ’n affair met die 26-jarige aktrise Marla Maples gehad.

Sy opspraakwekkende egskeiding was boonop in ’n tyd toe sy sakeryk begin wankel het. Hy was kniediep in die skuld en was verplig om die een onderneming ná die ander bankrot te laat verklaar.

Marla het op 13 Oktober 1993 in die St. Mary-hospitaal in West Palm Beach die lewe aan hul dogter, Tiffany, geskenk. Teen die einde van daardie Desember was hulle getroud.

Trump en sy eerste vrou, Ivana, en hul twee kin­de
Trump en sy eerste vrou, Ivana, en hul twee kin­ders, Eric en Ivanka.
Sy huwelik met Marla Maples het nie lank geduur ni
Sy huwelik met Marla Maples het nie lank geduur nie.

Met Mar-A-Lago se instandhoudingskoste wat R8,17 miljoen per jaar was, was al manier waarop Donald sy geliefde landgoed kon behou om besoekers daar toe te laat. Hy het besluit om Mar-a-Lago in ’n klub te omskep. Die kombuis moes aangepas word om 75 gaste daaruit te bedien en 10 suites is vir gaste ingerig.

Hy het die biblioteek in ’n kroeg ver­ander; sy portret het sy ereplek in die ­vertrek behou, maar al die ongeleesde boeke, in leer gebind, is verwyder.

Die Mar-a-Lago Club is in Desember 1995 geopen. Donald het sy eie sterstatus sover moontlik benut om die klub te bemark.

Saamgeflanste lys van bekendes

Toe Kathy Merlin, lidmaatskapsdirekteur vir Palm Beach se plaaslike koerant, Shiny Sheet, vertel die wêreld se beroemdste vervreemde egpaar, prins Charles en prinses Diana, was albei stigterslede van die klub, het dit die voorblad gehaal.

Die nuus het in koerante en op tele­visie oor die hele land verskyn. Luidens die berigte het Charles en Diana nie vir Donald ’n twee-vir-die-prys-van-­een-­lidmaatskap gevra nie. Die vervreemde egpaar het glo elk die volle sowat R181 500 opgedok.

Van die groot name op die lys wat die klub se skakelkantoor uitgereik het, was dié van oudpres. Gerald Ford en die akteurs Bruce Willis, Arnold Schwarze­negger, Robert Wagner, Elizabeth Taylor en Denzel Washington en ook die regisseur Steven Spielberg.

Later is onthul die lys is saamgeflans om publisiteit te kry en dat geeneen van die bekendes onder die klub se 350 lede tel nie. Tog het dit Donald skynbaar nie gepla dat hy uitgevang is nie.

'Camelot op steroïede'

Trump is baie tuis in dié soort omgewing.
Trump is baie tuis in dié soort omgewing.
Die eetkamer.
Die eetkamer.
Mar-a-Lago se bal­saal is geskoei op die manjifiek
Mar-a-Lago se bal­saal is geskoei op die manjifieke Spieël­saal by Versailles in Frankryk.

In 2004 het hy R258 miljoen bestee om ’n balsaal van 1 850 vierkante meter te bou – vier keer soveel as wat hy vir Mar-a-Lago en alles daarin betaal het. Dit is op die manjifieke Spieëlsaal by Versailles in Frankryk ­geskoei. “

In daardie beginjare was dit ­Camelot op steroïede,” sê een stigterslid oor Mar-a-Lago.

“Dit was Richie Rich wat met al sy speelgoed speel. Donald was onder groot druk om te sorg dat alles uit die boonste rakke is, en dit is wat hy gedoen het.”

Donald het steeds sy naweke in Palm Beach geniet, maar vir Marla was die lewe daar in sommige opsigte onhoudbaar. Sy wou privaatheid hê, maar tensy sy en Tiffany alleen in die gesin se deel van die landgoed bly sit het, het sy oral ander mense raakgeloop.

Marla Maples en die lyfwag

Toe hul huwelik ál ongelukkiger word, het die personeel vertel hulle het modelle saam met Donald op sy vliegtuig gesien. Daar was ook gerugte dat Marla nie alte getrou aan hom was nie.

Die Amerikaanse skinderblad National Enquirer het in April 1996 onthul die polisie het haar betrap terwyl sy met Donald se lyfwag, Spencer Wagner (35), seks gehad het onder ’n lewensredderstoel op ’n strand naby Mar-a-Lago.

Donald het dit nie geglo nie. Die polisie kon hom dalk nog op die strand betrap het terwyl hy seks het, maar nie sy vrou nie, en beslis nie enige vrou wat al die Trump-aanraking ervaar het nie.

Hy was verpletter, en die ergste was dat hy niks daaraan kon doen nie. Al manier waarop hy ’n eindelose vernedering in die openbaar kon vermy, was deur te ontken dat dit gebeur het en met Marla getroud te bly.

Hy het Palm Beach toe gevlieg, waar Marla ’n verklaring uitgereik het waarin sy sê sy moes daardie aand ’n nood verlig en Spencer het op ’n respekvolle afstand bly staan.

Donald het vir die volgende week se uitgawe van die National Enquirer ’n onderhoud toegestaan waarin hy die rol van die liefdevolle wederhelf gespeel het: “Enige man sou geskok wees om te hoor die polisie het sy vrou om vieruur die oggend saam met ’n ander man op die strand voorgekeer– maar ek is nie net enige man nie, en Marla is nie net enige vrou nie. Ek het Marla lief, en ek vertrou haar.”

Maar in Mei 1997, moeg daarvan om ’n front voor te hou, het die Trumps hul egskeiding in ’n kort verklaring aangekondig. Met Marla uit die prentjie het Donald ’n vryheidspartytjie op Mar-a-Lago gehou en 250 modelle van Miami genooi. Hulle het in busse opgedaag wat te groot was om deur die landgoed se hekke te ry.

Vroue kan kom en gaan, maar Mar-a-Lago het ’n bron van vreugde gebly.

Vergifnis? Vergeet dit

Trump huiwer nie om vir personeel presies te sê wa
Trump huiwer nie om vir personeel presies te sê wat hy van hulle verwag nie.

Donald was uiters trots op die landgoed en was betrokke by elke aspek van die bestuur daarvan. Wanneer hy deur die gange gestap het, het hy alles deeglik deurgekyk.

So het hy eenkeer op twee werknemers afgekom wat op die gras sit.

“Wat maak julle ouens hier?” het ­Donald gevra.

“Wel, ons het nie op die oomblik iets om te doen nie.”

“Dan is julle afgedank,” het Donald laat hoor.

Dit het ’n rilling van vrees deur al die werkers op die landgoed gestuur. Dis hoe hy feitlik almal hanteer het: Maak voor hom droog en dis klaarpraat. Dit het ’n atmosfeer van voortdurende senuagtigheid onder sy werknemers geskep. Vergifnis was eenvoudig nie deel van sy manier van sake doen nie.

Tog was Donald vol teenstrydighede. Jy kon een ding oor hom sê en vyf minute later sou hy presies die teenoorgestelde doen. Ja, hy was ’n moeilike baas, maar hy kon ook ongelooflik baie begrip toon.

Trump, die burger-braaier

In Januarie 1998 het hy ingestap op Mar-a-Lago se Super Bowl-partytjie, waar dubbeld soveel mense opgedaag het as wat verwag is. Die enkele kok kon eenvoudig nie voorbly met die maak van hamburgers en worsbroodjies nie.
Hy het gesien die man by die rooster het sy hande vol en het ingegryp.

“Gee my jou voorskoot,” het Donald aangedring. “Kom ek wys jou hoe om burgers te maak.”

As ’n gesoute braaier het hy die kok touwys gemaak terwyl hy besig was met die burgers en wors op die rooster.

“Jy weet jy kan siek word as dit nie gaar genoeg is nie,” het hy gesê en ’n sissende burger met ’n spatel platgedruk.

Donald is ’n man met eenvoudige smaak – soos die klub se Franse sjef, Bernard Goupy, ontdek het.

Bernard was bekend vir sy spesialiteitsgereg, Caesarslaai. Hy het met ’n eetbare bak van parmesaankaas begin waarby hy die varsste blaarslaai gevoeg het saam met kapperbessies so groot soos klein albasters, spesiale krotons en sy geheime slaaisous. Klublede was vol lof daarvoor en het dit soms meer as die hoofgereg geniet.

Eenmaal het die sangeres Celine Dion en haar man, René Angélil, met 90 van hul vriende uit Quebec, Kanada, by Mar-a-Lago opgedaag.

Bernard het ’n skouspel­agtige feesmaal voorgesit met keurige fyngebak as nagereg. Celine was so beïndruk dat sy daarop aangedring het dat Bernard uit die kombuis kom en ’n buiging neem, wat hy toe gedoen het.

Maar dit was nie genoeg om die sjef se baas te beïndruk nie.

Daardie 'f***** Caesar­slaai'

Nadat Bernard ses maande by Mar-a-Lago gewerk het, het Donald in die kombuis ingebars en op hom geskree: “Jy en jou f***** Caesar­slaai. Ek sal jou wys hoe om ’n f***** Caesar te maak.”

Bernard vertel Donald het “soos ’n matroos gevloek” terwyl hy ’n bak vol blaarslaai gegryp het. Nadat hy ’n hand vol krotons bygegooi het, het hy die konkoksie vol slaaisous gespuit.

“Dis nou ’n f***** Caesar!” het Donald triomfantelik gesê. Bernard is die volgende oggend ­afgedank.

In November 2016, op die aand van die verkiesing, het meer as 250 klublede by Mar-a-Lago aan sjampanje geteug terwyl hulle die televisieskerms dopgehou het. Byna almal is huis toe voor die wenner van die Amerikaanse presidentsverkie­sing aangekondig is – mense het nie juis laat gekuier in Palm Beach nie, wat ook al die geleentheid was.

Toe nuusnetwerke Donald se oorwinning aankondig, was die meeste van Mar-a-Lago se lede net so verstom soos enigiemand anders.

Donald het ’n paar weke later van New York af in sy vliegtuig daar aangekom.

By hom was nie net sy derde vrou, Melania, en hul seun, Barron, nie; die res van die familie was ook daar – sy vier volwasse kinders, hul drie lewensmaats en sy agt kleinkinders.

’n Volle 45 voertuie was ­nodig om die aangewese president en sy familie van Palm Beach- Internasionale Lughawe na Mar-a-Lago te neem.

Hy en sy derde vrou, Melania.
Hy en sy derde vrou, Melania.

Volgens memo’s van die departement van nasionale sekuriteit wat NBC News te sien gekry het, het 150 geheimediens-agente hulle beskerm. En langs die Intracoastal Waterway het swaargewapende kuswagbote die waters gemonitor.

Donald het nie iewers in ’n diskrete hoekie onderhoude met moontlike ampsdraers in sy regering gevoer nie, maar in die hoofdeel van die herehuis. Daar het hy ewe vorstelik op ’n rusbank met goue spikkels onder ’n glimmende kandelaar gesit.

Die 'regte' kleredrag

Nog voor hy tot president verkies is, wou die mense op Mar-a-Lago al graag in sy geselskap wees. Nou was dit nog ­erger. En jy moes reg aangetrek wees daarvoor – dit beteken jy moes soms ­klere dra waarop “Trump” of “Mar-a-­Lago” staan. Dit was een van die redes waarom die klere soos soetkoek in die winkel op die landgoed verkoop het.

Die klub was elke aand volbespreek vir aandete, en party lede het tafels vir agt of 10 bespreek sodat hulle hul vriende kon saambring. Dit alles het Donald se sak verder gevul.

Op Oukersaand 2016 was dit met die buffet in die Donald J Trump-balsaal dieselfde storie. Elkeen van die 400 gaste het hul sak geskud om daardie aand daar te wees, afgesien van hul aansluitingskoste en al die ander fooie.

Oral waar Donald gekyk het, kon hy die geld sien inrol. Dit was ’n nog mooier prentjie as die destydse muntoutomate in sy casino’s in Atlantic City. En hy het nie eens nodig gehad om hom daaroor te bekommer dat enigeen die boerpot sou wen nie.

’n Geredigeerde uittreksel uit Mar-a-Lago: Inside
’n Geredigeerde uittreksel uit Mar-a-Lago: Inside the Gates of Power at Donald Trump’s Presidential Palace deur Laurence Leamer.
Mar-a-Lago: Inside the Gates of Power at Donald Trump’s Presidential Palace deur Laurence Leamer (Flatiron Books) is beskikbaar by takealot.com
 FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, MARALAGOCLUB.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.