’n Video waarin ’n gesin buite hul huis in Pretoria-Noord effens handgemeen raak, het soos ’n kommin veldbrand aanlyn versprei.

Dit is veral die verontwaardigde videograaf wie se krete van “Hugo, bel die polisie!” die land laat lag het.

“Ek kon nie glo dat mense mekaar so kan slaan en baklei nie, was my eerste reaksie toe ek die video sien,” sê Jak de Priester en lag.

Jak het summier ’n liedjie uitgereik waar hy dié bisarre situasie probeer kleinkry – die krete van “Hugo, bel die polisie!” is plek-plek duidelik hoorbaar.

Hy was besig om voor sy klavier aan sy Aardklop-produksie, Jak de Priester: Op ’n ander planeet, te oefen toe ’n vriend van Australië die video vir hom aanstuur.

“Hoewel ek lekker gelag het oor die situasie wat voor my uitspeel, was dit nog steeds erg om te dink dat mense so kan reageer,” voeg hy by.

Ná die derde keer wat hy die video gekyk het, het Jak besluit om ’n liedjie daaroor te skryf.

“Ek dink die liedjie is nodig, want mense moet besef dat jy nie so kan aangaan en mekaar slaan in die publiek nie. Mense en kunstenaars gaan dit blootstel,” sê hy meer ernstig.

“Daar was altyd klagtes van die bure dat hulle rumoerig raak en hulle steur; ek het dit eers ervaar toe die buurvrou vir my die video gewys het,” het ’n anonieme bron, wat toe op dieselfde perseel haar onderneming bedryf het, vroeër aan Huisgenoot gesê.

Sy het ook gesê dat die voorval glo in Desember 2018 al voor die huis in Pretoria-Noord plaasgevind het.

Jak werk tans aan ’n nuwe album en kon dus vinnig voor die mikrofoon inskuif om die liedjie by Christiaan Rabie by Freshcut Studios op te neem.

“Ons land het baie swaar onderwerpe, so dit was ook lekker om iets ligs en snaaks te maak,” sê Jak.

Hy beklemtoon wel: “Mense moet besef dat hulle moet kyk hoe hulle hulself in die publiek gedra!”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.