Sedert Daphne Neville (82) Bee die otter in 1980 gered het, het sy al 'n paar van dié diere aangehou. Die ouma van vier van Stroud, Brittanje, hou haar otters in ’n spesiale hok in haar tuin aan en laat hulle selfs soms toe om by haar in die bed in te kruip.
Daphne, ’n aktrise en skrywer, sê haar huidige en tiende otter, Rudi, sit graag op haar skouer terwyl sy ontbyt maak of skottelgoed was.
“Otters is ongelooflik liefdevol," sê sy. "Hulle is baie sensitief en menslik en hulle is goed daarmee om te wys wat hulle wil hê.
“Rudi help my graag opwas of kos maak. Hy sal op my skouer sit terwyl ek skrop en soms sal hy selfs in die wasbak induik.
“Wanneer hy op my skouer is wanneer ek kos maak, snuffel hy lekker rond.
“Maar ek moet seker maak hy is onder beheer wanneer hy in die huis is, want hy het 'n paar keer by die kaste probeer inkom en dit kan tot 'n chaos lei.”
Daphne het Bee in 1980 aangeneem terwyl sy teen besoedeling in Brittanje se riviere ’n veldtog gevoer het. Bee is oorspronklik ingespan om vir ministers te wys watter uitwerking besoedeling op otters het en hy is vir publisiteitsgeleenthede gebruik.
Maar Daphne en haar man, Martin, het ’n sagte plekkie vir Bee ontwikkel en sedertdien het hulle nege otters versorg: Mr. Bee, Mr. Bumble, Bitty, Beenie, Bertie, Belinda, Toby, Phoebe en Rudi.
Rudi bly in ’n veilige hok by Daphne se watermeul wat deur die omgewingsagentskap goedgekeur is. Die dier word salm gevoer wat Daphne in vyf reusevrieskaste hou.
Otters word volgens Britse wetgewing as gevaarlike diere geklassifiseer. Dit beteken Daphne moet streng riglyne volg wanneer sy Rudi versorg. Tog laat Daphne Rudi ’n halfuur per dag toe om op haar skouer te sit terwyl sy haar dagtake verrig.
“Ons gaan voer die swane en ander diere by die meul. Hy hou nie daarvan om heeltyd in sy hok te wees nie. Hy geniet dit om op my skouer te sit wanneer ek opwas of kos maak,” sê Daphne.
“Dis ’n groot verantwoordelikheid om hulle aan te hou en ek is gelukkig ek kon dit doen. Om ’n otter aan te hou, is ’n bietjie soos om ’n kind te hê en beslis duurder, maar elke sent werd.
“Ek hou hulle al 40 jaar aan en geniet elke oomblik. Ons het Bee gekry en toe besluit om ’n maat vir Mr. Bee te kry, maar hulle het nie gepaar nie. Van toe af was ek verslaaf.
“Nie baie mense het veel met hulle te doen nie, maar as jy ’n wees otter kry, raak jy baie geheg aan hulle.”
Daphne sê otters het oor die jare ’n groot rol in haar lewe gespeel en sy het hulle selfs soms in haar bed laat slaap. “Toe my man by die huis aan kanker sterwend was, het die otters ingekom en vir hom kom hallo sê. Hulle was in sy laaste dae daar en ek weet hoe lief hy vir hulle was.
“Wanneer 'n otter klein is, sal ek hulle saam met my bed toe vat om te sorg dat hulle warm bly. En soms sal ek hulle weer inbring wanneer hulle die einde van hul lewe nader.
“Hulle is ’n vreugde en ek hoop ek kan ’n liefde vir die natuur aan mense oordra.”
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET