Een houttandestokkie is nuttig as jy ’n irriterende stukkie kos tussen jou kiestande probeer loswikkel. Maar wie sou nou kon dink dat sowat 2 miljoen van dié outjies ’n reusekunswerk kan vorm wat herinner aan ’n pelsjas of ’n vreemde seedier . . .

Baie kunstenaars kies deesdae om alledaagse dinge in ongewone kunswerke te omskep. Dié gewone voorwerpe word die boustene van iets wat jou oor die lewe laat besin – en jou daaraan herinner om nie sommer net weg te gooi nie, maar eerder te herwin en weer te gebruik met ’n oorspronklike idee.

Kunswerke soos dié is vandeesmaand te sien op twee kunstefeeste in die Kaap, die Investec Art Fair (14-16 Februarie) in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum en die Stellenbosch-triënnale (11 Februarie - 30 April).

By dié triënnale van kontemporêre kuns word die werk van sowat 50 kunstenaars van oor Afrika aangebied.

Die tema is: Môre is daar meer van ons.

“Al die platforms sal vir gesprekspunte sorg oor die verdeelde verlede, gesamentlike hede en voorgestelde toekoms. Kunstenaars kan dié tema interpreteer soos hulle wil, byvoorbeeld vanuit ’n omgewings- of kulturele oogpunt,” sê Lisa Pellatt, ’n komunikasie­beampte van die triënnale.

Hier is van die interessante kunswerke wat uit alledaagse huisgoed geskep is en op dié twee kunsfeeste uitgestal word.

Tandestokkies

Dit lyk soos ’n sagte pelsmat, maar eintlik bestaa
Dit lyk soos ’n sagte pelsmat, maar eintlik bestaan dit uit duisende, selfs miljoene, skerp tandestokkies.

Dit lyk soos ’n sagte pelsmat, maar eintlik bestaan dit uit duisende, selfs miljoene, skerp tandestokkies.

Chris Soal (25), ’n kunstenaar van Johannesburg, voer die tandestokkies in en het onlangs berkehoutstokkies vir bamboesstokkies verruil omdat dit omgewingsvriendeliker is.

“Dit dra nie by tot ontbossing nie, en wanneer dit vervaardig word, is daar ook minder vermorsing.”

Dis moeilik om die stokkies te manipuleer sodat hulle reg lê wanneer hy dit met gom vasplak.

'Dit vat ook lank om die werke reg op te hang en t
'Dit vat ook lank om die werke reg op te hang en te monteer sodat dit die regte effek het,' sê Chris.

“Dit vat ook lank om die werke reg op te hang en te monteer sodat dit die regte effek het,” sê Chris.

Van sy werk sal by die Investec Art Fair in Kaapstad uitgestal word.

Skoenmakerskisssies

Ibrahim Mahama het onlangs ’n reusagtige installas
Ibrahim Mahama het onlangs ’n reusagtige installasiekunswerk geskep toe hy ’n groot muur met sowat 2 000 skoenmakerskissies gebou het.

Die 33-jarige Ibrahim Mahama skep reusagtige kunswerke wat nie misgekyk kan word nie. Hy werk graag met goiingsakke en gaan selfs so ver as om ’n hele gebou daarmee te bedek.

Hy is in Tamale in Ghana gebore en woon steeds daar. Hy het onlangs ’n reusagtige installasiekunswerk geskep toe hy ’n groot muur met sowat 2 000 skoenmakerskissies gebou het – dié is in onder meer Londen uitgestal.

Hierdie soort houtkissies word gewoonlik gebruik om toerusting om skoene reg te maak en te poleer in te bêre.

Van Ibrahim se kuns word by die triënnale asook die Investec Art Fair uitgestal.

Dobbelstene

Die ontwerp van elke kunswerk word haarfyn op die
Die ontwerp van elke kunswerk word haarfyn op die rekenaar beplan sodat Pierre presies weet hoeveel dobbelstene hy gaan nodig hê.

Hy het nog altyd daarvan gehou om dinge te bou en aan mekaar vas te plak, vertel Pierre Fouché (42) van Kaapstad. En die basiese eenheid van ’n beeld-element – die pieksel waaruit digitale beelde opgebou word – inspireer hom al jare lank.

Terwyl Pierre besig was om aan ’n kunsprojek bestaande uit geverfde legkaartstukke te werk, het hy aan die eenvoudige dobbelsteen begin dink.

Hy het die idee gekry om met twee verskillende kleure dobbelstene te werk en die ver­skillende kante van die dobbelstene te gebruik om verskillende skakerings van elke kleur te skep.

By ’n wit dobbelsteen met swart kolletjies op is die kant met ses kolletjies op byvoorbeeld baie donkerder as die kant met net een kolletjie op – veral wanneer jy dit van ver af beskou.

“Ek werk met twee kleure en ses skakerings om realistiese prente te skep,” vertel Pierre.

'Ek werk met twee kleure en ses skakerings om real
'Ek werk met twee kleure en ses skakerings om realistiese prente te skep,' vertel Pierre.

Die ontwerp van elke kunswerk word haarfyn op die rekenaar beplan sodat Pierre presies weet hoeveel dobbelstene hy gaan nodig hê. Een van die werke wat hy verlede jaar gemaak het, het uit 20 000 dobbelstene en ses panele – wat elk 23 kg geweeg het – bestaan, vertel Pierre.

Van Pierre se werk word by die Investec Art Fair uitgestal.

Ou wapens

Gonçalo Mabunda is veral bekend vir die trone wat
Gonçalo Mabunda is veral bekend vir die trone wat hy daaruit bou.

Die Mosambiekse kunstenaar en anti-oorlogsaktivis Gonçalo Mabunda (45) gebruik graag ou ammunisie wat in 1992 ná die burgeroorlog in dié land gevind is vir sy kunswerke.

Gonçalo stel sy beeldhouwerke met onder meer ou, gedeaktiveerde AK-47-vuurwapens en pistole saam en is veral bekend vir die trone wat hy daaruit bou.

Hy maak ook maskers en abstrakte figure van staal en herwonne wapens. Hy probeer hiermee ’n boodskap oor die transformerende mag van kuns oordra.

Van Gonçalo se werk word by die Investec Art Fair uitgestal.

Beesmis

Kaloki Nyamai (35), ’n kunstenaar van Nairobi, Ken
Kaloki Nyamai (35), ’n kunstenaar van Nairobi, Kenia, gebruik beesmis in sy kunswerke.

Hoekom net verf in ’n skildery gebruik – wat van ’n bietjie beesmis? Kaloki Nyamai (35), ’n kunstenaar van Nairobi, Kenia, gebruik beesmis in sy kunswerke.

“Ek probeer ’n ruimte skep wat ’n mens amper terugneem in tyd met die reuk, gevoel en tekstuur van beesmis,” sê hy.

“Beesmis het ’n groot rol in die huise van lank gelede gespeel.”

Hy put baie inspirasie uit sy ouma se stories oor sy oumagrootjie en die tyd waarin sy grootgeword het.

“Soms meng ek die beesmis met die verf of die akriel, en soms sit ek dit net op die skildery om tekstuur te verkry,” verduidelik hy.

Kaloki kry sy beesmis by Masai-lede wat van die platteland af deur Nairobi reis.

“Soms koop ek dit by die slagpale,” vertel hy. “Dit is makliker om met die vars, taai mis te werk.”

Hy sê hy het die suur reuk al gewoond geraak.

“Die grootste uitdaging is om dit te laat plak, want dit kan maklik afskil, so ek moet dit met gom meng, wat die tekstuur kan beïnvloed.”

Van Kaloki se werk word by die Investec Art Fair en die triënnale uitgestal.

Vals naels

Dit is eintlik duisende vals naels wat aanmekaarge
Dit is eintlik duisende vals naels wat aanmekaargeplak is om dié kunswerk te vorm.

Dit lyk soos ’n groot knoop slange wat inmekaargebondel is met kleurryke pa­trone. Maar as jy mooi kyk, sal jy sien dit is eintlik duisende vals naels wat aan- mekaargeplak is om dié kunswerk te vorm.

Frances Goodman (45), ’n kunstenaar van Johannesburg, gebruik items uit die skoonheidsbedryf – plastieknaels, vals oogwimpers, oorbelle en blinkers – om haar kunswerke te skep en kommentaar op dié bedryf en die vroulike liggaam te lewer.

Van Frances se werk word by die Investec Art Fair uitgestal.  

Foto's: Kelvin Haizel, Verskaf

Ekstra bronne: Investeccapetownartfair.com, stellenboschtriennale.com, goncalo-mabunda.comdesignboom.com, francesgoodman.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.