Baie jare lank was dit ’n wonderlike, eksentrieke pretparadys vir kinders van alle ouderdomme. En g’n wonder nie . . .

Van die woonvertrek se plafon het ’n enorme Dumbo die olifant gehang. Pienk-en-grys met groot flapore, kompleet asof hy in ’n toneel uit die bekende rolprent rondvlieg.

Wanneer besoekers wou TV kyk of videospeletjies speel, het die Doom Buggy, van The Haunted House-faam, as rusbank gedien.

En wanneer jy in die swembad gaan afkoel het, was dit onder die vreesaanjaende blik van die reuseseeslang uit die klassieke Submarine Voyage-pretrit wat in 1959 geopen het.

Dié Disneyversamelstukke was maar ’n paar van die trekpleisters waarmee Richard Kraft sy huis in Encino, Kalifornië, in ’n temaparkmuseum omskep het.

So betowerend was sy versameling dat sy huis bekend geword het as Kraftland, of “The Happiest Place in Encino” na aanleiding van Disneyland se slagspreuk – “The Happiest Place on Earth”.

Richard, een van die invloedrykste agente vir rolprent- en Broadway-komponiste, het sy versameling 20 jaar lank ywerig opgebou. Maar toe besluit hy: Dis nou genoeg. Sy seun, Nicholas, was nou al te groot om die versameling te geniet.

’n Beeldjie van ’n Disneymeermin. Foto: Realtime Images

Die tyd het aangebreek om Dumbo en kie te groet. Die versameling is eers na ’n enorme pakhuis verskuif, waar dit vyf jaar lank geberg is voor dit onlangs opgeveil is.

Die veiling was ’n dawerende sukses. Sy “temapark” het vir Richard ’n verstommende wins gelykstaande aan R120 miljoen besorg. Maar hy het elke sent aan twee liefdadigheidsorganisasies geskenk: die Coffin-Siris-sindroomstigting en die Chime-instituut.

Albei help kinders met spesiale behoeftes. Dis ’n saak wat Richard na aan die hart lê. Sy vierjarige dogter, Daisy, het Coffin-Siris-sindroom.

Dis ’n genetiese toestand wat ontwikkelingsvertragings en liggaamlike misvormings veroorsaak, soos onderontwikkelde pinkies en tone en gesigsafwykings. Maar moenie dink Daisy sal Dumbo-hulle te veel mis nie . . .

Sy is deesdae mal oor die Minions; daarom versier pa Richard nou sy huis met speelgoed, speletjies en plakkate gegrond op dié skattige geel animasiekarakters uit die Despicable Me-flieks.

In twee dekades het Richard talle tydlose stukke ver­samel, soos ’n roomyswaentjie wat in Disneyland diens gedoen het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nee, hy is nie spyt dat hy Dumbo-hulle groet nie, vertel Richard. Hy het immers die raad van ’n gewilde Disneykarakter gevolg, verklap hy.

“Ek het my tot die wysheid van een van ons era se grootste filosowe gewend: Elsa van die rolprent Frozen wat eens opgemerk het: Let it go! ”

Dit sal niemand verbaas om te hoor Richard se liefde vir die fantasiewêreld van Disney het al kleintyd begin nie. Sy ouerhuis was sowat drie uur se ry van Disneyland in Kalifornië.

Sy ma en pa, albei onderwysers, het hom en sy broer, David, jaarliks na “Die Gelukkigste Plek op Aarde” geneem. “My ouers het heeljaar vir die reis gespaar,” sê hy.

Maar geld was nie al wat nodig was nie. David het Crohn se siekte gehad, ’n chroniese ingewandsiekte wat die spysverteringskanaal aantas. Wanneer hulle in Disneyland was, het dit beteken David was gesond genoeg om te kon reis.

“(Die besoek aan) Disneyland was elke jaar die beste dag van my lewe, want alles het reg uitgewerk,” vertel Richard.

“En my gesin was gesond en heel.” David het later ’n bekroonde TV-nuusregisseur geword, maar is in 1993 op die ouderdom van 35 oorlede. Sy dood het Richard aangespoor om terug te keer na die plek waar hulle as kinders soveel gelukkige oomblikke gehad het.

“Ek is terug na Disneyland om die reuke te ruik, die smake te proe, die klanke te hoor,” sê hy.

’n Week ná sy besoek het Richard ’n veiling van Disneyland-items bygewoon waar hy sy eerste stuk gekoop het: die oorspronklike, handgedrukte plakkaat uit 1956 wat Autopia, ’n renmotorpretrit, bemark.

“Toe ek eers een plakkaat besit, moes ek elke plakkaat hê,” sê hy. Kort voor lank het plakkate van die park se “temalande” – Fantasyland en Frontierland – gevolg. So het Richard se versameling begin.

Die man wat met van die grootste name in die rolprentmusiekbedryf saamgewerk het, sê min goed het hom soveel bevrediging gegee as om sy temaparkversameling op te bou.

“Die Betty Ford-sentrum is vir ander soorte verslawings, maar met dié een is ek op my eie,” spot Richard.

Van sy ander versamelstukke was ’n veselglasduiwel uit Mr. Toad’s Wild Ride; ’n groot neon “D” wat van 1963 tot 1999 op die Disneylandhotel vertoon is; en ’n rubberdeur uit die Haunted Mansion wat uit die 1970’s dateer.

’nOorrel wat in die Swiss Family Robinson-boomhuis gestaan het. Foto: Realtime Images

Maar dit was Dumbo, wat eens met sy logge lyf van 317 kg van Richard se plafon gehang het, wat vir hom die kosbaarste was. Hy het dit op ’n veiling in Florida onder wyle Michael Jackson se neus weggeraap vir wat toe R200 000 was.

Ironies genoeg het sy geliefde Dumbo ’n rol gespeel in Richard se besluit om die hele Disneyversameling te verkoop. Dit het alles begin met die besef dat sy seun, Nicholas, die Enchanted Tiki-tema ontgroei het wat Richard kleintyd in sy slaapkamer vir hom gebou het.

Toe besluit Richard om sommer al die enorme versamelstukke uit die huis te kry. Met Nicholas (toe 23) se hulp is Dumbo en kie in 2013 na ’n bergeenheid verskuif, waar die strokiesolifant vyf jaar deurgebring het.

Dekor, plakkate en kunstenaarsvoorstellings uit die era voor 1955 is op die twee dae lange veiling verkoop. Eindelik het Richard meer as R120 miljoen vir liefdadigheid geskenk. Foto: Realtime Images
Foto: Realtime Images

Maar in Julie vanjaar het Richard besluit Dumbo is te kosbaar om vir ewig geberg te word. Hy verdien ’n nuwe, liefdevolle huis. Dis toe dat hy en Nicholas Dumbo en sowat 800 ander versamelstukke uitgestal en opgeveil het ten bate van liefdadigheid.

Dumbo is vir R6 miljoen verkoop, ’n poeierblou Skyway-kabelkarretjie vir R8 miljoen en ’n Pirates of the Caribbean-ingangsteken vir R3 miljoen. Die neon “D” van die Disneylandhotel het R1 miljoen gehaal.

Die verkoping het kort voor sesuur die aand geëindig en ’n aangedane Richard het die veiling se verstommende opbrengs op die verhoog aangekondig.

En toe is dit terug huis toe na Daisy – en die huis wat nou tot “DaisyWorld” hernoem is. Maar al verkies sy dogter die onnutsige Minions, sal haar pa haar steeds gereeld Disneyland toe neem.

Soos hy sê, dit is in sy gene. “Dis my gelukkige plek.”

Bronne: KTNV.com, Guinessworldrecords.com, OCRegister.com,DailyNews.com, LATimes.com, AZCentral.com, SYFY.com