Trekkers, perdekarre, ouboet se opgewarmde wiele, helikopters en natuurlik ’n vloot vuurwaens is deesdae aan die orde van die dag. Solank dit ’n vonkel in die oog of ’n uitroep van verbasing uitlok, is die vervoermiddel net so ’n groot, indien nie groter nie, sukses as wat die uitrustings is.

In Huisgenoot se argiewe is daar veral twee gevalle waar die aankoms by die matriekafskeid nie ongemerk verbygegaan het nie.

In 2001 het Bianca de Klerk van Hoërskool Tuine gesorg vir ’n eerste in Pretoria toe sy by haar matriekafskeid op die rug van ’n olifant opgedaag het (Huisgenoot 11 Oktober 2001). Ja, ’n olifant genaamd Bandala wat aan die destydse Brian’s Circus behoort het.

Bianca en Bandala daag op by haar matriekafskeid.
Bianca en Bandala daag op by haar matriekafskeid. Foto: Argief (Beeld)

Dit was dalk nie die elegantste aankoms nie, want Bianca se skepping vir die aand en Bandala se breë rug was nie pasmaats nie. Maar dit het nie vir Bianca gekeer nie – die rok is opgeskuif en siedaar!   

Alhoewel dit nie ’n eerste was nie, het Danell Mienie behoorlik die oë laat rek toe sy in 2010 by haar matriekafskeid opgedaag het (Huisgenoot 14 Oktober 2010).

Dit was inderdaad ’n vreemde gesig by die Hoërskool Hartbeespoortdam toe vier manne baie versigtig ’n kis uit ’n gitswart lykswa tel.

Danell Mienie se vreemde aankoms het die tonge laa
Danell Mienie se vreemde aankoms het die tonge laat klap. Foto: Fani Mahuntsi

Van die omstanders wou nuuskierig weet of daar iemand binne is. Maar natuurlik – want Danell het al twee jaar vantevore vir ma Wendy van haar plan vertel en dit was haar wens wat waar geword het.

Boonop was dit nie sommer net ’n kis “van die rak” af nie. Haar oupa Japie, ’n begrafnisondernemer, het die kis vir haar gemaak.

“Dis nie almal wat twee kanse kry om in ’n kis te lê nie,” het sy destyds geskerts.

En elders?

En hoe word matriekafskeid in die buiteland aangepak?

Wel, met dieselfde oorgawe as @glowprincess van Gaboen wat saam met haar metgesel in Wakandla-styl (uit die fliek Black Panther) by die dans opgedaag het.

Ja, leerders se laaste jaar op skool word wêreldwyd met groot fanfare gevier. Hier is nog ’n paar interessante vervoermiddels waarvan sommige net droom . . . en waarmee ander sowaar aangekom het.









View this post on Instagram

#prom #ride #T-bucket #promrides #classic

A post shared by Jonathan Purselley (@jonathanpurselley) on

Deel jou foto's met ons

As jy in 2019 in matriek is en jou matriekafskeid vanjaar vier, stuur jou matriekafskeidfoto’s na matriekafskeid@huisgenoot.com.
Alle matrikulante van 2019 en hul ouers kan foto’s stuur. Huisgenoot wil ’n keur van die foto’s op Local is Lekker in die tydskrif plaas.

  • Die sluitingsdatum om jou foto’s in te stuur is 5 November 2019.
  • Onthou om die volgende inligting in jou e-pos in te sluit: Jou naam en van, jou metgesel se naam en van en jou skool se naam. 

Deur foto’s in te stuur, gee jy vir Huisgenoot en Huisgenoot.com toestemming om die foto’s te publiseer.