Nadat sy drie maande gelede ’n hou teen die kop gekry het, “herstel” Riley Horner, van die Amerikaanse deelstaat Illinois, se geheue elke twee uur na 11 Junie – die dag waarop sy die ongeluk beleef het.

Tydens ’n onderhoud met WQAD het die meisie en haar ma, Sarah, vertel sy dink elke oggend wanneer sy wakker word dit is 11 Junie en sy kan niks onthou wat voor of ná daardie dag gebeur het nie.  

“Ek het ’n almanak teen my deur en ek kyk en dis September en ek dink: ‘Sjoe’,” sê Riley.

Die tiener is per ongeluk teen die kop geskop deur ’n leerling wat tydens ’n dans op die skare “gebranderry” het.

Harsingskudding is tydens ’n hospitaalbesoek ná die voorval by haar gediagnoseer. Die meisie se ma vertel sy het sedertdien talle toevalle gehad en moes verskeie keer hospitaal toe gaan.

Dokters het niks fout gevind nie en haar simptome is steeds ’n mediese raaisel.  “Hulle sê vir ons daar’s niks medies verkeerd nie. Hulle kan niks sien nie,” sê die besorgde ma. 

“Jy kan nie harsingskudding op ’n MRB of CT-skandering sien nie. Daar’s geen breinbloeding nie; daar’s geen gewas nie.”

In ’n poging om tred te hou met daaglikse take soos skool toe gaan en dag-tot-dag-aktiwiteite wat uit haar geheue gevee is, los Riley vir haarself gedetailleerde briefies en stel vir elke twee uur ’n wekker sodat sy vinnig kan oplees oor alles wat sy vergeet het. 

“Ek lê nie herinneringe vas nie,” sê Riley. “En ek is net baie bang.”

Bronne: People, WQAD, ABC News