"My f**, Marelize!"

Dís die Afrikaanse sêding van die dag.

Die identiteit van dié Marelize wat in die video in die paal vasry, is nog nie bekend nie, maar Huisgenoot het met twee van haar naamgenote gesels wie se vriende nou met hulle oral die gek skeer.

Die Huisgenoot-joernalis en kranige fietsryer Marelize Potgieter is tans besig met intense voorbereiding vir die opkomende Kaapstad-fietstoer (voorheen die Argus) en sê die video van Marelize wat met ’n fiets teen ’n doelpaal vasry, is al ’n hele paar keer aan haar gestuur.

View this post on Instagram

Ready to roll! #capetowncycletour

A post shared by Marelize Potgieter (@blommelief) on


“Ek dink dit is baie snaaks, en kan nie help om te lag nie. Ek het ’n vermoede dit gaan nog ’n rukkie by my spook,” sê sy.

Marilize du Plessis (22), wat verlede jaar haar honneursgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, het ook die video op Facebook gedeel nadat ’n vriendin dit aan haar gestuur het en sy vir die hoeveelste keer in die video bygehaak is. 

“Ek het eers grappies gemaak dat dit ’n harde hou was, want ek onthou dit nie eens nie, maar nou lyk dit my die hele 2019 bestaan uit 'My f*k Marelize',” vertel sy aan Huisgenoot.

“Ek dink ook dit sal nog vir ’n rukkie gewild wees en dan sal iets anders weer oorneem, maar my vriende sal seker maak dit is deel van my daaglikse bestaan. Aan al my mede-Marelize'e – sterkte!” voeg sy by. 

Die video van Marelize is die eerste keer deur Coenie W. Kukkuk op Facebook gedeel.

“Ek het die ding nou al seker 40 keer gekyk en ek lag heeltemal te hard elke keer,” het Johan Cornel Cronjé laat hoor.

Die komediant, akteur en skrywer Melt Sieberhagen het ’n “remix” daarvan gemaak deur Queen se Bicycle Race (I Want to Ride My Bicycle) as agtergrondmusiek te gebruik.

Al vind mense op sosiale media dit skreeusnaaks het Melt op Facebook geskryf: “Ek het wel klagtes ontvang dat dit nie dieselfde is sonder die rooi toonnaels en sandale nie. Baie legitimate kritiek.”

As jy dalk Marelize is en onlangs op 'n fiets met 'n rugbypaal kennis gemaak het, wel, my f**, laat van jou hoor op ons sosiale media: