’n Bekommerde pa het onlangs op Reddit vertel hoe sy dogter sukkel om ’n lewensmaat te ontmoet.

“My dogter is baie oorgewig en weeg sowat 90 kg. Sy praat altyd van hoe graag sy ’n kêrel wil hê; sy het nog nooit een gehad nie,” skryf die 52-jarige pa.

“Sy sê dis onregverdig dat al haar vriende kêrels het en aandag by ouens kry, en hoe dit ouens is wat haar nooit ’n kans gee nie.

“Sy’t al vantevore so te kere gegaan waar sy maak asof dit onverstaanbaar is dat sy nie dieselfde aandag kry nie.”

Die bekommerde pa het toe besluit om vir sy dogter – wie se naam nie bekend is nie – raad te gee.

“Ek het vir haar op ’n mooi manier gesê dit kan help om gewig te probeer afskud. En dat sommige mense ongelukkig oppervlakkig is, en dit iets kan wees wat kan help om mans se aandag te lok, en om haar meer selfversekerd en ook gesonder te laat voel,” skryf hy.

Sy raad het egter nie goed afgegaan by sy dogter nie. “Sy het op my geskree dat ‘alle mans dieselfde is, selfs my f***en pa’, en uitgestorm,” sê hy. Die pa hou vol hy het haar net probeer help.

“Ek wou haar werklik net help. Ek het geweet dis ’n teer saak, maar ek het goed bedoel,” skryf hy.

“Sy het geen genetiese vatbaarheid vir oorgewig wees nie (niemand in die familie is nie). Sy het geen siekte waarvan ek bewus is nie, maar sy eet nogal baie en oefen nie veel nie.

“Ek het haar probeer aanmoedig om saam met my te hardloop, en vir haar gesonde kosopsies gegee, maar ek het nog nooit uitsluitlik met haar oor haar gewig gepraat voor dit nie,” sê die desperate pa.

Sy inskrywing het heelwat debat in die kommentaar ontlok en talle het na die pa gekap.

“Dit klink of sy wil hê iemand moet haar aanvaar soos sy is, en weet jy, daar is talle oorgewig meisies met kêrels en mans,” het een laat hoor.

“Om haar te laat sleg voel oor haarself en te impliseer sy moet maer wees om liefde te verdien, help haar beslis nie. Los die geskimp, los die kommentaar. Dit lyk of haar gewig jou pla, en sy weet dit,” het nog een gesê.

Bronne: Reddit, Fox News, The Sun