Julia Nuno
Julia Nuno Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

Dit het alles begin met 'n hibiskusblom op haar bors. En nou, 14 jaar nadat 'n Kaliforniese vrou haar eerste tatoe gekry het, is sy letterlik van kop tot tone daarmee oortrek. Maar steeds ken Julia Nuno (32) se obsessie met dié soort lyfkuns geen einde nie.

Nadat sy selfs haar hare afgeskeer het om plek te maak vir tatoes op haar kopvel, bly nog net haar gesig oor. Sy wil dit nou verder met geometriese blomme laat versier, al weet sy party mense, soos haar ma, reken sy voer haar passies vir tatoes te ver.

“Ek voel hoe meer tatoes ek kry, hoe meer irriteer dit my om ’n leë kol te sien," verduidelik Julia, ’n versorger. Die afgelope drie jaar het sy altesaam 234 uur in tatoe-salonne deurgebring. En sy het al meer as R400 365 daarop geblaas om elke deeltjie van haar vel, van haar voetsole tot die bopunt van haar kop, met ink te bedek.

KLEIN BEGIN 

“Dit het my ’n rukkie geneem; ek het tatoes begin kry die oomblik toe ek oud genoeg was,” vertel Julia. Sy was 18 met haar eerste besoek aan 'n tatoe-salon.


Julia Nuno
Julia wys graag haar tatoes. Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

"Ek het klein begin met ’n hibiskusblom op my borskas, maar dit het net aanhou groei. Ek het nie beplan om tatoes te versamel of my hele lyf te bedek nie, maar iewers langs die pad het ek besluit om voluit te gaan. Nou kan ek nie stop nie.” 


Julia het die afgelope drie jaar elke tweede week drie uur in tatoe-salonne deurgebring om haar versameling uit te brei. 

“Ek het ’n lang ruk vir myself en ander mense gesê ek sal nooit my hare afskeer om my kop te laat tatoeëer nie. Ek het gesê dis malligheid. Maar toe ek nie meer plek op my lyf oorhet nie, was dit vanselfsprekend die volgende deel. 

Julia Nuno
Julia het selfs tatoes op haar kop. Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

Die tatoe-slaaf het daarna 'n stappie verder gegaan en selfs haar geslagsdele vroeër vandeesmaand in Texas laat tatoeëer.

Ondanks haar familie se kommer dat sy dinge te ver voer, wil Julia voortgaan met haar planne vir 'n gesig vol geometriese blomme.

Maar waarom is 'n nuwe tatoe vir haar so onweerstaanbaar?

Sy erken dit gaan nie vir haar soseer oor die tatoes nie, maar eerder oor die sessies in die salon en die proses om hulle te laat aanbring. Sy vertel sy laat gewoonlik die keuse van die ontwerp aan die kunstenaar oor. 

“Ek het idee wat ek wil hê, maar is gewoonlik tevrede met wat hy kies." 

VREEMDE GESIG

Hoe reageer mense op die sonderlinge gesig van 'n vrou wat van kop tot tone beskilder is?

Terwyl party mense deur haar tatoes afgeskrik word, is ander in vervoering daaroor, vertel Julia. Vreemdelinge staan dikwels nader om aan haar vel te raak.

“Mense is gefassineerd en hulle staar my aan. Baie mense wil daaraan raak en dit kan nogal skrikwekkend wees as hulle dit doen sonder om eers te vra."

Julia is nog enkellopend, maar sy reken die magdom tatoes aan haar lyf maak "nie veel van ’n verskil " aan haar liefdeslewe nie.

"Party hou daarvan en hou dan nog meer van my oor my tatoes, en ander word afgeskrik," erken sy. "Maar dis wat ek wil doen en wat vir my gelukkig maak. Ek bekommer my dus nie veel oor wat ander mense dink nie."


Julia Nuno
Julia het ook tatoes onder haar voete. Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

“Die mense saam met wie ek werk, aanvaar dit, maar ek dink van my familielede het ’n probleem met hoeveel tatoes ek het. 

“Hulle was nie verbaas toe ek my hare afgeskeer het om my kop te laat tatoeëer nie, maar my ma hou nie van gesigtatoes nie. Ek weet sy sal nie daarvan hou as ek dit laat doen nie, maar ek voel ek moet."

Moenie dink dit sal die einde van haar gereelde besoeke aan tatoe-salonne wees wanneer sy geen kaal kolletjie meer op haar vel oor het nie.

Julia Nuno
Julia wys die tatoes onder haar arm. Foto: Mercury Press & Media/Magazinefeatures.co.za

 “Wanneer ek klaar is, gaan ek my hele versameling bekyk en die kleure en bestaande lyne laat vernuwe," vertel Julia oor haar toekomsplanne.. "Die sessies is werklik spesiaal vir my, die kuns is mooi maar dis die sessies waaraan ek verslaaf is," erken sy.