Volgens Alex Stein is haar 90-jarige oupa, wat op Instagram net as Bobby bekend is, gek oor jogurt, berig Daily Mail.

“As ek sê hy hou van jogurt (bedoel ek) hy leef vir jogurt,” het Alex aan Mail Online gesê.

“My ma koop minstens sewe kwarte (amper sewe liter) vanielje-Danon-jogurt ’n week,” het die bewoner van New York bygevoeg.

Stein het die foto van haar oupa met mengroen lippe en ‘n foto van die halfleë verfblik gedeel en daarby geskryf: “Sooo, my oupa het vandag ’n halwe kwart verf gedrink omdat hy gedink het dit was jogurt.” 

Die plasing het meer as 486 000 likes on Twitter gekry.

Stein het later ’n skermgreep van ’n videogesprek tussen haar en haar oupa geplaas met die byskrif: “Nuus: sy maag is doodkalm,” berig The Sun.

Die kommentaarseksie was vol voorstelle oor watter geur die 90-jarige gedink het hy eet, met sjokoladeskilfer en pistachio wat die meeste genoem is.

Volgens Metro UK is Bobby van sy nuutgevonde roem bewus en gee hy sy weergawe van die gebeure op ’n Instagramblad wat opgestel is nadat sy foto soos ’n veldbrand versprei het.

“Blykbaar het ek vanoggend verf geëet . . . die goed s**t smaak eerlikwaar beter as jogurt, dus #geen #spyt (gifbeheer het vir my gelag, maar hulle het gesê ek sal piekfyn wees),” skryf die oupa.

Sy Instagram-bio beskryf hom as “90 jaar jonk . . . enkellopend en reg vir kuier.

“Paul McCartney-dubbelganger. Stokperdjies sluit in praat oor Tom Brady, hemploos dans en gemorse maak!”

Bronne: Daily Mail, The Sun, Metro UK