Weens ’n tekort aan sorgwerkers gebruik Japan blikbreine om na hul ­verouderende bevolking om te sien. Is dit ‘menslik’ genoeg vir die bejaardes?

'n Luidspreker blêr straataf in die provinsie Aichi in Sentraal-­Japan om te vra of iemand ’n 85-jarige vrou in ’n helderpienk hemp gesien het.

“As jy haar sien, meld dit asseblief by die polisiekantoor aan,” blaf die blikkerige stem.

Japan se openbare waarskuwingstelsel, wat oorspronklik ingestel is om oor tifone en aard­bewings te maan, word nou in­gespan om na die 15 000 bejaardes met demensie te soek wat jaarliks vermis raak.

Die land het nou die hoogste persentasie bejaardes – meer as ’n kwart van die bevolking is ouer as 65. Daarteenoor val net 3,2 miljoen Suid-Afrikaners in dié ouderdomsgroep, wat volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika slegs 5,6 persent van die bevolking uitmaak.

Maar die Wêreldgesondheidsorganisasie voorspel die getal bejaardes in ons bevolking sal teen 2050 meer as verdubbel het tot meer as 10 miljoen mense ouer as 60.

Daarom is Japan se ouderdomsbelasting dalk iets wat ons sal moet oorweeg.

Dit word vir elke werker ouer as 40 en vir elke pensioentrekker gehef om ’n ver­sekeringskema vir langtermynsorg te finansier wat dekking bied wanneer hulle te swak raak om hulself te versorg. Die skema het jare lange beplanning geverg en sou in Suid-Afrika veel gevra wees vir mense wat reeds finansieel swaarkry.

Maar wat kan ons nog by Japan leer oor wat die toekoms dalk vir ons inhou?

Die tsoenami van veroudering

Die luidsprekers is verreweg nie die mees Orwelliaanse aspek van die land se reaksie op die tsoenami van veroudering nie.

Yukari Sekiguchi, die direkteur van die Shintomi-verpleeginrigting in Tokio, voorsien ’n wêreld waarin almal elektronies gemonitor sal word.

“Hier is baie woonstelle waarin bejaarde burgers alleen woon,” sê sy sag, haar oë besorgd.

“Party kom hierheen vir rehabilitasie, maar wanneer hulle huis toe gaan, weet ons nie hoe hulle oorleef nie.”

Yukari, ’n fyn donkerkopvroutjie in ’n blou hemp met pragtig geborduurde blomme, vertel haar personeel het ­onlangs ’n 70-jarige vrou wat alleen woon, gered nadat sy twee dae se pille op een slag gedrink het.

Blykbaar is dit ’n taamlik algemene verskynsel. Het hulle geen familie wat na hulle kan omsien nie? vra ek. Yukari trek haar skouers op.

“Die families woon ver,” sê sy stroef.

Verbrokkelde steunstelsels

In Japan was dit altyd tradisie dat familielede mekaar versorg. Maar toe meer vroue begin werk en die jonger generasies stede toe trek om werk te soek, het dié steunstelsel verbrokkel.

Deesdae woon dubbeld soveel Japannese alleen as 30 jaar gelede, en enkel­lopendes maak sowat ’n derde van huishoudings uit. Eiendomspryse in baie stedelike gebiede is hemelhoog en verplig mense om in klein woonstelletjies te woon met te min plek vir ouma.

In die Shintomi-tehuis beproef Yukari ’n verskeidenheid tegnologieë om ’n oog te hou oor die inwoners, van wie die meeste in hul laat 80’s is.

Snags is net een personeellid op elk van die agt verdiepings aan diens, maar elke bed is met ’n elektriese sensor onder die matras toegerus. Dié toestel kan ’n verandering in iemand se asemhalingspatroon bespeur en bepaal of iemand wakker is of slaap.

Dit kan ook beweging op die vloer waarneem. Wanneer iemand uit die bed klim, waarsku die stelsel die nagpersoneel.

Soortgelyke stelsels word nou vir gebruik in huise ­ontwikkel.

Een daarvan is Owlsight, wat in­fra­rooitegno­logie gebruik. Dit word as minder steurend beskou as ’n volledige kringtelevisiekamera in elke vertrek.

En onlangs het dit bekend geword die tegnoreus Apple het aansoek ­gedoen om ’n patent vir ’n “slim” bed­laken wat ­mediese probleme en slaappa­trone tuis kan mo­nitor.

’n Ander moontlike oplossing vir die probleem van bejaardesorg weens ’n tekort aan menslike arbeid is robotte. Die Japannese regering voorspel daar gaan teen 2025 ’n tekort aan 380 000 sorgwerkers wees, ’n situasie wat ver­erger word deur sy historiese onwilligheid om immigrante toe te laat.

“Selfs nou verkies ons robotte bo Filippyne,” sê ’n kenner vir my en skud sy kop uit frustrasie.

Daarom word openbare subsidies in die ontwikkeling van oulike “met­geselrobotte” gestort.

Een, ’n aaklige blink bal genaamd Cocotto, met ’n gesig wat spook­agtig beweeg terwyl dit rol, word as ’n opvoedkundige maat vir kinders verkoop.

In ’n wêreld waar ouers harder moet werk om die belasting vir bejaardesorg te betaal, is robot­kinderoppassers dalk die ding van die toekoms. My eie kinders sou beslis baie ver vir dié skepsel weggehardloop het!

Die robotte wat vir senior burgers ontwerp is, lyk baie vriendeliker.

'Robbie'

RoBoHon is byvoorbeeld ’n swart-wit figuur van plastiek, sowat 20 cm hoog en met ’n oulike aapagtige gesiggie.

Dit kan op ’n bejaarde se bedkassie sit en vrolike opmerkings maak om hulle uit die bed te laat opstaan. Soos: “Jy het lank laas uitgegaan. Sal ons ’n entjie gaan stap?”

Dit gebruik kunsmatige intelligensie (KI) om te leer, en stem- en gesigsherkenning om mense te identifiseer. En dit kan selfs uitwerk waar in die vertrek jy is en na jou toe beweeg.

“Dankie dat jy my oppas, Robby,” sê die glimlaggende gryskopvrou vir haar robotvriend in die bemarkingsvideo wat by die Universiteit van Nagoya vir my gewys word.

Hier doen wetenskaplikes baanbrekerswerk oor KI-tegnologie. Takayuki Morikawa, ’n professor aan die universiteit, het vasgestel RoBoHon kan gemoedeliker as slimfoonskerms vir bejaardes wees.

“Robby” kan nog nie ’n normale gesprek voer nie. Sy skeppers – ek huiwer om “sy” te sê, maar dit lyk of almal wat met robotte werk hulle op die ou end in menslike terme beskryf – werk egter daaraan om die KI sover te ontwikkel dat hy gemoedstemmings sal kan peil en so kan bepaal watter kommentaar om te ­lewer.

Hy sal dit dalk kan doen deur stresvlakke danksy ander toestelletjies waar te neem.

Die Japannese ontwikkel byvoorbeeld ’n leunstoel wat bejaardes se breingolwe monitor terwyl hulle daarin sit. Robby sal met die stoel in verbinding kom, jou stresvlakke naspeur en ’n kalmerende gesprek met jou aanknoop.

Meubels wat elke beweging van jou waarneem en ’n plasiekrobot wat hom as ’n vriend voordoen, is genoeg om baie van ons se stresvlakke permanent hoog te hou.

Maar in Japan is ek uitdrukkingloos aangestaar toe ek vra wat sou gebeur as ’n bejaarde weier om enige van dié toestelle in die huis te hê of nie daarvan hou nie.

En dis duidelik dié tegno­logieë sal lewensbelangrik wees vir mense wat onafhanklik wil bly pleks daarvan om in ’n verpleeginrigting te ­beland.

Wanhoop oor dalende geboortesyfers

Want hulle kan duidelik nie verwag dat hul kinders en kleinkinders hulle moet versorg nie. In Japan, soos die geval in vele ryk nasies is, leef mense langer, maar daal die geboortesyfer.

Elke kenner met wie ek praat, is wanhopig hieroor. Een vrees die Japannese nasie kan selfs uitsterf. Die deursneevrou het nou 1,4 kinders, ver onder die vervangingsyfer van 2,1 wat nodig is om die bevolkingsgroei bestendig te hou.

Die dalende geboortesyfer word aan twee dinge toegeskryf: finansiële probleme en vroulike emansipasie.

“Dis moeilik,” sê ’n Japannese vrou wat met ’n Nieu-Seelander getroud is.

“Baie van my vriende is baie ernstig oor hul loopbaan – en dis hul keuse. En hulle gaan hulle nie bemoei met ’n man wat nie die broodwinner kan wees nie.”

My pa, wat op 86 dood is, het altyd gesê kla is een van die laaste plesiere wat vir stokoues oorbly.

Ons Westerlinge het dalk robotte nodig wat ons pessimisme kan deel.

Douglas Adams het iets beetgehad toe hy Marvin the Paranoid Android vir The Hitchhiker’s ­Guide to the Galaxy ontwerp het: “ ’n Brein die grootte van ’n planeet, en hulle vra my om ’n stuk papier op te tel . . . noem jy dit werkbevrediging?”

Die Japannese toekomsvisie herinner my ook ongemaklik baie aan The Truman Show, die rolprent waarin Jim Carrey ontdek sy lewe is deel van ’n jare lange televisiereeks met miljoene kykers. Wil bejaardes regtig met dié vlak van waarneming saamleef?

Sover ek kon sien, is Japannese skynbaar doodgelukkig om met volkome positiewe robotte saam te leef.

Pepper

In ’n winkel in Kyoto groet ’n hominoïedrobot (masjienmens) van 1,5 m lank my. Sy naam is Pepper en hy lyk ’n bietjie soos ’n wit plastiekweergawe van C-3PO van Star Wars.

Met diep, donker oë en ’n skril giggelstem is hy hoofsaaklik daar om ons in die tou te vermaak. Maar in party sorgsentrums vir bejaardes neem Pepper-robotte nou die leiding in oefenklasse.

Om een van dié klasse by die Shintomi-­verpleegtehuis by te woon, is ’n on­werklike ervaring.

Party van die vroue ry in hul rolstoele vorentoe om nader aan hom te wees en boots gretig sy arm­bewegings na. Een vat aan sy kop en lag ingenome toe hy omdraai en met haar praat.

Van die ander, soos die drie bejaarde mans in die vertrek, stel skynbaar meer in hul middagete belang. Niemand kyk na die twee menslike personeellede aan weerskante van Pepper wat sy bewegings staan en namaak en aanmoedigend vir die groep oues glimlag nie.

“Die bejaardes is gewilliger om Pepper na te boots as om met menslike fisio­terapeute saam te werk,” verduidelik ’n versorger.

Hy vertel vir my Pepper het ’n depressiewe vrou uit haar dop laat kruip: Sy het altyd haar gesig van almal weg­gedraai, maar het weer begin kommu­nikeer. Yukari dink dit het dalk iets met sy spraakpatrone te doen.

“Pepper se ritme klink soos die bejaardes s’n, veral dié met demensie,” verduidelik sy.

Sake is ’n bietjie te ver gevoer toe ’n Pepperrobot in priestersgewaad by Endex 2017, ’n begrafnis- en sterftediens-ekspo in Tokio, sy verskyning maak.

Sy makers het gesê hulle probeer nie die werklike priester vervang wat begrafnisrituele uitvoer nie, maar die robot kan Boeddhistiese soetras dreunsing vir arm families wat nie die menslike weergawes kan bekostig nie.

Dis nog ’n vreemde uitwerking van die verouderingsramp.

Met dié dat sterftes die geboortes oortref, sou jy dink begrafnisondernemers sou ’n vet slag slaan uit die 1,3 miljoen mense wat elke jaar in Japan sterf.

Pleks daarvan bespaar families die afgelope paar jaar op begrafniskoste deur goedkoper kiste en grafstene te kies. Sowat 8 persent van bejaarde Japannese wil nou glad nie ’n begrafnis hê nie.

As jy koste wil besnoei, is dit beslis goedkoper om ’n opname te speel as om ’n Pepperrobot te huur. ’n Robot kan ook nie gevoel uitdruk nie.

Die Japannese praat baie oor robotte wat ons emosies aanvoel: Volgens die vervaardiger Softbank Robotics is Pepper “die eerste hominoïedrobot wat die vernaamste menslike emosies kan herken en sy gedrag by die bui van sy gespreksgenoot aanpas”.

Hoe uit­sonderlik dié prestasie ook al is, dit maak Pepper nog nie ’n emosionele wese nie. Ons kan nie menslikheid toeskryf aan elektroniese toestelle wat met plastiek oorgetrek is nie.

Of kan ons?

Ons sal ophou om met ­mekaar te praat

In haar boek Alone Together: Why We Expect More from Technology and Less from Each Other beweer die sielkundige Sherry Turkle hoe meer ons menslike eienskappe op robotte projekteer, hoe minder verwagtings sal ons van ander mense koester.

“Vriendelike robotte kyk ons in die oë, praat met ons en leer ons herken,” skryf Sherry.

“Hulle vra ons om hulle te ver­sorg; in antwoord daarop verbeel ons ons dat hulle ons op hul beurt sal versorg.”

Een van die nagevolge daarvan, meen Sherry, is dat ons sal ophou om met ­mekaar te praat. Sy is veral bang ons sal ophou luister na wat ons bejaardes te sê het.

Die middeweg vir gemeganiseerde kameraadskap is die robotdiere wat skynbaar ’n betowerende uitwerking op bejaardes met demensie het.

Aibo, ’n hondagtige sorgrobot, waai sy stert bekoorlik, maar is nie wollerig nie – dit is van harde, grys plastiek gemaak.

Die onweerstaanbare Paro

Paro, ’n wollerige robot wat sy lang wimpers knip wanneer jy hom streel, is onweerstaanbaar. Dit word reeds in versorgingstehuise in Denemarke en Amerika gebruik.

Ek kyk verwonderd toe terwyl drie bejaarde Japannese vroue hul Paro’s streel.

“Sy luister na my,” fluister een, so klein, sy kan skaars by die tafel bykom.

“Sy rea­geer op my.”

’n Ander vrou met ’n goue­raambril wat op 82 op en wakker lyk, verduidelik sy verkies Paro die rob bo Aibo die hond, want sy was nog altyd ’n katmens.

“Ons het katte gehad tot aan die einde van die oorlog,” vertel sy.

“My ma was as die Katvrou bekend. Toe kom die hongersnood en ons kon hulle nie meer hou nie.”

Sy spring terug na die hede en raak ondeund.

“Wanneer ek haar op haar gesig tik, huil sy,” sê sy en wys vir my hoe. Sy weet duidelik Paro is ’n robot, maar dit lyk of die werklikheid vir die ander twee vroue wasig is.

Paro is ’n uitvindsel van Takanori Shibata, die hoof senior navorsingsweten­skaplike by Tsukuba se Nasionale Instituut vir Gevorderde Nywerheids­wetenskap en -tegnologie.

Hy het ’n rob gekies omdat mense minder verwagtings daarvan koester as van troeteldiere soos honde en katte; daarom is daar ’n groter kans dat hulle ’n band daarmee sal smee. Hy het Kanada toe gegaan om regte robbe in aksie te sien en opnames van Kanadese saalrobbe gemaak om Paro se geluide te skep.

Daar is al bewys dat die rob angstigheid en depressie verlig, en selfs pyn tydens chemoterapie. Dit is so doeltreffend om party demensiepasiënte te kalmeer en te keer dat hulle wegdwaal dat dit in sommige gevalle selfs psigotrofiese middels ­vervang.

Hierdie skepsels verskaf beslis ’n vlak van vertroosting wat besige mense­personeel nie kan bied nie. En wat is in elk geval die alternatief?

As die Japannese bevolking aanhou om teen die huidige tempo te verouder, sal daar eenvoudig nie genoeg mense wees om na bejaardes te luister nie. 

Kopiereg: The Sunday Times Magazine/News Licensing; FOTO'S: GALLO IMAGES/REUTERS, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES
Troetelrobotte in Amerika

By Benchmark Senior Living in Plymouth Crossings in Massachusettes word daar gefokus op "geheuesorg" en inwoners wat aan demensie ly, kry die geleentheid om met troetelrobotte te speel.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe