Kinders van alle ouderdomme is versot op die Flintstones, daardie ikoniese strokiesprentgesin uit die Steentydperk. 

En wie sal nou nie daarvan hou om in hul huis van klip en rots te woon of in hul motor met sy klipwiele rond te rammel nie?

Vra maar vir Florence Fang. 

In haar 80’s het sy haar kleintyddroom bewaarheid deur haar eie Flintstonewêreld te skep: daardie bolagtige woonvertrekke in vrolike oranje en pers met ruwe vensters, kollesampioene wat so groot is soos bome, en langnek­dinosourusse op die grasperk. 

Klink prettig, of hoe? Haar skat­ryk bure op die dorp Hillsborough, Kalifornië, dink egter nie so nie. 

Hulle meen dis ’n oogseer wat hul spogbuurt met sy peperduur herehuise ontsier. En hulle probeer die “yabba dabba doo” uit haar lewe haal. 

In hofdokumente voer die inwoners aan haar moderne grotwoning het vir die publiek ’n ergernis geword en dat ­opknappings aangebring is sonder die nodige bou­permitte. 

“Ek hou nie van die manier waarop sy die agterplaas uitgelê het nie,” het een buurman aan The Guardian gesê. 

“Jy weet, dis Hillsborough hierdie, nie ’n pretpark nie. Jy moet by die omgewing inpas.”

fred flintstone
’n Standbeeld van Fred Flint­stone versier Florence se kleurryke tuin. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Florence, ’n voormalige koerant­uitgewer en sakevrou, het in 2017 die reeds koddige huis gekoop. 

En kort voor lank het reusagtige metaaldinosourusse, veelkleurige sampioene en Flintstone­karakters rondom dit verrys. 

Sy is hoogs verontwaardig oor die gebrek aan verbeelding van haar bure. Sy en haar kleinseun Sean is vasbeslote om tot die bitter einde vir hul Steentydperk­leefwêreld te veg.

 “Ek dink die dinosourusse is pragtig,” het Sean in ’n verklaring gesê. “Hulle laat almal glimlag; hulle moet bly.”

Die huis self is in 1976 deur die argitek William Nicholson gebou, maar dis on­seker of hy doelbewus die Flint­stonewoning wou herskep en of dit net ’n eksentrieke ontwerp was.

Die koepels was oorspronklik naaswit geverf, maar in 2007 het ’n eienaar voor Florence dit oranje laat verf wat dit daardie Bedrockvoorkoms begin gee het. 

Toe kom Florence en sy verf die koepelgedeelte pers – dieselfde pers as die Flintstones se troeteldier, Dino.

Die huis val nie in almal se smaak nie. Voor Florence dit vir R39,8 miljoen gekoop het, was dit twee jaar lank in die mark.

En hoewel dit altyd boheems was, was Florence se bykomstighede een te veel vir die Hillsborough-haaipolfaais. 

florence,flintstone,huis
Florence se kombuis bevat pasgemaakte en delikate glas- en hout­afwerkings. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Mark Hudak, ’n prokureur, vertel ontwikkeling op die dorp word gedoen met inagneming van alle inwoners se insette oor byvoorbeeld tuinuitleg.

“Die proses het altyd baie goed vir die dorp en sy inwoners gewerk,” voeg hy by. “Dis nie regverdig wanneer iemand die proses omseil en sonder permitte bou nie.” 

In 2017 is ’n boupermit vir ’n lae muur voor haar huis aan Florence toegestaan, maar haar opknappings oorskry dit ver; die verbeterings het ingesluit bouwerk in die agterplaas, suile, hekke, ’n parkeerarea en ’n dek.

Die plaaslike bouowerheid het die afgelope twee jaar al drie bevele aan Florence uitgereik om bouwerk te staak. 

Sy het toe ’n aansoek ingedien vir ’n permit vir die reeds voltooide bouwerk, maar die owerheid het dit verwerp. 

flintstone,huis,badkamer
Een van die badkamers in die huis bevat ’n stort wat van klip gemaak is en so ontwerp is om ’n grot na te boots. Foto: Flintstonehouse280.com

Verlede jaar het sy verskyn voor ’n ondersoekpaneel, wat bevind het haar eien­dom oortree die dorp se regulasies. Haar bouwerk is “steurend” en sy “dwing haar visie op die mense om haar af”. 

Florence is met R2 900 beboet en gelas om die verbeterings te verwyder. Sy het die boete betaal, maar weier steeds om haar strokieswêreld te groet. 

Nou vra die mense van Hillsborough die hof om haar eiendom tot ’n “openbare ergernis” te verklaar. Maar Florence se prokureur, Angela Alioto, meen sy is binne haar regte om op haar eiendom te doen wat sy wil. 

“Dis onverdraagsaamheid en elitistiese gedrag deur die dorp Hillsborough,” sê sy. “Dis ongrondwetlik en ons sal terugveg. Die Flinstonehuis en -tuin besorg Florence en baie verby­gangers groot vreugde.”

huis,flintstone,oranje
Die huis is in skakerings van oranje versier om by die Flint­stones-tema te pas. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Florence se eie Bedrock het selfs ’n toeriste-aan­treklikheid geword, veral in die sosiale media. Instagramgebruikers deel gereeld kiekies waar hulle poseer voor die eiendom, wat van die hoofweg sigbaar is. 

“Is jy ’n ware Kaliforniër as jy nog nie by die Flintstone­huis was nie?” vra een gebruiker.

Nog een meen die eien­dom is pure vreugde: “Hoop dit kan bly! Hoekom maak die bure beswaar?”

Maar ander verstaan hoekom Florence se visie mense die harnas injaag.“Raak ontslae van die monsters in die voortuin,” laat een hoor.

“Dit doen afbreek aan die oorspronklike tema van die huis. Dit moet eenvoudig weg!”

Wat sou die arme Fred, Wilma en hul spruit oor dit als sê?

Bronne: flintstonehouse280.com, theguardian.com, smdailyjournal.com, nypost.com