En jy sou so iets nie hier verwag nie – hoë betonmure in een van die mees afgeleë dele van die wêreld waar rendiere wei en daar meer ysbere as mense is.

Die ingang na die sadekluis. Foto: Wikipedia
Die ingang na die sadekluis. Foto: Wikipedia

Maar agter die indrukwekkende deure van dié gebou op Spitsbergen, ’n eiland in die Arktiese Oseaan, skuil niks onheilspellends nie. Trouens, dit bewaar die saadjies van hoop vir die mensdom.

Miljoene sade word in die Svalbard-sadekluis se ysige tonnels geberg: sade van uie uit Brasilië, aartappels uit Ierland, verskillende rissievariëteite uit die Verenigde State van Amerika en selfs blomkruid uit ’n weiveld op prins Charles se landgoed op die Engelse platteland.

Dié gebou, wat die “oordeelsdagkluis” of die “Noag se Ark van sade” genoem word, is ’n soort versekeringspolis dat ons nie sonder kos gelaat sal word as ’n wêreldwye ramp ons tref nie.

Of dit nou ’n kernkatastrofe of yslike omgewingsramp is – die idee is dat oorlewendes by dié saadbank sal kan kry wat hulle benodig om weer oor te begin en opnuut kos te kweek. Die sadekluis se deure bly vir die grootste deel van die jaar styf toe, maar dis onlangs oopgemaak om 60 000 nuwe monsters van oor die wêreld in te neem.

Dis die grootste deposito wat nog hier gebêre is – en het verseker dat die versameling nou oor ’n miljoen sade en monsters van elke land op aarde het.

Die saadjies word in spesiaal ontwerpte pakkies ve
Die saadjies word in spesiaal ontwerpte pakkies verseël en in die kluis teen -18 °C ­geberg. Foto: Svalbard Global Seed Vault

“Dis besonder goeie tydsberekening vir die deposito,” sê Erna Solberg, die premier van Noorweë, wat die seremonie bygewoon het.

Die doemprofete wat glo klimaatsverandering en aardverwarming gaan die mensdom nog erg pootjie, meen dis dalk net ’n kwessie van tyd voor mense na die kluis reis – nie om sade te kom bêre nie, maar om dit te kom uithaal.

Hoekom dit bestaan

Die sadekluis is in 2008 in die afgeleë Svalbard-eilandgroep, halfpad tussen Noorweë en die Noordpool, gebou.

View this post on Instagram

View from the Svalbard Global Seed Vault

A post shared by Svalbard Global Seed Vault (@svalbard_global_seed_vault) on

Die doel is om te verseker daar is betroubare voorraad van die sade van plante waarop mense vir kos staatmaak. Die doel van die kluis is nie om die sade van bedreigde plante te bêre nie.

Inteendeel, dit beskerm eerder die genetiese materiaal van voedsel wat ons elke dag eet sowel as die wilde variëteite van die plante. Dit bestaan om saadmonsters van die wêreld se gewasse te berg.

Dit beteken wetenskaplikes kan ook eksperimenteer en nuwe plantvariëteite skep, veilig in die wete dat daar ’n rugsteunvoorraad van die oorspronklike is. Lande het ook toegang tot sade van hul inheemse plantspesies in die geval van ’n natuurlike of mensgemaakte ramp.

Hoe dit ons kan red

Die kluis is ontwerp om uiterste weerstoestande, oorlog, brand en selfs kernmissiele te weerstaan.

En die verafgeleë Spitsbergen is as die ligging gekies omdat die ysgrond sou verseker die sade bly bevrore, selfs as ’n kragonderbreking dalk die afkoelingstelsel versteur. In 2016 het swaar reën en gesmelte ysgrond daartoe gelei dat die ingangstonnel oorstroom het.

Die saadjies word in spesiaal ontwerpte pakkies ve
Die saadjies word in spesiaal ontwerpte pakkies verseël en in die kluis teen -18 °C ­geberg. Foto: Svalbard Global Seed Vault

Die kluis self is nie beskadig nie, maar wetenskaplikes glo die voorval was byna sekerlik te wyte aan klimaatsverandering aangesien rekordtemperature daardie jaar in die Noordpoolstreek aangeteken is.

Dit het vrae laat ontstaan oor die duursaamheid van ’n saadbank wat veronderstel was om sonder menslike ingryping te werk. Maar ná ’n opgradering van sowat R340 miljoen om dit weerbestand te maak het Noorweë skenkers verseker hul sade is veilig. 

Wie bestuur dit?

Die Noorweegse regering het sowat R68 miljoen opgedok om die Svalbard- sadekluis te bou. Dit is in 2008 voltooi. Dit word ingevolge ’n drieparty-ooreenkoms bestuur – tussen Noorweë, die Global Crop Diversity Trust wat in Duitsland gebaseer is en NordGen (die Nordiese genetiesehulpbronnesentrum), waarvan die hoofkwartier in Swede is.

Daar is talle ander saadkluise wêreldwyd, maar dié een is verreweg die grootste. Dit maak op skenkings van ander saadbanke staat om te verseker dit het ’n eksemplaar van plante wat belangrik vir elke streek is.

Die Svalbardkluis is soortgelyk aan ’n kluis in ’n bank. Die bank besit die gebou, maar die deponeerder besit die inhoud van hul boks – die sade bly dus die eiendom van die land wat dit gegee het.

Omdat die saadkluis op so ’n afgeleë plek is, is daar geen permanente personeel wat daar woon nie; die deure word net vir ’n paar dae per jaar oopgemaak om skenkings te ontvang.

Hoe word die sade bewaar?

Die sade word in spesiaal ontwerpte vierlaagfoeliepakkies verseël. Dié pakkies word in verseëlde bokse geplaas en op rakke binne-in die kluis gebêre.

Die Svalbard-saadkluis berg miljoene plantsaadjies
Die Svalbard-saadkluis berg miljoene plantsaadjies. Foto: Gallo Images/AFP

Dis so koud in die kluis – onder vriespunt – dat metaboliese aktiwiteit laag bly. Dit beteken sade sal nie begin ontkiem nie en kan dus eeue of selfs duisende jare lank gebêre word.

Watter soort sade word gebêre?

Hoewel die kluis soms sade aanvaar van plante wat net vir versiering is, word voorkeur gegee aan gewasse wat belangrik is vir kosvervaardiging en volhoubare landbou. Noorweegse wette verbied dat geneties aangepaste sade ingevoer of op Svalbard geberg word.

Is enige sade al ooit onttrek?

Ja. In 2015 het die voortslepende burgeroorlog in Sirië navorsers gedwing om ’n paar sade uit Svalbard te onttrek om dié te vervang wat in ’n geenbank in Aleppo gebêre was.

Die geenbank het weens die oorlog onbereikbaar geword. Die Aleppo-sade is in 11 saadbanke oor die wêreld gehou, maar dit was die goedkoopste om dit uit Svalbard te onttrek. Siriese wetenskaplikes het ’n nuwe bank op ’n veiliger plek opgerig.

“Die sade is verbasend genoeg in ’n uitstekende toestand,” sê Ahmed Amri, hoof van genetiese hulpbronne aan Sirië se internasionale sentrum vir landbounavorsing in die droë gebiede.

Ahmed sê die noodskenking bewys dat die Svalbard-sadekluis nie net prakties is nie, maar ook uiters belangrik vir langtermynbewaring.

Die syfers

10 000 vierkante meter – die grootte van die kluis. Dit bestaan uit drie sale.

-18 °C – Die temperatuur binne-in die kluis.

120 meter – Die diepte onder die aarde waar die sade in ysige tonnels gebêre word.

2 miljard – Die getal sade wat gebêre kan word.

4, 5 miljoen – Die getal gewasvariëteite wat dit kan berg.

140 000 – Die getal soorte koringvariëteite wat gebêre kan word, tesame met 150 00 rys- en 70 000 garsmonsters.

BRONNE: THEVERGE.COM, SEEDVAULT.NO, CROPTRUST.ORG, NATIONALGEOGRAPHIC.COM, NEWSCIENTIST.COM

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.