Hou jy van smaaklike en sappige spek? Die Farmer Boys-restaurant in Amerika het dan die regte werk vir jou. 

Dié restaurant met burgers van pryswennergehalte het begin Augustus aangekondig dat hulle ’n spek-intern soek. 

Die posbeskrywing: Om een volle dag hul spekgeregte te beproef. Die gelukkige spekliefhebber moet die gewilde Bacon Boy-kaasburger, Farmer burger en Farmer-koolslaai eet en elke stukkie spek vir dikte en smaak evalueer. Baie mense sal dit sekerlik om spek en bone doen, maar die intern sal R15 000 vir die dag se lekker eet betaal word en kan dié stewige bedrag “in sy of haar spaarvarkie” bêre.

“By Farmer Boys glo ons in die terugvoer van ons kliënte en ons luister na hul behoeftes. Ons het dus gedink om iemand as ’n spek-intern te huur,” sê Larry Rusinko, die adjunkpresident van dié kettingrestaurant in ’n verklaring. "Die spek-intern sal ook die nuwe opwindende items wat ons beplan, beproef," sê Larry. 

Aansoeke vir dié hemelse internskap in Kalifornië sluit 20 Augustus, lui die restaurant se webtuiste.

Die spek-intern sal op 27 Augustus op die restaurant se Instagram-blad bekendgemaak word.